Soek in vorige Kruisgewyse

Wie's hier?

Ons het 65 gaste aanlyn

Besoekers

mod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_counter
mod_vvisit_counterVandag240
mod_vvisit_counterGister225
mod_vvisit_counterHierdie week947
mod_vvisit_counterVerlede week1933
mod_vvisit_counterHierdie maand4601
mod_vvisit_counterVerlede maand8577
mod_vvisit_counterAlle dae601159

Aanlyn (20 minute gelede): 4
Jou IP: 34.229.24.100
,
Today: Jul 17, 2019

Elke voorstad van Suid-Afrika se demografie het die afgelope 10 jaar ingrypend verander. Dit is nie meer vreemd om swart mense of ander kulture as bure te hê nie. In ʼn gegoede voorstad van byvoorbeeld Durban, woon daar in een straat gewoonlik ʼn paar blanke Engelsprekendes, ʼn paar Indiërs, ʼn paar Zoeloe-sprekendes, en hier en daar ʼn blanke Afrikaanse gesin. Die voorstede regoor Suid-Afrika het verander - selfs in kleiner dorpe.

Die vraag is: Moet die kerk ook verander?

Dát die kerk nie verander nie, is natuurlik vir sommige lidmate goeie nuus. Die kerk is vir hulle by uitstek ʼn baken van standvastigheid en stabiliteit in ʼn onsekere wêreld vol hoë eise en dikwels chaos. Die diepste oortuiging by hierdie lidmate is dat die kerk ʼn hawe is waar ʼn mens veilig en beskut kan voel - veral teen al die euwels en maalkolk van veranderinge in die wêreld.

Dat die kerk nie verander en aanpas by die tye nie, is natuurlik weer vir ander lidmate ʼn saak van kommer. Is ons nie besig om onsself te isoleer nie? Eien ons nie God vir onsself toe ten koste van ander mense nie? Leer ons ons kinders reg as ons kerk hou op ʼn manier wat mense op grond van taal, kultuur en ras skei? Vir hierdie lidmate is die kerk nie net ʼn hawe van beskutting nie, maar die instrument waardeur God die nood in die wêreld wil bereik. Die kerk is Jesus Christus se liggaam wat bestaan en leef nie ter wille van haarself nie, maar ter wille van die wêreld.

Hoe nou gemaak in ʼn voorstad waar dinge besig is om vinnig te verander en daar twee ekklesiologieë in lidmate se harte leef? Gaan een ten koste van die ander gehoor en gevolg word of is daar ʼn ander uitweg?

Dr. André Bartlett het onlangs by die Forum for Intercultural Ministries (FIM) van die NG Kerk, kom saam nadink oor Suburbia and Intercultural Ministries - soos die tema van die konferensie was. Sy bydrae was baie insiggewend en daar is twee sake wat hy uitgelig het wat perspektief bied op die bogenoemde vraag:

  • Eerstens die ontstaan en funksionering van die hele verskynsel van voorstede;
  • en tweedens die plek van interkulturele bediening in só ‘n konteks.

Oor die verskynsel van voorstede het Bartlett dit uitgelig dat die voorstede ontstaan het (in Johannesburg byvoorbeeld) om weg te kom van die geraas en stof van die mynkampe. Voorstede moes veilige, mooi verblyf vir gesinne weg van die werkplek se stres en lawaai verskaf. Hier moes nie nywerhede en te veel besighede wees nie, maar wel skole en kerke. Die gesin se privaatheid en waardes moes deur die voorstede beskerm word, en van die kerk in die voorstad is verwag om hierby in te val. Dikwels was hierdie waardes nie in lyn met die waardes wat die kerk self wou verkondig nie, naamlik die isolering van gesinne van die gemeenskap om hulle, die verbruikersmentaliteit wat oorheers, die onttrekking van sosiale realiteite en ongeregtighede wat dikwels baie meer opvallend op die markplein (en in die mynkampe) is. Voorstede moes nog altyd as rustige veilige woonarea funksioneer en só ʼn idilliese wêreld binne die wêreld skep.

As voorstede dus verander wat die kultuursamestelling betref, word dit gou as bedreigend ervaar. Mense trek weg na waar hulle eie kulture is, of mense isoleer hulle nog meer van die nuwe intrekkers wat as indringers beskou word. Interessant genoeg reik die nuwe mense, die vreemdes in die ou omgewings, dan uit na mekaar en vorm nuwe subgemeenskappe.

Op hierdie punt lyk dit of die kerk deur sy multikulturele bedieninge ʼn aanknopingspunt kan kry. Die meeste bedieninge in die NG Kerk wat multikultureel funksioneer, is bedieninge wat hierdie nuut saamgestelde gemeenskappe ondervang. Gewoonlik gebeur dit in die middestad, soos byvoorbeeld in Windhoek (Andrew Murray gemeente) en in Pretoria (Arcadia Faith Community) waar ʼn verskeidenheid nuwe kultuurgroepe intrek en dan saam groepeer en tuiskom by die kerk. In die voorstede gebeur dit ook, maar op ʼn kleiner skaal. In ʼn voorstad soos Amanzimtoti word die Engelse erediens byvoorbeeld bygewoon deur Engelstalige blankes (met hulle Afrikaanse familie) en ʼn groep van swart mense wat dít in gemeen het dat hulle nie Zoeloes is nie. Hulle praat Sotho, Tswana of ander inheemse tale, maar hulle moedertaal is nie Zoeloe nie en hulle gemeenskapslewe is die van Amanzimtoti en nie van byvoorbeeld KwaMakhutha nie.  Hierdie soort nuwe "subgemeenskappe" begin waarskynlik al meer in alle voorstede van die land ontstaan en hulle het nie ʼn onmiddellike, nabye of "natuurlike" heenkome soos baie ander kultuurgroepe in die voorstede nie.

Voorstede (spesifiek die voorheen blanke voorstede) bestaan dus waarskynlik uit ʼn groep wat reeds by die kerke in die voorstad inskakel (dikwels net Engelstalige en Afrikaanse kerke), groepe wat uitry terug na voorstede waar hulle voorheen gewoon het om daar kerk by te woon (byvoorbeeld van Houghton terug na Soweto), groepe wat ry na nuwe kerke met ʼn spesifieke soort teologie en assosiasie (soos Rhema in Randburg en in Durban die Ethekwini Community Church van Vusi Dube), en dan is daar dikwels hierdie nuwe subgemeenskap van vreemdelinge wat nog nêrens ʼn tuiste gevind het nie. In die middestad groepeer hulle makliker, maar hulle woon ook in die voorstede en het ʼn behoefte tot gemeenskap.

As die kerk dus oor sy bediening in die voorstad nadink, is die vraag natuurlik of die kerk net die waardes nastreef van wat onderliggend aan die hele konsep en bestaan van ʼn voorstad lê, en of die kerk bereid is om ander waardes te verkondig en na te streef? Sal dit ʼn kerk kan wees wat die isolasie en privaatheid van die voorstad kan oorkom en ʼn ware gemeenskap kan vorm? ʼn Gemeenskap waar juis die vreemdelinge kan tuiskom?

Dit is dalk belangriker om hieroor na te dink op teologiese vlak as op praktiese vlak. Dikwels spring ons op praktiese vlak net na kortstondige kitsoplossings en las ʼn Engelse diens of ʼn multikulturele erediens by ons kerk se aktiwiteite. Dit raak dan op die lange duur ʼn soort ongemaklikheid wat moeilik is om te bestuur in terme van lokale en tyd en personeel. ʼn Ander gevaar (waarop Bartlett byvoorbeeld ook gewys het) is om ʼn multikulturele bediening na te streef asof dit ʼn doel in sigself is. Dit is nie waarvoor die kerk geroep word nie, maar om iets van God se teenwoordigheid in hierdie wêreld sigbaar te maak - op alle vlakke van die samelewing en nie net met kerklike aktiwiteite nie. Die kerk moet eerder ʼn unieke presence in die wêreld hê deur ʼn unieke gemeenskap te wees. Somtyds kan dit beteken om in ons bediening multikultureel te raak. Mag ons dan die moed hê om dit te doen en vreemdelinge te verwelkom.

Uit Bylaag 1 van DEMOGRAFIESE EN KONTEKSTUELE UITDAGINGS VIR GEMEENTES IN DIE NG KERK IN SA.