Soek in vorige Kruisgewyse

Wie's hier?

Ons het 25 gaste aanlyn

Besoekers

mod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_counter
mod_vvisit_counterVandag160
mod_vvisit_counterGister309
mod_vvisit_counterHierdie week160
mod_vvisit_counterVerlede week1818
mod_vvisit_counterHierdie maand5632
mod_vvisit_counterVerlede maand8577
mod_vvisit_counterAlle dae602190

Aanlyn (20 minute gelede): 6
Jou IP: 54.172.234.236
,
Today: Jul 21, 2019

Ons moet ook kennis neem van die invloed wat grondhervorming het op klein gemeentes. Lees ook die grondstorie van Tobie Wiese.

Hier is 'n berig in die Beeld (5 Maart 2007) wat iets van die nood verwoord in die NG Kerk Oos-Transvaal.

Kyk 'n mens na 'n kaart van Mpumalanga waarop die dele aangedui word wat deur grondeise geraak word, is daar min wat van die provinsie oorbly.

Hele plattelandse gemeenskappe word ingrypend daardeur geraak en die kerk wat hulle bedien, uiteraard ook.

Ds. Henry van der Schyff, uitvoerende amptenaar van die NG Kerk se Oos-Transvaalse sinode, sê een vlak waarop die kerk geraak word, is deurdat lidmate se sekerhede en uiteindelik selfs hul geloof aangetas word.

Uit gesprekke met dominees en uit 'n sinodale verslag oor die situasie kom 'n prentjie na vore van sommige lidmate - nie almal nie - wat soos die Bybelse Job in 'n worsteling met God gedompel word.

Mense wat geslagte lank op een plaas boer, wie se hele lewe in die landbou gewortel is, voel hulle word van dit alles ontneem.

Ds. Hancke van Blerk, predikant van Piet Retief, verwys na die sielkundige Maslow se teorie van menslike behoeftes. Op die heel basiese vlakke - die behoeftes aan kos en klere, aan die sekuriteit van woonplek - dáár word mense getref, sê Van Blerk.

Dié ondermyning van sekerhede gebeur op verskillende maniere.

Van Blerk vertel van 'n boer wat sy grond aangebied het vir grondhervorming, maar dat die proses so gesloer het dat die eiendom later heeltemal deur vandale geplunder is, sonder dat die saak afgehandel is.

Dié tema, van boere wat met die proses wil saamwerk, maar gefrustreer word deur burokratiese onbeholpenheid, duik telkens op.

Ds. Erik Botha van Badplaas vertel van boere wat ingewillig het om afstand te doen van hul grond en in afwagting van die proses opgehou boer het.

In die twee, drie jaar se wag vir die afhandeling van die proses het hulle geen inkomste gehad nie en is hulle in skuld gedompel.

Dan is daar ook faktore buite die wetlike grondhervormingsproses, soos boere wat vermoor word, mense wat gedreig word, selfs twee maal met 'n lem teen die keel in die geval van een lidmaat.

Dis in sulke omstandighede, waar party lidmate voel hulle word deur God verlaat, dat die kerk hulle wil help om in die geloof aan Hom te bly vashou.

Aan die hand van Bybelboeke soos Job en die Psalms, wil die kerk lidmate help om deur die krisisse te kom, om in geloof met God te worstel totdat hulle berusting in Hom vind.

'n Tweede vlak waarop die kerk geraak word, is in die onderlinge verhoudings tussen lidmate.

Botha sê naas die spanning waaraan elke boer deur die proses onderwerp word, gebeur dit ook dat spanning tussen mense ontstaan omdat hulle die proses verskillend hanteer.

Party mense wil die grondeise op hul grond teenstaan terwyl ander met die grondeisekommissaris wil saamwerk en hul grond van die hand wil sit.

Op dié manier kan daar twee kampe in die gemeente ontstaan.

Ds. Pieter Dorey van Kampersrus by Hoedspruit sê in hul omgewing wou al die boere - dié wat wou verkoop en dié wat die eise wou teenstaan - in een komitee met die grondeisekommissaris onderhandel.

Dié het egter geweier en die boere is in twee groepe verdeel, met die gevolg dat spanning tussen die groepe ontstaan het.

'n Sinodale besprekingsdokument sê wanneer grondeise geregistreer word, bring dit onmiddellik onsekerheid wat veroorsaak dat 'n gemeenskap wanfunksioneel word.

"Mense begin veg vir oorlewing en dit lei tot openbare benadeling van ander mense in die gemeenskap . . . mense maak hulle selfs los van alle bande wat hulle bind. Die gevolg is dikwels eensaamheid en isolasie (vervreemding). Dit is baie sleg vir alle verhoudinge."

Die weerstand in plattelandse gemeentes teen kerkeenheid word ook minstens deels hieruit verklaar.

Van Blerk sê die kerk kan vergeet van kerkhereniging as goed soos plaasmoorde, misdaad en die verkeerde hantering van grondhervorming nie opgelos word nie.

By hulle, sê Van Blerk, het lidmate geen beswaar daarteen as 'n swart persoon 'n erediens by hulle wil bywoon nie.

Mense is ook nie teen grondhervorming as sodanig nie. In die lig van wat in Zimbabwe gebeur het, besef hulle 'n mens kan die proses nie uitstel nie, anders oorval dit jou later.

Die verkeerde hantering van die grondhervormingsproses doen egter baie skade aan gesindhede oor kerkeenheid.

Vir die kerk is daar teen dié agtergrond 'n groot uitdaging om aan onderlinge verhoudinge te werk.

'n Derde vraag voor die kerk is hoe die kerk sy lidmate kan help om te midde van die gespanne situasies waarin hulle hul bevind, 'n Christelike getuienis uit te leef.

Predikant ná predikant vertel hoe hulle lidmate probeer help om 'n positiewe gesindheid te probeer behou - en hoe moeilik dit gemaak word deur die behandeling wat hulle soms van grondeisekantore kry.

Van die amptenare, sê Van der Schyff, behandel die boere asof hulle misdadigers is.

Teen dié agtergrond word daar van kerkleiers verwag om helder en duidelik met die regering te praat oor lidmate se klagtes dat hulle in die proses verontreg word.

Luidens die Oos-Transvaalse sinode se besprekingsdokument moet die kerk help toesien dat reg en geregtigheid vir almal geskied.

Daarby moet die kerk ook help om verkeerde persepsies en valse stereo­tipes by sy eie lidmate, in die gemeenskap én by die regering reg te stel.

Terwyl die kerk op dié manier deur sy bediening betrokke is by die grondhervormingsproses en die gevolge daarvan, kom die bediening self ook op die spel. Van der Schyff sê sowat 60 van die 86 gemeentes van die NG Kerk se Oos-Transvaalse sinode lê in die platteland en word deur die proses geraak.

Baie van hulle is klein gemeentes en almal saam het miskien 25% van die sinode se lidmate, maar die bediening in dié gemeentes kan drasties geraak word.

Dit gebeur omdat grondhervorming onder meer tot gevolg het dat lidmate trek.

Die gemeente Hazyview het byvoorbeeld twee jaar gelede nog 360 belydende lidmate gehad, sê Van der Schyff. Nou is daar 240 oor.

By Badplaas, sê Botha, was daar 136 belydende lidmate. Dit het afgekom tot 105 met die vooruitsig dat dit tot 82 kan daal. Dié gemeente kan klaar nie meer 'n volle predikantspos dra nie.

Só 'n verlies van 'n derde van 'n gemeente se lidmate is volgens Van der Schyff "byna fataal".

Dan kom opsies op die tafel soos dat twee of drie gemeentes in kombinasie gaan om saam een predikant te hê of dat 'n dominee ander werk ook moet begin doen om die pot aan die kook te hou.

Van der Schyff sê in Limpopo en Mpumalanga is 88% van bewerkbare landbougrond onder grondeise. As dié grondeise realiseer, gaan die bediening op die platteland ingrypend verander.

Gemeentes soos Komatipoort, Malelane, Letsitele, Gravelotte en Hazyview sal 'n skadu wees van wat hulle nou is.

Nie alle gemeentes loop egter so erg deur nie. Dorey is nie te bekommerd oor sy gemeente se toekoms nie. Min mense wat hul plase verlaat, beweeg weg uit die omgewing. Hulle vind ander werk en bly in die gemeente.

Ds. Japie du Plessis, voorsitter van die plattelandse streek van die Wes-Transvaalse sinode, sê dat die vier plattelandse ringe van die verre Wes-Transvaal ook geraak word- party erger as ander.

Hy noem sommer sonder om te dink tien gemeentes op wat sal sukkel om te oorleef as die grondeise deurgaan.

Die sinode van Oos-Transvaal kom reeds 30 van sy plattelandse gemeentes tegemoet wat hul sinodale bydraes betref. Dit beteken die helfte van die sinode se plattelandse gemeentes se voortbestaan is al in gevaar.

Dit is nie net die NG Kerk wat so geraak word nie.

Die gemeentes van die Verenigende Gereformeerde Kerk loop ook deur omdat baie van hul lidmate plaaswerkers is wat in die proses sonder heenkome gelaat word.

Botha vertel van een plaas waar 300 heeltydse werkers hul werk só verloor het. In seisoentyd het tot 700 werkers 'n inkomste verdien op grond wat nou onbewerk lê.

Daarom dat die NG Kerk en die VGK se leiers die regering saam wil nader.

Hartseer verhale wat illustreer hoe 'n gemeenskap in duie stort, is daar baie. Só word daar vertel van 'n spogplaas naby Hazyview waar daar ook 'n gastehuis bedryf is.

Nadat dit van hande verwissel het, het dit 'n bordeel geword.

Vir lidmate is dit swaar, sê Van der Schyff.

Luidens die sinodale besprekingsdokument is die gevoel van verlies as 'n boer se grond onteien word, vergelykbaar met dié van stedelinge wat hul werk as gevolg van regstellende aksie verloor.

"Dit dompel mense in 'n bestaanskrisis. Vir sommige is dit meer traumaties as vir ander en elke gemeenskap reageer op sy eie manier daarop."

Dis in dié trauma dat die kerk, sover hy kan, saam met sy lidmate wil stap.