AddThis Social Bookmark Button

Horison

Op versoek van die NG Kerk se Oostelike Sinode en verskeie ander sinodale taakspanne vir ekologie dink ons gedurende vanjaar se Pinksterbidure as kerkfamilie saam daaroor dat die Here ons wonderlik geskep het, in verbondenheid met die res van die skepping. Ons bedink ook ons roeping om die aarde wat aan ons toevertrou is te versorg en te bewaar, in die gelykenis van ons Skepper.

Terwyl baie van ons reeds sensitief geword het vir die groot uitdagings wat ons vandag in die algemeen met betrekking tot die ekologie het, is die vraag hoe die Here self verwag dat ons met die skepping, in besonder met die aarde en met ons medeskepsels, moet omgaan.

- Aan wie behoort die skepping, of die aarde eintlik? Wat is ons mense se plek daarby of daarbinne? En as die skepping nie ons sʼn is nie, maar die Here sʼn, hoe moet ons daaroor nadink en hoe moet ons daarmee werk? Watter houding teenoor sy handewerk verwag die Here van sy kinders, ons wat aan Hom toegewyd wil lewe?

In hierdie reeks staan ons by belangrike aspekte stil en vra ons die Heilige Gees om in ons omgang met die skepping en die aarde ons oë oop, ons harte liefdevol en ons hande warm te maak.

- Kom saam as leiers van die NG Kerkfamilie, waar julle ookal kan en dink oor die reeks in die lig van Jesaja se woorde: "Weet julle dan nie? Het julle nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde" (Jes 40:28).

- Die reeks beklemtoon dat die aarde aan die Here behoort. Omdat baie van ons gemeentes 10 bidure en ook Pinksterfees hou, staan ons stil by elf opeenvolgende aspekte:  

(1) Die hemele besing ons Here se heerlikheid (Ps 19:2-7, 15; Open 4:11; 10:6);

(2) en die aarde is ons én ons Here se woonplek (Gen 1:26-28, 31; Joh 1:1-5,14);

(3) waaroor Hy as die Versoener heers (Kol 1:15-20).  

(4) Sy Gees heers in ons en gee aan ons insig (Rom 8:9-11; Ps 8);

(5) om die aarde te sien en die Skepper te loof (Job 38; 39);

(6) om sy skepping se sugte te hoor (Rom 8:19-22);

(7) om die aarde se integriteit te respekteer (Jes 45:1a, 5-8);

(8) en dit te versorg (Gen 2:4-15);

(9) om vrygewig en dienend met ons medeskepsels om te gaan (2 Kor 9:10-15);

(10) om offervaardig en mededeelsaam, in eenvoud & sober te leef (Hand 2:43-47; 4:32-37; 2 Kor 8:10-15).

(11) omdat ons bely, "Die aarde behoort aan die Here" (Ps 24:1) en ons eer sy heerskappy saam met die hele skepping (Open 5:8-14)

- Ons het baie groot waardering vir al ons medewerkers wat met ons saamgewerk het om die oordenkings beskikbaar te maak in die persone van Anton Doyer, Sipho Makoena en Thinus Prinsloo, Gustav Claasen en Victor Pillay, Lourens Schoeman en Dingane Mosili, Carl Lourens en Jimmy Frans, Carl Swart en Rachel Mash, Arnold van der Westhuizen en Sydney Saayman, Schalk van Wyk en Mizelle Prinsloo, Dawid Kuyler en Andries Hofmann, Hendrik Groenewald en Attie du Plessis. 

David Botha en Juanita Greyvenstein het vir ons ʼn liturgie saamgestel vir herhalende gebruik. 

- Ons vertrou dat die Heilige Gees vanjaar se reeks sal gebruik om ons saam met mekaar en met ander fyn in te stel op die gedagtes van ons Here se hart en ons sal omvorm om bruikbaar te wees in die versorging van alles wat Hy tot sy en ons vreugde, met groot liefde en besondere sorg geskep het.

Mag Pinkster in julle gemeente geseënde uitkomste bring en vreugde gee aan die skepping en ons Skepper.

Eddie Orsmond, Donald Gantana, Gideon Van der Watt en Johan Botha (namens die Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis)

Add comment


Security code
Refresh