15 November 2010
Posted in
Kruisgewys -
November 2010
“When I give food to the poor, they call me a saint. When I ask why the poor have no food, they call me a communist.” – Dom Helda Camara
Armoede en werkloosheid is een van die sewe groot reuse wat SACLA reeds in 2003 as die grootste uitdagings van ons tyd geïdentifiseer het. Ongeveer 45 persent van Suid-Afrika se inwoners kan as arm beskryf word.
Armoede en werkloosheid is weliswaar iets waarby die onderskeie kerke in ons land geredelik betrokke is. In die 2006 Kerkspieël-ondersoek in die NG Kerk byvoorbeeld het leraars gerapporteer dat 80 persent van gemeentes by die verligting van armoede en werkloosheid betrokke is.
Die vraag is nogtans of die kerk, ten spyte van ’n wye betrokkenheid, genoeg doen, veral as ’n mens bogenoemde aanhaling van Camara in gedagte hou.
Doen ons genoeg om die oorsake van armoede en werkloosheid uit die weg te ruim?
Verbind die armoedesyfer verder aan die feit dat Suid-Afrika ook een van die ekonomies mees ongelyke lande in die wêreld is. Dán begin jy verstaan waarom armoede ook ’n teelaarde is vir die moontlikheid van konflik en geweld.
Daarom dat ons in dié uitgawe oor armoede en misdaad praat.
- Chris Jones pak die bul by die horings deur van die “abstrakte geweld van geld” te praat. Dit is een van die lense wat ons moet aanlê om armoede te verstaan. Die teenstelling is nie tussen arm en ryk nie, maar tussen arm en selfstandig. Volgens dié lens is geweld een van die gevolge van ’n kortsluiting tussen die droom van ekonomiese selfstandigheid en die werklikheid daarvan dat ná 1994 net ’n relatiewe klein groep ekonomies bemagtig is.
- Christo van der Merwe laat die lig val op die geweldige ontreddering wat die blootstelling aan geweld by mense veroorsaak. Die diepte daarvan word telkens beleef in die kreet na waar God dan in die geweld van misdaad is. Een antwoord kan ’n mens vind in die “nuwe storie” van een slagoffer van geweld, Annette, wat betrokke geraak het by die einste sisteem en gemeenskap wat haar in die steek gelaat en vermink het. Deur die polisiekantoor te verf en haar weeklikse bediening by ’n plakkerskamp, wys sy waar God is: In die slagoffer wat hulp aanbied en só ’n lig in die donker word.
- Willem Pretorius en Roelof Opperman gee ’n interessante perspektief op die innoverende strategie van die gemeenskap van Kameeldrif wat deur geweld tot die uiterste beproef is. Die uiteinde was nie net ’n bekamping van misdaad nie, maar deur iets aan een van die oorsake daarvan te doen, naamlik aan armoede en werkloosheid. Hulle vier sentra help nie net families en kinders nie, maar rus onder andere entrepreneurs toe met die vaardighede en ondersteuning wat nodig is om selfstandig te raak. Die projek om die lewensomstandighede van hoërskoolleerlinge in arm gebiede te verbeter, met sonpanele wat lig vir hulle studies verskaf, is inspirerend.
- Ina Mundell skryf oor die netwerk vir nood wat in 2003 met die projek Jakob se put in Pretoria-Oosterlig vir mense “tussen werk” begin is. Hoewel dit aanvanklik mense gehelp het wat deur regstellende aksie geraak is, het dit mettertyd uitgebrei om alle mense wat deur werkloosheid geraak word te help. ’n Netwerk van 22 kerke werk (al) hiermee saam en die diens is reeds na verskeie plekke in Suid-Afrika uitgebrei.
- Peter Grove herinner ons daaraan dat die aanpak van die armoedevraagstuk liewer uit ’n bate-gebaseerde as vanuit ’n tekort-gebaseerde benadering gedoen behoort te word. Dit lê die klem ook op die menslike, sosiale, natuurlike, fisiese en finansiële bronne waaroor armes wél beskik. Hy skroom nie om die gebreke in die regering se huidige benadering tot armoede uit te wys nie, en spel ’n hele paar praktiese wyses uit waarop gemeentes by die vraagstuk van armoede betrokke kan raak.
- Ben du Toit skryf oor die uitdaging van geweld en armoede en wys uit die mond van armes self hóé erg die probleem regtig is. Alleen met ’n omvattende benadering van alle betrokkenes, te wete maatskaplike sorg, staatsondersteuning, plaaslike owerhede, polisie- en beskermingsdienste, opvoeding, mediese dienste en die godsdienstige gemeenskap, kan hierdie uitdaging aanvaar en daarna gemik word om ’n volgende geslag uit die spiraal van armoede en geweld te laat ontsnap.
’n Mens sou nog baie meer oor hierdie komplekse saak kan sê, veral oor die rol wat leierskap speel. Dr Mills beweer in sy onlangse boek Why Africa is Poor, dat swak besluite deur die leiers van Afrika die belangrikste rede vir Afrika se voortgesette armoede is. Persoonlike en finansiële belang word ongelukkig eerste gestel, eerder as die belang van die bevolkings.
Die belangrikste is egter om iets te doen aan armoede en misdaad, persoonlik soos Annette en korporatief soos Kameeldrif.
Ons hoor graag van stories wat ander gemeentes kan inspireer om regtig ’n verskil te begin maak.
Stuur dit na Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien vir publikasie hier.
Stories
Beste Chris
- Ek verwys jul maar net na NB4 – wat spesifiek fokus op mense wat inkomste-en of werkverlies ervaar. Hul webwerf is: www.nb4.co.za. George Rauch is daarby betrokke en is ook deel van ons bediening. Dit werk ook met ‘n soortgelyke iets soos Jakob se put. Dit neem goeie momentum aan en ek dink dit sal goed wees om op julle netwerk daarna te verwys – ‘n forum wat mense kan bystaan. Hoor dit gaan ook goed met die Arbeidsbediening in die Oos-Kaap – baie sterkte en sëen vir julle. Groete Carin Brink Streeksbestuurder Arbeidsbediening Wes- en Suid-Kaap