Soek in vorige Kruisgewyse

Wie's hier?

Ons het 31 gaste aanlyn

Besoekers

mod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_counter
mod_vvisit_counterVandag245
mod_vvisit_counterGister225
mod_vvisit_counterHierdie week952
mod_vvisit_counterVerlede week1933
mod_vvisit_counterHierdie maand4606
mod_vvisit_counterVerlede maand8577
mod_vvisit_counterAlle dae601164

Aanlyn (20 minute gelede): 6
Jou IP: 34.229.24.100
,
Today: Jul 17, 2019

Die gereformeerde kerke in Suid-Afrika is besig om te verander, of het klaar anders geword.

Twee groot tendense is opvallend. In die metropole groei groot gemeentes. Hulle noem hulleself vernuwend, en kyk nie om nie. Oënskynlik is dit die nuwe pad van die kerk. Maar in die platteland en op plekke in stede is kleiner gemeentes in 'n oorlewingstryd gewikkel.

In dié uitgawe van Kruisgewys word gedink oor die toekoms van kleiner gemeentes. Agtergrond inligting vir hierdie Kruisgewys

Wat gaan word van die gemeentes wat eens so 'n integrale en prominente rol in ons gemeenskappe gespeel het? Vir 'n oud-plattelander is dit 'n mengsel van nostalgie en bietjie hartseer. Gaan dié gemeentes in die niet verdwyn, of is ons in 'n proses van iets nuuts wat besig is om vorm aan te neem?

Kleiner gemeentes, veral op die platteland, het verskeie probleme. Groot gemeentes het die laaste jare sonder uitsondering 'n sterk uitreik- en dienskarakter ontwikkel. Mense hou daarvan om deel te wees van 'n kerk wat êrens 'n verskil maak. Klein gemeentes is dikwels só besig met hulle oorlewingstryd, dat die uitreikdeel in die slag bly. Baie klein gemeentes is ook vasgevang in vermoeiende dogmatiese stryde, wat subtiel alles met hulle gevoel van bedreigdheid te doen het.

Leierskap is 'n kritiese faktor in kleiner gemeentes. Waar die leraar se simboliese leierskap in gedrang kom, is daar onrus. Predikante kan nie meer wegkruip agter die toga nie. Predikers wat die teks van die Bybel en die konteks van lidmate nie kan integreer nie, gaan ervaar dat mense nie meer wil kom luister nie. Predikante wat ook nie goeie menseverhoudings kan handhaaf nie, gaan toenemend vereensaam in die beroep.

Myns insiens is dit nie net die proses van verstedeliking wat klein gemeentes erodeer nie. Dit waarmee die gemeentes hulle besig hou, en die leierskap wat hulle toegekom het, is ewe deurslaggewend.  Voeg nog by dat die stille mag van sekularisasie nie een dag oorslaan nie.

Elke bydrae in dié uitgawe van Kruisgewys is uiters relevant. Dit is lekker om van die suksesverhale te hoor. Maar dit is net 'n druppel in die leegwordende emmer. Vir my voel dit of daar radikale veranderinge nodig is. Dat daar groter samewerking, of sterker gestel, saamwees van die susterskerke en die VGK moet kom, is 'n goeie voorstel.

Lees ook hier meer oor die 6 terreine wat die vorige Algemene Sinode van die NG Kerk besluit het nou prioriteitsaandag nodig het in die navorsing oor klein gemeentes.Maar ek dink ook die gereformeerde kerke sal hulle stelsel van beroepe van predikante moet heroorweeg. Om 'n dominee op 'n standplaas te los waar die situasie vir die gemeente en vir hom of haar destruktief geword het, is dwaas en onverantwoordelik.

Klein gemeentes is nie minderwaardig nie. Die kerk word hierin getoets. Kan en wil die kerk radikale aanpassings maak ter wille van sy kleiner gemeentes?

Anton Pienaar, redakteur, Kerkbode, het dié redaksioneel geskryf.