Soek in vorige Kruisgewyse

Wie's hier?

Ons het 53 gaste aanlyn

Besoekers

mod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_counter
mod_vvisit_counterVandag239
mod_vvisit_counterGister225
mod_vvisit_counterHierdie week946
mod_vvisit_counterVerlede week1933
mod_vvisit_counterHierdie maand4600
mod_vvisit_counterVerlede maand8577
mod_vvisit_counterAlle dae601158

Aanlyn (20 minute gelede): 5
Jou IP: 34.229.24.100
,
Today: Jul 17, 2019

Daar is 'n opvatting by predikante en lidmate dat groter gemeentes beter en meer dinamies is. Die werklikheid is egter dat die grootte van 'n gemeente nie regtig saak maak nie. Daar is groot gemeentes wat dinamies en lewenskragtig is, maar daar is ook groot gemeentes wat doods en kwynend is. Net so is daar klein gemeentes wat lewenskragtig is, en klein gemeentes wat sterwend is.

Daar is ander faktore wat bepaal of 'n gemeente gaan kwyn of lewenskragtig is. Lewenskragtige gemeentes is dikwels gemeentes wat bereid is om grense oor te steek. Dié artikel wil nadink oor verskillende grense wat kleiner gemeentes behoort oor te steek sodat hulle dinamies en lewenskragtig kan wees en 'n verskil in die wêreld maak.

Opvattings oor klein gemeentes

Klein gemeentes moet leer om anders oor hulleself te dink.

In die verlede het die volgende scenario hom gereeld afgespeel: Gemeentes wat vanweë demografiese verskuiwings ál kleiner word, besef op 'n dag dat hulle nie meer met die bedieningspatroon waaraan hulle gewoond was, kan volhou nie.

Die eerste teken van agteruitgang is gewoonlik gebrekkige finansies. Grootse pogings word dan aangewend met fondsinsamelings. 'n Klein rukkie lank werp dit goeie vrugte af; mettertyd word die lidmate moeg.

Die volgende stap is personeel­vermindering. Die koster en administratiewe personeel word afbetaal. Dikwels is die predikant die enigste betaalde amptenaar wat oorbly, en daarom die een wat alles moet doen, selfs die ander amptenare se werk.

As die vermindering in getalle voortduur, word mettertyd ook van die predikant ontslae geraak, of word die vergoedingspakket verminder. In ander gevalle word van 'n tentmaker-predikant of 'n predikant op 'n termynkontrak kan maak, wat goedkoper is. En as die gemeente aanhou kwyn, word naderhand van geboue ontslae geraak. Uiteindelik is samesmelting of eenwording met 'n buurgemeente die enigste uitweg - of so glo die moedelose kerkraad.

Kerkrade van klein gemeentes moet ophou om bestaande bedieningspatrone in stand te probeer hou. Hulle moet grense begin oorsteek en meer kreatief dink oor 'n bedieningspatroon wat meer geskik is vir klein gemeentes. Kerkrade moet met hulle hele hart begin glo dat getalle nie die "sukses" van gemeentes bepaal nie. Daar is baie voorbeelde van klein gemeentes wat aangepas het, en op 'n goedkoper manier baie suksesvol funksioneer.

Wêreldwyd aanvaar ál hoe meer gemeentes dat daar voordele aan is om klein te wees. Klein gemeentes ontstaan byvoorbeeld wat 'n doelbewuste besluit neem om klein te bly. Hierdie klein gemeentes het dikwels 'n groot aantrekkingskrag vir hulle omgewing en impak daarop. Ten spyte dus van hulle besluit om klein te bly, groei hulle juis. Dan moet hulle vinnig weer planne maak om af te stig, sodat hulle klein kan bly.

Kerkbegrip

Mense glo dat 'n gemeente 'n predikant, 'n kerkgebou en genoeg geld moet hê om werklik 'n suksesvolle gemeente te kan wees. Dit kom egter uit Konstantyn se tyd toe hy die Christendom as staatskerk ingestel het. Die strukture van die kerk het van toe af ál hoe belangriker geword. So ook geboue, predikante en geld.

Dit is egter nie 'n Bybelse kerkbegrip nie. Van die apostoliese tye af was klein gemeentes die norm. In klein gemeentes het almal mekaar geken en nóú met mekaar en met die gemeenskap saamgeleef. Daarom het die klein gemeentes 'n impak op hulle gemeenskappe gemaak.

In hierdie gemeentes was daar nie betaalde predikante nie. Die gawes van lidmate het sterk gefunksioneer. In moderne tye sien ons hierdie manier van kerk-wees veral in China, waar die kerk ongelooflik groei. In China is daar 'n beperking op die aantal persone wat mag bymekaarkom. Daarom word kerke gedwing om klein te bly. Dit is bevorderlik vir die groei en lewenskragtigheid daarvan.

Tradisioneel het kerke volgens die herder-kudde-model funksioneer. Dié model is verstaan asof die predikant die herder is wat vir sy kudde (die gemeente) moet sorg.

In meer onlangse tye het die liggaamsmodel ál sterker begin funksioneer. Dit is dikwels téénoor die herder-kuddemodel as 'n alternatief voorgestel. Gemeentes moes dus 'n keuse maak vir een van die twee modelle. Kleiner gemeentes kies meestal vir die herder-kudde-model.

'n Lewenskragtige gemeente hou egter aan albei modelle vas. Hulle verstaan die Herder is Christus wat vir sy gemeente sorg. Hulle verstaan egter ook dat elke lidmaat 'n herder is wat vir ander moet sorg. Die predikant is nie 'n herder nie. Hy het 'n ander rol. En die gemeente is 'n lewende organisme (die liggaam van Christus), waar elke lidmaat 'n belangrike funksie verrig.

Predikant se rol

Baie mense dink dat die predikant betaal word om die gemeente se werk te doen. Daarom word nie veel gedoen as die predikant die goed nie inisieer of doen nie. Predikante voel dikwels magteloos om dié persepsie te verander. Dit is makliker om volgens hierdie verwagting net hulle werk te doen. So word 'n gemeente in stand gehou waar een persoon byna alles doen, en die ander maar net tevrede gehou word, want hulle word effektief bedien. Van die gemeente se eintlike taak, naamlik om na buite uit te reik, kom nie veel tereg nie.

Klein, lewenskragtige gemeentes het geleer om nie so afhanklik van 'n predikant te wees nie. Hulle het geleer dat die predikant se hooftaak die toerusting van lidmate is om die gemeente se werk te doen (vgl Ef 4:12). Daarom hoef elke gemeente nie sy eie predikant te hê nie. 'n Predikant kan tussen meer as een klein gemeente gedeel word. Trouens, in KwaZulu-Natal word ringe aangemoedig om predikante in diens te neem wat daarin kan spesialiseer om lidmate toe te rus as predikers, pastors of leiers.

Omdat lidmate egter gewoond is daaraan dat predikante byna alles doen, is die oorskryding van hierdie grens nogal moeilik.

Predikante sal altyd nodig wees, maar dan in 'n ander rol as dié een wat alles in die gemeente moet doen. Hierdie grens kan slegs oorgesteek word waar predikante nie stagneer nie en bereid is om verder begelei te word op 'n pad van verandering. Predikante moet bereid wees om die bediening van die gemeente as' t ware aan lidmate weg te gee.

Lidmate se rol

Lidmate is God se gawes aan die gemeente. Elke gelowige is geroep om in diens van die Koninkryk te staan en sy of haar gawes tot voordeel van ander te benut. Dit is lidmate wat hulle geloof met ander deel wat 'n verskil in die gemeenskap kan maak.

Nogtans is baie lidmate tevrede om nie veel te doen nie. Hulle is gelukkig as ander hulle bedien. Hulle koppe sal ál hoe meer geswaai moet word om te verstaan dat hulle diensbaar moet wees en self moet inklim om die evangelieboodskap uit te dra.

Waar lidmate die werk van die gemeente doen, kan klein gemeentes werklik tot hulle reg kom.

Verandering

Weerstand teen verandering is normaal, dit is deel van enige sisteem. Ook in gemeentes is daar 'n natuurlike weerstand teen verandering. Die kerk se opdrag is egter om te groei om ál meer te word soos Christus - en dit beteken verandering. Klein gemeentes wat dit regkry om die natuurlike weerstand teen verandering te deurbreek, se kanse om sterk en lewenskragtig te wees, is net soveel beter.

Leierskap

Leiers moet 'n sterk visie hê. Hulle moet voorloop en rigting gee. Hulle moet ook verhoudings bou.

Die eerste grens wat klein gemeentes moet oorsteek, is die opvatting dat die leierskap van die gemeente net in die predikant gesetel is. Die Here het aan elke gemeente gelowiges gegee met die gawe van leierskap. Kleiner gemeentes wat hulle leiers ontwikkel en benut, bly lewenskragtig en gesond.

Verhoudings

In die post-moderne wêreld begin verhoudings ál hoe belangriker vir mense word. Juis klein gemeentes bied die geleentheid vir mense om intieme verhoudings te vestig en sáám dinge te doen. Selfs groter gemeentes besef hoe belangrik verhoudings is. Daarom funksioneer hulle ál meer in kleingroepe.

Waar klein gemeentes die grens van individualisme na gesamentlikheid oorsteek, funksioneer hulle op hulle beste.

Prosesse

In klein gesonde gemeentes is daar voortdurende gesprekke oor God, identiteit, roeping en die bediening. Hierdie prosesse kan óf spontaan óf met fasilitering plaasvind. Gemeentes wat voortdurend daaraan herinner word dat hulle God se voertuig na die wêreld toe is en wat dus nie na binne gekeer is nie, sal altyd lewenskragtig bly voortbestaan.

Ben van Dyk is Predikant in sinodale diens in KwaZulu-Natal met opdrag Gemeen­te­be­­die­ninge en On­der­steu­nings­­dien­ste.