AddThis Social Bookmark Button

Cura Vitae is ‘n omvattende en gesaghebbende gids vir versorgers deur Daniël Louw.   Dit bied ‘n teologies-terapeutiese model vir die pastoraat: Geloof sorg (cura animarum) as Lewens sorg (cura vitae).  In lyn met ‘n groeiende wêreldwye tendens om van ‘n patologiese perspektief op die lewe weg te beweeg na ‘n kreatiewe waarderend-bevestigende perspektief en teologie van die lewe bied hierdie boek ‘n verbeeldingryke en werklikheidsgetroue pastorale teologie wat die kuns van terapeutiese vaardighede kombineer met die guns van ‘n ontmoeting met God in die soektog na betekenis in siekte en lyding.

In 600 bladsye en 17 hoofstukke, met ‘n omvattende (25-bladsye!) bibliografie en indeks, werk Daniël beide met die kuns van terapeutiese vaardighede (“coping with illness is an art” – p 9) en die guns van ‘n ontmoeting met God (“the concept of ‘encounter’ in Scripture provides a point of access into theological reflection on God’s involvement and engagement with human life” p 19), in die soektog na betekenis in siekte en lyding. Daar word net soveel gemaak van vertroue en die leef met siekte (eerder as om net ‘n siekte te hê) vanuit ‘n geloofsperspektief, as wat daar gemaak word van die voorbereidende en voorkomende taak van pastorale sorg.

 

In lyn met ‘n groeiende wêreldwye tendens om van ‘n patologiese perspektief op die lewe weg te beweeg na ‘n kreatiewe waarderend-bevestigende perspektief en teologie van die lewe (Friedman – p 10), bied hierdie boek ‘n rasionele, kommunikatiewe, transformerende, verbeeldingryke, hoopvolle en werklikheidsgetroue pastorale teologie (p 19-20) wat die lewe vier midde in die ervarings van siekte, lyding en selfs die dood.

Kortom, Cura Vitae, is ‘n teologie van die lewe en die genesing van die lewe vanuit die perspektief van ‘n Christelike spiritualiteit. Teologies beweeg dit weg van ‘n oorheersende klem op “knowing and doing” funksies na ons “being” funksies (p 11) waarmee Daniël vir ‘n teologiese antropologie kies (p 20-1). Dit is bevestigend eerder as verduidelikend, teologies eerder as fenomenologies of sosiologies-sielkundig, spiritueel eerder as wetenskaplik, pneumatologies eerder as Christologies, inhabitasioneel eerder as inkarnasioneel, ontologies eerder as pragmaties, normatief eerder as beskrywend, bipolêr in epistemologie eerder as net eensydig verbind aan óf die Skrif (geloof) óf die konteks.

Hierdie ontologiese “being”-perspektief impliseer ‘n groei-proses van afwagting en transformasie en ‘n skuif in ego-identiteit van ego-obsessie na ego-transendensie. Die teologiese raamwerk word uit die eskatologie geneem waar fundamentele bestaanskwessies met gepaste Godsbeelde verbind word in die mens se soektog na betekenis (vgl. sy aansluiting by Victor Frankl), soos treffend geïllustreer word in die gevallestudie van Ivan Ilyich (The Death of Ivan Ilyich van Leo Tolstoy):

“Ivan Ilyich’s suffering reveals to us the human being’s deepest need:
‘Somebody’ to be with;
Empowerment;
Recognition, and
Comfort, consolation and compassion.
That is what pastoral care is all about.” (p 14)

Op ‘n praktiese vlak fokus sy benadering dus op houdings, hanteringsvermoëns, ‘n netwerk van verhoudings, betekenisvolle doelwitte, waarde sisteme (normatiewe raamwerk) en gepaste beelde van God (138).

Getrou aan sy baie kompakte maar tegelyk omvattende skryfstyl kan ‘n opsomming van dié monumentale lewenstaak van prof Louw egter dreig om langer te word as wat die boek in die eerste plek geskryf is!Hier volg dus ‘n baie kursoriese opsomming van die 17 hoofstukke - dié boek is noodsaaklike leesstof vir ‘n goeie verstaan van die opsomming!

Hoofstuk 1 - The predicament of being ill: Crisis or Challenge?

Daniël maak ‘n belangrike onderskeid tussen siekte (sickness) - ‘n beperking in "state of being" - en siek-wees (illness) - die ervaring van ‘n spesifieke siekte: "One is sick but feels ill." (23).

Gesond-wees en siek-wees vorm vir hom twee pole op ‘n kontinuum, waarvoor hy ‘n kwalitatiewe spiraal-model voorstel wat groei kan fasiliteer. Hierdie groei kan in drie fases beskryf word (Flynn): 1) akute ervaring, 2) begrip en strategie-vorming, en 3) betekenis-gewing. Die norme en waardes van ons geloofsraamwerk het op hierdie groei-proses ‘n meer fundamentele uitwerking as psigo-analise, psigo-terapie of veranderinge in persoonlikheid strukture.

Hy gebruik die Platoniese konsep van ruimte (Griekse woord chora) om die debat oor genesing te skuif van werkverrigting en produktiwiteit na versorging en koestering. Die ruimte van versorging bepaal die kwaliteit van ons ervaring van betekenis en waardigheid in die plek waar ons ons bevind: "In order to be healed, we need to change the space so that we can live in a very specific place." (27)

Hiervoor stel hy gevolglik ‘n teologie van ruimte (inkarnasie - Christologie) en ‘n teologie van plek (inhabitasie - Pneumatologie) voor - hoewel ek dit in terme van sy eie argument andersom sou wou verduidelik (ruimte = Gees; plek = Christus). Albei perspektiewe verteenwoordig ‘n teologie van bevestiging en waardering (affirmation), wat afgegrens word van ‘n teologie van skematisasie (=dogmaties - reduseer genesing tot sondebelydenis en regverdiging), bevryding ("for what?"), rekonstruksie (gee nie ‘n antwoord op die vraag na identiteit nie, en is gewoonlik te lokaal en daarom oneffektief in terme van globalisasie) en proklamasie (reduseer pastoraat tot ‘n preek).

Die hart van die teologie van bevestiging vind hy in die eskatologiese interpretasie van die kruis- en opstandingsgebeure (die wese van dinge [ontologie] word herinterpreteer met implikasies vir die einde van dinge [eskatologie]) wat interessante ooreenkomste vertoon met nuwe ontwikkelinge in positiewe sielkunde en die variant fortologie. Fortologie is ‘n beweging weg van patologie na konstruktiewe bemagtiging en bemoediging (fortis = sterk). Dit is ‘n sterktes-gebaseerde benadering wat raakpunte het met die teologie van Paul Tillich ("the courage to be"). (31)

Die fokus in hierdie pastorale benadering is om twee goed te doen: 1) ‘n empatiese valuasie wat beide konstruktief as realisties is en op ‘n kontinuum tot beide onttrekking (ruimte vir refleksie of anders vir ‘n ander terapeut!) en omhelsing (intimiteit en bevestiging binne ‘n atmosfeer van genade en omgee) kan lei, en 2) ‘n beweging na verandering en transformasie in betekenis-gewing en groei.

Wanneer die empatiese valuasie lei tot onttrekking of verwerping kan twee goed gebeur: verwarring of verplasing (dislocation) wat tot stagnasie of aversie kan lei. Soos met enige bestuur van polariteite word dit hanteer deur ‘n atmosfeer van genade en hoop en moontlikhede binne ‘n omgee benadering te skep.

Die beweging na groei en transformasie kan in twee rigtings genesing bewerk: óf deur ‘n fokus op aksie en besluite óf deur ‘n proses van geduldige wag totdat die atmosfeer vir groei en betekenis tot stand gekom het.

Daniël bespreek hierna die bio-mediese benadering van die gesond-wees-siek-wees bipolariteit en wys op die voordele daarvan (akkuraat en gesofistikeerd) maar ook die inherente gevare daarvan: analities en daarom reduksionisties, diagnosties en daarom onpersoonlik, dualisties en daarom onsensitief vir die spirituele kant van siek-wees, atomisties en daarom geneig tot fragmentasie (hy noem dit ook biologies-organies), positivisties en daarom kultureel-eties onsensitief en laastens farmaseuties en daarom te chemies.

Hy kies vir ‘n meer sistemies-holistiese benadering waar die wese van die persoon meer belangrik is as sy liggaamsfunksionaliteit. Die norm is nie gesond-wees of siek-wees as sodanig nie, maar volwassenheid en ‘n sin vir betekenis en rigting wat 7 aspekte insluit: sielkundig, eksistensieel, funksioneel, sosiaal, fisies-wetenskaplik, medies en religieus-eties. In pastorale sorg moet ons dus begin praat van "human wholeness" (47) wat deur die begrip vrede, in die OT shalom en in die NT eirene oorgedra word.

In sy beskrywing van die problematiek van spiritualiteit binne die veld van die pastoraat, beweeg hy weg van ‘n streng gereformeerde benadering wat draai om die primaat van ‘n dualistiese God-Skrif fokus, na ‘n meer geïntegreerde spiritualiteit waar geloof ook verbind word met die wese van mens-wees sowel as aan vroomheid (die Griekse woord eusebia).

Hy bespreek die verskillende genesingsmodelle in gebruik (emosionele bestuur en stres beheer; betekenis en persoonlike groei; persoonlike energie en heelheid; goddelike ingrype; morele genesing; geestelike bemagtiging; bevryding, positiewe denke, geloofsgenesing) en wys hoe elkeen ‘n element van die waarheid beet het.

Met erkenning daaraan stel hy egter ‘n meer teologiese interpretasie van genesing voor, gekoppel aan ‘n eksistensiële benadering waarin die "virusse" van angs, skuld, wanhoop, hooploosheid en weerloosheid, en ontnugtering en frustrasie aangespreek word, ‘n promissio-terapeutiese en noëties-intellektuele benadering.

Op ‘n praktiese vlak sluit dit steeds dinge in soos begrip en interpretasie, kommunikasie en verbalisering, optrede, hoop, verbeelding en "seeing" (71) waarmee mense met genesing, ondersteuning, begeleiding, versoening, koestering, bevryding, bemagtiging en hermeneutiese interpretasie tot geestelike volwassenheid (met groot klem op die sistemies-kwalitatiewe verstaan van die siel as funksionele disposisie van die mens) gelei word.

Hierdie "soul-care" het veral te make met die verbintenis van siek-wees aan en interaksie met die regte Goddelike metafore (bv monargiese, familie, verbonds- en persoonlike Godsbeelde).

Hoofstuk 2 - The suffering within suffering: spiritual pathology and the illness of not coping

In hierdie hoofstuk bespreek Daniël die lyding wat siekte bring.

Hy onderskei tussen illness behaviour (gefokus op gesond-wees) en sick roll behaviour (gefokus op siek-wees) (105) waarin houdings, kulturele konteks, informasie en plek van behandeling met pastorale sensitiwiteit hanteer moet word. Veral die sosiale dimensie van siekte is belangrik in ‘n Afrika konteks weens morele en spirituele faktore.

Hy ondersoek die fenomeen van siekte in die Ou en Nuwe Testament en wys die ervaring van swakheid uit as die mees fundamentele beskouing van siekte te same met die intrinsieke verband tussen sonde en siekte, hoewel nie altyd persoonlik verstaan nie. In die Nuwe Testament word ook in die evangelies baie gemaak van die rol van demone in siekte. Dat Christus Hom in swakheid (Griekse woord ashteneia) met die swakhede van die mens geïdentifiseer het, verbind God met ons lyding wat die basis vir verlossing word.

Hy sluit by die interessante navorsing van Engelke aan wat wys dat "the here-and-now questions are more important to the patient than questions about life and death." (117), veral omdat siekte met die basiese bestaansbehoeftes te make het. Hierdie bestaanskonflik lê op verskeie vlakke en het ‘n impak op die wil tot lewe, die wil tot betekenis en die wil tot vryheid en bevryding. Dit laat jou oorbodig, geïsoleerd en verwerp en betekenisloos voel, en laat jou benewens die vraagstuk van pyn ook met die vraag na God wat lei tot worsteling, twyfel, wanhoop en ‘n verlies aan geloof.

Wanneer hierdie ervarings gekoppel word aan ‘n verlies aan beheer, lei dit tot ‘n ervaring van trauma. Op bladsy 131 e v gee Daniël daarom ‘n Trauma spiritual inventory wat pastors in staat kan stel om met meer akkuraatheid traumatiese ervarings te hanteer. Hy gee ook aandag aan die trauma wat versorgers (Figley) soms kan ervaar in ‘n "over-exposure to trauma" wat hulle "compassion fatigue" kan gee (135) en kan lei tot "soul-sadness". ‘n Sin vir humor en kognitiewe "reframing" (Capps) kan hiermee help.

Hy sluit af met die baie belangrike en onderskatte saak van spiritualiteit wat toksies kan raak, via faktore soos bygeloof, formalisme, legalisme, valsheid en neurotiese gedrag. Dit gebeur meesal weens een of ander verabsolutering van ‘n aspek van ‘n mens se godsdiens en kan verbind word aan twee faktore: onderdrukking en wanvoorstellings van God. Integriteit en die regte Godsbeeld bly dus van kardinale belang in die pastorale bediening.

Hoofstuk 3 - Sickness and health in an African context

Daniël gee ‘n briljante hantering van siek-wees en gesond-wees in ‘n Afrika konteks.

Hy wys eerstens op die feit dat siek-wees nie noodwendig aan ‘n siekte (disease) verbind moet word nie. Baie keer is dit eers ‘n "systemic issue than a disease" (146) ingebed in lewens- en bestaanskwessies soos honger, armoede, werkloosheid en geweld. Agter hierdie kwessies loer die altyd-teenwoordige gevare van die misbruik van mag en gesag. Siekte en patologie kan dan eerder verwys na ideologieë, destruktiewe paradigmas, disfunksionele sisteme, negatiewe raamwerke en denkpatrone, vooroordele en vaste voorveronderstellings "which hide and protect norms and values that are harmful to our being human". Hy noem dit "social viruses".

‘n Aanhaling van Nobelprys-wenner JM Coetzee in The Master of Petersburg vang sy argument vas: "The poor live in their hunger as fish live in water. The real forces have their origin in the centres of power, in the collusion of interest that takes place there."

Desnieteenstaande stel hy voor dat die uitdaging is om weg te beweeg van ‘n probleem benadering na ‘n meer konstruktiewe paradigma. Daarom gebruik hy die term Afrika as ‘n ontologiese filosofiese konsep sowel as beskrywend van ‘n geestelike verhoudings-kategorie (in onderskeid van ‘n analities-tegnologies Westerse konsep) met ‘n uitgespelde waardering vir die Afrika Renaissance.

In plaas van die heersende paradigma van inkulturasie stel hy interkulturasie (Bate) voor, waar nie met ‘n skeiding tussen Christus en kultuur gewerk word nie, maar met ‘n "interconnectedness between Christ and culture." (HR Niebuhr) (153). Interkulturasie beskryf ‘n verstaansproses wat nie die uniekheid van óf die een óf die ander kultuur ophef nie, wat Villa-Vicencio noem "the encounter of the ultimate within and through the particular" (154). Dié benadering kenmerk terloops ook al hoe meer die ekumeniese gesprek wêreldwyd (Vgl bv. Ndungane in Faith in Action wat sê dat elke deelnemer aan die gesprek moet deelneem met die: "particularity of their own beliefs, principles and values - and must justify those both through lifestyle and through words." (2008:47).

Hy beskryf die Afrika epistemologie as een wat nie geskei kan word van lewensgebeure nie (Kahiga), en selfs nie van die dialektiek van lewe en dood nie. ‘n Mens kan nooit op sy eie ‘n volledige entiteit wees nie, maar is altyd ingebed binne die sosiale magsnetwerke waarbinne hy of sy ‘n rol het om te speel (Berinyuu). "Role fulfilment becomes more important than personal self-actualisation." (157)

Afrika spiritualiteit is daarom nie soos ‘n piramide nie, eerder soos ‘n sirkel. Gemeenskap en gemeenskaplikheid is die sentrum van die godsdienstige lewe, wat beteken dat die konsep van koinonia so belangrik vir die pastoraat is.

God word in Afrika spiritualiteit op verskillende maniere geteken: beide immanent as transendent, verbind aan die voorvaders en as ‘n lewenskrag. Daarby is inklusiwiteit en gemeenskaplikheid baie belangrik, wat beteken dat gekoppel aan die oorheersende "shame"-kultuur, waarin die erkenning van skuld uiters problematies kan wees, ‘n mens baie sensitief moet werk met konsepte van reg en onreg en van wat aanvaarbaar is binne ‘n meer "skuld"-georiënteerde-kultuur.

Die sleutelkonsep hier is mede-menslikheid as uitdrukking beide van ubuntu en koinonia. Die Godsbeelde wat God se teenwoordigheid in Afrika die beste kan oordra, is volgens Daniël, die idee van God as Metgesel (Companion) en Metgesel vir die Lewe (Partner for Life), wat beide aspekte van die persoon van God as die krag van God kombineer.

Daniël bespreek vervolgens die geestewêreld ("world in between" - Long) sowel as siekte as ‘n sosiologiese-religieuse fenomeen, waarin die isangoma en ander magiese karakters ‘n rol speel. Gesond-wees is nie moontlik in ‘n Afrika konteks sonder om hiermee rekening te hou nie, omdat siekte meer personalisties (via menslike of bo-menslike agente) as naturalisties verstaan word (dit sluit natuurlike faktore nie uit nie).

Daarom dat die bediening van bevryding baie terapeuties vir nie net die siek persoon is nie, maar ook vir die gemeenskap van verhoudinge. Die helingsproses het immers drie oogmerke: om verhoudinge reg te stel, om weer skoon te word, en die magsbalans in verhoudinge te herstel. Storie-vertelling het ook hierin ‘n baie belangrike terapeutiese funksie, met die pastor beide as "prophet healer" en "a listener to stories". (185)

Hoofstuk 4 - The healing environment and space for growth: hospital care

Omdat siekte kan lei tot óf verlamming óf ‘n draaipunt (Kirkwood) moet pastors fokus op die siek persoon self: "we visit the ‘soul' of the person". (192). Die versorger is nie ‘n spesialis in siekte nie, maar in empatie, interpatie, onvoorwaardelike liefde, die wil van God in lyding en die soektog na betekenis en menslike waardigheid. Dit vorm deel van die proses van teologiese refleksie.

Teologiese refleksie sluit in: 1) sistemiese begrip van die "ultimate" in die lewe, 2) ‘n analise van betekenis in lyding, waarin die komplekse response van angs, skuld, wanhoop, hooploosheid en weerloosheid sowel as woede gehanteer word, 3) die identifisering van God se wil vir en teenwoordigheid in die trauma, 4) die interpretasie van Godsbeelde, en 5) die formulering van ‘n pastorale strategie by die siekbed, baie keer as ‘n brugbouer of netwerker met die hele sosiale - en versorging-sisteem van die siek person.

Om die pasiënt se aanpassingsprobleme beter te verstaan, het die pastor kennis nodig van die verskillende fases gedurende siekte: 1) die vermoede fase van onsekerheid en ontkenning, 2) die besluitnemingsfase oor die konsultasie, 3) die diagnostiese fase van toetsing, 4) die antisiperingsfase van behoeftes en verwagtinge, 5) die operasie fase van chirurgie en behandeling, 6) die akute fase van ‘n stryd om lewe, 7) die sub-akute fase van her-oriëntering, 8) die herstelfase en die kwessie van vroeëre gesond-wees, 9) die kroniese fase en langtermyn gevolge, 10) die terminale fase en die kwessie van afskeid-neem.

Ook die siek persoon se reaksies op die siekte is belangrik: 1) ontkenning (heroïes), 2) kapitulasie, 3) apatie (stoïsyns), 4) vermyding, 5) assimilasie en integrasie, en 6) interpretasie. ‘n Goeie verstaan hiervan help om betekenis te gee aan die uitdagings van siekte: 1) om lyding te beveg: weerstand, 2) om lyding te aanvaar en akkommodeer, 3) om lyding te assimileer en toe te pas (roeping), 4) om lyding te transformeer.

Hoofstuk 5 - Ministerial strategy and the goal of pastoral care for the ill: Faith care (cura animarum) as life care (cura vitae)

Hierdie hoofstuk is die hart van die nadenke oor wat siekte is en wat die beste pastorale strategie is om ‘n persoon daarin by te staan. Dit identifiseer die twee hoofstroom benaderings in pastorale sorg, faith care (Thurneysen, Adams - die teologiese dimensie) en life care (Rogers, Hiltner, Clinebell, Stolberg - die terapeutiese dimensie) en kies onder andere na aanleiding van Tacke ("stimulating faith as an encouragement to live") en Firet ("pastoral care acts as an intermediary for bringing about change [the agogic moment in care]") vir ‘n soort midde-posisie, cura animarum as cura vitae, hoewel die titel van sy boek net een van die dimensies uitlig, Cura Vitae (217-20).

Pastorale sorg gaan oor die persoon se totale lewensoriëntasie wat in beginsel vanuit ‘n Christelike paradigma ‘n teologiese aktiwiteit is. Daarom dat die doel ‘n volwasse geloof is waarin gelowiges aan God se vervulde beloftes verbind word (promissio-terapie).

Vir promissio-terapie is dit nodig om te onderskei tussen 5 verskillende dimensies van hoop: 1) die dimensie van verwagtinge: behoeftes, 2) die sielkundige dimensie: afwagting, 3) die dimensie van tyd: toekoms, 4) die eksistensiële dimensie: verwagtinge van ‘n kwaliteit lewe en 5) die geloofsdimensie: vertroue.

Die pastor se rolle kan in die volgende 3 kategorieë verstaan word: 1) ‘n bediening van teenwoordigheid: om daar te wees met ‘n ander, 2) ‘n bediening van omgee en hoop: geestelike genesing en "being a soul friend", en 3) ‘n bediening van interpretasie en netwerking.

Daniël gee ‘n hele aantal Skrifverwysings uit die Psalms, Skrifprofete en die Nuwe Testament wat met pastorale sensitiwiteit in versorging gebruik kan word.

Hy gee ook aandag aan die verskillende vaardighede en strategieë wat by ‘n siekbed gebruik kan word. Hy onderskei 4 fases wat in ‘n handige kaart opgesom word op p 252: 1) VOEL - veral deur die luister na stories (gelukkige stories, dramatiese stories, tragiese stories, ironiese stories en komiese stories), 2) DINK, 3) TREE OP, 4) GLO.

En die basiese pastorale funksies in al die fases is: 1) fasiliteer ( die kuns van luister), 2) ondersteun (die kuns van verstaan), 3) begelei (die kuns van rigting-gewing en diagnoseer), 4) genees (die kuns van vertroos en verandering), 5) koester (die kuns van omgee), 6) versoen (die kuns van getuienis), en 7) konfronteer (die kuns van vermaning).

Die gebruik van die Bybel en gebed (Versteeg) by die siek persoon kan op verskeie maniere benader word: 1) parafraseer, 2) meditatief lees, 3) narratief lees, 4) vertroostend artikuleer. Dit sluit ook die gebruik van gepaste klag-gebede in.

Hoofstuk 6 - Human experimentation and gene manipulation: the ethical dilemma in pastoral counselling and hospital care

Drie basiese etiese dimensies is betrokke: pastorale interaksie (agendas), pastorale ruimte (vertroue) en menslike identiteit (persepsies). Daarby vorm norme, waardes en deugdes ‘n morele verstaansraamwerk.

Daniël skets vervolgens die Bybelse etos (Gerhardson) en onderskei dit van humanistiese en Marxistiese etiek. Hy kies vir ‘n her-skeppings (vanuit die eschatos) en inhabitasie (pneumatologiese ontologie) paradigma, laasgenoemde onder andere omdat die gevaar van perfeksionisme en legalisme groot is as Christus se voorbeeld nagevolg word, eerder as dat in die werklikheid van die inwoning van die Gees met sy gawes en vrug in ons geleef word. Dit het ook die belangrike implikasie dat ‘n mens vanuit jou "being"-funksies kan leef (fokus op die inwoning van die Gees) eerder as jou "doing"-funksies (streef om soos Christus te wees), omdat jy leef uit die perspektief van wie jy reeds is in Christus (eskatologie).

Só ‘n etiek beteken dat jy werk vanuit ‘n offervaardige en sakramentele perspektief en nie uit ‘n prestasie perspektief nie. Die basiese deugdes is dus dinge soos liefdadigheid, omsigtigheid en omgee en vind uitdrukking in geestelike praktyke soos wysheid en onderskeiding, en diensbaarheid (praxis pietatis).

Al hierdie aspekte vind uiteindelik uitdrukking in ‘n etiek van Verantwoordelikheid (Niebuhr - hoewel hy hom nie aanhaal hier nie) wat werk met die kriteria van gelyke, billike en regverdige behandeling van mense, menslike behoeftes en meriete sowel as geestelike behoeftes. Eerder as rigiede riglyne beskryf dit watter kwaliteite in die morele besluitnemingsproses gebruik moet word.

Na ‘n verdere bespreking van die epistemologie en hermeneutiek wat in die besluitnemingsproses gebruik word, gee Daniël aandag aan die beginsels van die mediese etiek (outonomies, nie-skadelik, voordelig en regverdig) wat baie keer redelik utilitêr kan voorkom ("the best outcome ... is the right thing to do").

Met die Bybelse en mediese etiek as agtergrond bepreek hy vervolgens die toepassing daarvan in terme van aborsie, genetiese manipulasie en eutanasie.

Hy kies vir ‘n pro-verantwoordelikheid opsie in aborsie (hy noem dit ook pro-keuse op p 309?) wat die werklikheid van ‘n aansienlike konflik van belange en regte in die proses van morele besluitneming erken, nieteenstaande die feit dat hy in ag neem dat "being"-kwaliteite meer fundamenteel as blote funksionele kwaliteite is.

Hy kies ook vir bv. die opsie van kloning omdat identiese genome nie identiese persone of persoonlikhede impliseer nie, en vir die oorweging van passiewe eutanasie, hoewel Daniël steeds eerder life care as terminal care verkies.

Hoofstuk 7 - Patients suffering from heart diseases: their crises of morbidity and vulnerability

Daniël spits sy bespreking in die res van die boek toe op meer spesifieke toepassings van pastorale sorg, in dié kort hoofstuk op pasiënte met hartkwale wat met hulle morbiditeit en weerloosheid gekonfronteer word.

Hy wys hoe ‘n bewussyn van die risiko faktore die pastorale hantering beïnvloed, bv. ‘n tipe A gedragspatroon (aggressief, kompeterend, resultate-georiënteerd, oordrewe verantwoordelikheid-sin) is beide ‘n risiko faktor vir hartsiektes sowel as vir die herstel daarvan.

Die depressiewe toestand wat baie keer daarmee verbind word, het met angs, destruktiewe denkpatrone, self-blamering en skuldgevoelens, isolasie, en hulp- en hooploosheid te make.

Morbiditeit is baie keer verbind aan woede, wat hanteer moet word deur op die snellers vir die woede te konsentreer.

Hoofstuk 8 - Patients suffering from cancer: their communication crises

Die basiese probleem met kanker is die beperkte kommunikasie, beide in terme van die sekerheid oor die feite en die stellige interpretasie daarvan. Daarby kom die doodsangs wat nooit vergeet kan word nie.

In die pastorale hantering is tyd die belangrikste kwessie: ‘n pastor moet baie tyd met die familie en pasiënt spandeer, en in die lig van die skaarsheid van vaste feite, telkens die waarheid praat.

Hoofstuk 9 - Human sexuality: the crises of promiscuity

Seksualiteit word in dié hoofstuk word begrond in ‘n eskatologiese verstaan van seksuele liefde en ‘n teologie van beliggaming ontwikkel. Hierdie verstaan word dan gebruik om die krisis van promiskuïteit, en die debatte oor homoseksualiteit en gender te hanteer.

Daniël toon aan hoe die debat oor seksualiteit reeds besig is om te skuif van pessimisme (seks is ‘n remediërende aktiwiteit) na ‘n desentreerde demokratiserende paradigma van intimiteit, waarin seksualiteit deur persoonlike voorkeure bepaal word.

Sy hoof-argument is dat seksualiteit uit ‘n estetiese hoek beskou moet word, spesifiek die estetika van die menslike siel. Seksualiteit is ‘n uitdrukking van menslike intimiteit en integraal deel van ons mens-wees: "It is intrinsically connected to the ensoulment of the body and the embodiment of the soul." (353). Daarom is seksualiteit ‘n geestelike kwessie, omdat dit ‘n uitdrukking is van ‘n mens se diepste wese. In die intimiteit van seks word ‘n grens oorgesteek: "one becomes more than oneself; one becomes part of ‘an other'" (Knox-Seith).

Promiskuïteit staan teenoor só ‘n beskouing van liefde en intimiteit en rig seks op vryheid sonder beperkings. Dit gebeur wanneer seks slegs ‘n funksionele en kontekstuele instrument word, wanneer dit geskei word van ‘n betekenisvolle uitkoms (destiny), wanneer dit ‘n doel op sigself word en wanneer dit geskei word van morele besluitneming.

Pornografie gaan nog verder en eksploiteer seks sodat mense ontmenslik word as blote objekte en gebruiksartikels.

Daniël se standpunt oor homoseksualiteit begin by die siening daarvan as saam met heteroseksualiteit punte op ‘n kontinuum, neem kennis van die feit dat die Bybelse gegewens oor homoseksualiteit nie dit as ‘n staat of oriëntasie beskryf nie (Anderson), en kies vir ‘n gekwalifiseerde aanvaardingsposisie, wat hy noem: "Spiritual status rather than discriminative stigma" (378). Hy kies daarby doelbewus teen enige vorm van promiskuïteit.

Ten opsigte van die gender-debat, erken hy die feit dat gender tot ‘n mate ‘n sosiale konstruk is, wys hoe feminisme daarin geslaag het om deur hulle bevrydings-paradigma en intellektuele metodologie die sosio-kulturele instellings te transformeer om vroue as mense te sien (teenoor ‘n patriargale paradigma) en wys hoe manlike vrese, geweld en bendes met patriargisme verband hou.

Hy wys ook hoe ‘n nuwe manlike spiritualiteit (Culbertson) begin vorm aanneem, met: "'a greater value on love, family and personal relationships', and less on power, possessions and achievements." (Gauntlett - 395). Dit oorkom die gevare inherent in die stereotipes van die:

  • (P)ower-faktor (wat as Manlik gesien word: Penis - impulse to control; Power - as the stronger defining component; Phallus - expressed in courage and dominion; Performance - the courage to act and to produce) en die
  • (S)ensitivity-faktor (wat as Vroulik gesien word: Subtle - as geared to the art of sensual flirting; Submission - are the weaker sex; Seduction - the challenge to women to catch the attention of males by means of tempting them; Sensual - represent the emotional and sensitive side of our being human). (p 389-93)

Hieruit volg ‘n beredenering van ‘n teologie van beliggaamde intimiteit, waarmee erotiese spiritualiteit met geestelike sensualiteit verenig word. Dit sluit die volgende paradigma skuiwe in: van ‘n siel-liggaam dualisme na ‘n geïntegreerde en deernisvolle intimiteit; van ‘n gender werkverrigting na menslike bemagtiging; van blote outo-erotisme na persoonlike sensitiwiteit en sensualiteit; van ‘n narcistiese fallus-isme na ‘n inklusiewe inter-liggaamlikheid; van die liggaam as "the beast" na die liggaam as "the beauty"(na die beeld van God); van die liggaam as uitgelewer aan media-manipulasie na die liggaam as etiese verantwoordelikheid; van iets na iemand. (406-8).

Hoofstuk 10 - People living with HIV: the crises of disclosure and stigmatisation

Die fokus in dié hoofstuk is op die MIV pandemie in Afrika. Sleutel bevolkingsgroepe het ‘n hoë risiko vir infeksie weens tradisionele poligamie en vroue se gebrek aan status en mag in seksuele verhoudings.

Die groot gevaar in die kerk se reaksie is 1) apatie en neutraliteit wat spruit vanweë ‘n siening dat MIV deur sonde veroorsaak word en 2) skynheiligheid, wat kom uit ‘n self regverdigende houding dat MIV pasiënte deel is van ‘n groep mense wat maai wat hulle gesaai het.

Hierdie stigmatisering is baie kompleks en maak dat MIV eintlik die melaatsheid van die 21ste eeu geword het. Die sentrale probleem is die negatiewe Godsbeelde wat daarmee saamgaan: wraakgierige regter, rigieder boekhouer van ons foute, sadistiese boelie wat plesier vind in ons lyding, ‘n ongeïnteresseerde God.

Die fundamentele teologiese vraag is dus waar God is in die pandemie. Daniël bespreek die meriete van ‘n skeppings- en teopasgitiese (deernisvolle en lydende God) teologiese paradigma, maar kies vir ‘n opstandings-teologie (1 Kor. 15 - Moltmann). Die voordele van só ‘n teologie, is dat dit mense se identiteit koppel aan ‘n lewe gedefinieer deur die Gees wat alles nuutmaak, en jou uitnooi om met geborgenheid (die enigste Afrikaanse woord in die boek!) te lewe ten spyte van jou MIV status. Daniël is nie onbewus van die gevaar van ‘n theologia gloriae nie, en beklemtoon dat die werklikheid van die siekte nie ontken kan word nie.

Pastorale sorg aan mense wat leef met MIV sluit in dat gefokus word op transformasie, bevryding, visie, getuienis, getrouheid, ondersteuning, vertroosting en waarheid, sowel as op die etiese dimensie van stigmatisering en openbaarmaking.
Hy kies vir ‘n 5-fase beradings-model wat rekening hou met die fases waardeur mense gaan wat lewe met MIV: die impak fase, die regressie fase, die internaliseringsfase (met narratiewe terapie met sy ingeboude eksternalisering metodiek wat baie kan help), die rekonstruksie fasie en die konstruktiewe fase. Dit word steeds as spiraal proses eerder as ‘n liniêre proses gesien.

Hy sluit af met ‘n perspektief op "Home-based care" wat die enigste model is wat in Afrika kan werk.

Hoofstuk 11 - Patients with skin diseases and visible scars: their identity crises
Aandag word in hierdie kort hoofstuk gegee aan velsiektes en sigbare letsels weens die intieme verbintenis van voorkoms aan selfbeeld. Mense met letsels van aknee en brand beserings moet verseker word van God se onvoorwaardelike liefde en aanvaarding binne die gemeenskap van gelowiges.
Hoofstuk 12 - The mastectomy patient and her lesion crisis: mutilation and identity as woman
In hierdie kort hoofstuk hanteer Daniël die effek wat mastektomie weens borskanker op ‘n vrou se identiteit het, onder andere omdat die vroulike bors baie keer as ‘n simbool van vroulikheid gesien word. Dit moet ook saam met die angs rondom die dood en die effek op ‘n familie hanteer word.
Hoofstuk 13 - Patients suffering from stroke (cerebrovascular disability/disease): their functional crises an helplessness
In hierdie kort hoofstuk word die probleem van beroerte hanteer in terme van beide die funksionele immobiliteit (beide fisies as arbeid-georiënteerd) en hulploosheid, baie keer met emosionele onstabiliteit, daaraan verbonde. Humor kan ‘n belangrike faktor in die herstelfase wees.
Hoofstuk 14 - Sick children and their security crises

Daniël praat hier oor kinders tussen die ouderdomme 3-12 wat baie keer geïgnoreer word in pastorale sorg. Sulke kinders het ‘n diep behoefte aan veiligheid en beskerming en is daarom responsief teenoor warmte, huislikheid, aanvaarding en veiligheid.

Hy beskryf ‘n hele paar praktiese maniere om sulke kinders te hanteer: spel-terapie, kuns en teken, storie-vertelling en skryf. Hy wy ook uit oor die hulp aan ouers van sulke kinders.

‘n Baie insiggewende deel is die wyse waarop kinders se ervaring van die dood beskryf word: kinders onder 3 jaar oud is banger om deur ouers in die steek gelaat te word as vir die dood; kinders van 3-5 jaar oud is bang vir skending van hulle liggame; kinders van 5-7 sien die dood as ‘n soort onpersoonlike boosheid (Johnson).

Dit is daarom belangrik om kinders se werklike vrese te hanteer, hulle vrees vir skeiding, verlating en pyn, as die dood self, omdat hulle gewoonlik nie veel van ‘n vrees het daarvoor nie. Dit is baie keer meer die ouers se projeksies, en moet daarom in verhouding met die ouers hanteer word.

Hoofstuk 15 - The aged and their frailty and loneliness crises

Die diepste behoefte van ou-mense in hulle broosheid en eensaamheid is om gesien en hanteer word as ‘n mens. Daniël stel daarom ‘n paradigma skuif voor van ‘n fokus op "doing"-funksies na "being"-funksies. "Frailty is therefore a spiritual phenomenon that touches the area of meaning and the ultimate." (496). Een van die deugdes wat hiermee help is "wise independence", die erkenning van beperking en aanvaarding van hulp op maniere wat die helper kan waardeer.
Hy bespreek die problematiek van indirekte kompetisie tussen ouer mense en jonger mense in terme van bronne, die probleem van terminasie, houding en betekenis sowel as die krisis van eensaamheid en hoe "spiritual thickness" (507 - uit die narratiewe "thick story" model) ou mense kan help: "to grow old graciously." (509).

Hy sluit af met twee spesifieke areas van belang vir ou-mense: aftrede (the courage to full completion) en die proses van seniliteit en dementia, en wys hoe pastorale optrede vanuit sy ontologies-eskatologiese model prakties werk. Vir laasgenoemde is dinge soos vriendskap vanweë iemand se menswees, ‘n luister na die lewenstorie presies soos iemand dit aanbied, die fokus op positiewe terugvoer waar meer na die emosies geluister word as na die feite, die bevordering van oorblywende vaardighede en langtermyn geheue, eksplisiete sosiale versterking en die gebruik van religieuse simbole en rituele verfrissend-inspirerende opsies.

Hoofstuk 16 - Dying patients and their parting crisis

Daniël haal weer vir Tolstoy in The Death of Ivan Ilyich aan om die krisis van afskeid te neem van geliefdes deur ‘n sterwende te illustreer: "he struggled in that black sack into which he was being forced by an unseen, invincible power" (532).
Die proses kan óf vroeëre herinneringe insluit, óf fokus op die "awaiting life". Hy hanteer die psigologie van die dood (Kübler-Ross) en die behoeftes wat daarmee geassosieer word: biologies-fisies, psigologies (die onafwendbaarheid van die dood), sosiaal (begrypende mense moet naby wees) en geestelik (om met waardigheid te sterwe).

In gesprek hiermee ontwikkel hy ‘n teologie van die dood wat in ‘n liturgie van lewensorg (cura vitae) vir die sterwendes uitmond, wat sentreer om twee sentrale konsepte: hoop en hemel.

Hoofstuk 17 - Grieving and the crisis of loss and mourning

Die boek word afgesluit met ‘n innemende kykie in die hantering van die krisis van verlies en rousmart. Die proses van rousmart (bewussyn, internalisering, skeiding, heroriëntasie, vorm-gewing en groei) sowel as die hanteringsmeganismes (ontkenning, onderdrukking, identifikasie, idealisering en regressie) word uitgespel.

In die pastorale hantering daarvan moet die verskillende reaksies en vorme van uitdrukking herken en as normale vorms hanteer word: skok, lamheid en ongeloof, trane en hartseer, stres en psigo-somatiese reaksies, woede en gevoelens van vyandigheid, skuld en skuldgevoelens, skeidingsangs, depressie, verlange en verligting.

Net so die fases van rousmart: verwarring en wanorde (disorder), verlies en vergeefse soeke, aanpassing, aanvaarding en herorganisasie en die finale durende fase. Hy gee ook aandag aan die hindernisse van neurotiese (uitgesteld, geïnhibeerd of kroniese rousmart) en abnormale (statiese of ontkennende [bv. deur vinnig weer te trou]) rousmart.

Hy spel die take van rousmart uit as: aanvaarding, pynverwerking, aanpassing en "emotionally relocating the deceased" (562).

Die pastorale doelwitte hierin is:

  • Verskaf strukture of rituele of simbole vir die uitdrukking van emosies;
  • Tree op as ‘n interpreteerder tussen die pyn van die treurende en God se deernis;
  • Fasiliteer die proses en fases van rousmart;
  • Verskaf ondersteuning in besluitneming vir die toekoms;
  • Verskaf ondersteuning deur praktiese dienslewering;
  • Bemiddel hoop deur ‘n organiese gebruik van die Skrif;
  • Moedig kommunikasie met die afgestorwe aan via ‘n bewussyn van die werklikheid van die opstanding.
Opsomming

Cura Vitae is ‘n omvattende en gesaghebbende gids vir versorgers. Dit bied ‘n teologies-terapeutiese model vir die pastoraat: Geloof sorg (cura animarum) as Lewens sorg (cura vitae).

In lyn met ‘n groeiende wêreldwye tendens om van ‘n patologiese perspektief op die lewe weg te beweeg na ‘n kreatiewe waarderend-bevestigende perspektief en teologie van die lewe bied hierdie boek ‘n verbeeldingryke en werklikheidsgetroue pastorale teologie wat die kuns van terapeutiese vaardighede kombineer met die guns van ‘n ontmoeting met God in die soektog na betekenis in siekte en lyding.

Kortom, Cura Vitae, is ‘n teologie van die lewe vanuit die perspektief van ‘n Christelike spiritualiteit. Teologies beweeg dit weg van ‘n oorheersende klem op "knowing and doing" funksies na ons "being" funksies waarmee vir ‘n teologiese antropologie gekies word. Dit is bevestigend eerder as verduidelikend, teologies eerder as fenomenologies, spiritueel eerder as wetenskaplik, pneumatologies eerder as Christologies, inhabitasioneel eerder as inkarnasioneel, ontologies eerder as pragmaties, normatief eerder as beskrywend, bipolêr in epistemologie eerder as net eensydig verbind aan óf die Skrif (geloof) óf die konteks.

Die teologiese raamwerk word uit die eskatologie geneem waar fundamentele bestaanskwessies met gepaste Godsbeelde verbind word in die mens se soektog na betekenis. En op ‘n praktiese vlak fokus sy benadering op houdings, hanteringsvermoëns, ‘n netwerk van verhoudings, betekenisvolle doelwitte, waarde sisteme en gepaste beelde van God.

Dit is ‘n pastorale standaardwerk wat nie net sy teikenmark sal oorrompel nie, maar ook in die velerlei praktiese riglyne ‘n goudmyn vir gewone gelowiges sal word.

Comments  

 
0 # MevPetra 2012-12-06 16:10
Ek benodig dringend die boek vir studie doel eindes, as iemand my dalk kan help?
Reply | Reply with quote | Quote
 
 
0 # Cura Vitae - die boekElna 2013-08-28 19:39
Van Schaiks Potchefstroom het die boek vir my bestel en ek het dit binne twee weke ontvang.
Reply | Reply with quote | Quote
 

Add comment


Security code
Refresh