AddThis Social Bookmark Button

Atheist fundamentalism and the denial of the divine

Baie gelowiges het moontlik al kennis geneem van Richard Dawkins se ateïstiese agenda wat hy in verskeie boeke volg.  Hy spesialiseer daarin om geloof belaglik te maak en met evangeliese ywer ateïsme te bevorder.

The Dawkins Delusion? Atheist fundamentalism and the denial of the divine (2007) van Alister McGrath en Joanna Collicutt McGrath is geskryf om gelowiges te help om hierdie venyn te hanteer.  Dit ontbloot die ateïstiese fundamentalisme van Richard Dawkins se boek The God Delusion (2006) en wys onomwonde op die swak argumente wat Dawkins aanvoer.

Die doel met die boek is eenvoudig: “(to) assess the reliability of Dawkins’ critique of faith in God” (:xiii).

Die boek bevat die volgende vier hoofstukke:

1. Deluded about God?

In ‘n eerste hoofstuk antwoord die McGraths Dawkins se argumente dat geloof 1) infantile en 2) irrational is en gebaseer is op ‘n Godsbeeld wat 3) uiters onwaarskynlik is en eintlik net 4)  ‘n verklaring vir die gapings in ons kennis is (The God of the gaps).

Vele gevalle van mense wat later in hulle lewe eers begin glo het, sowel as die wêreldwye toename in geloof, maak argument 1 onwaar en onsinnig.  Dawkins se 2de argument, dat geloof onredelik is, word deur sy eie metodiek ondergrawe, deurdat hy óf Christen teoloë verkeerd aanhaal (Tertullianus) óf hulle argumente ongenuanseerd aanhaal (Luther).

Die argument oor God se onwaarskynlikheid berus op die idee dat alles wat iets anders verduidelik, ook self verduidelik moet word.  Dawkins dink dat God self ook verduidelik moet word, anders is dit onwaarskynlik dat Hy bestaan.  McGrath wys twee foute in hierdie redenasie uit.

  • Eerstens het Dawkins geen probleem met die wetenskaplike soeke na ‘n “grand unified theory” of “theory of everything”, maar wel as die Christelike godsdiens dit doen.  Dit wys onteenseglik daarop dat hy inkonsekwent in sy argumentasie is.
  • Tweedens is dit ook onwaarskynlik dat die mens bestaan, soos Dawkins self argumenteer in Climbing Mount Improbable, maar tog is ons hier.  Onwaarskynlikheid is dus nie ‘n argument vir nie-bestaan nie, en kan dus nie as argument aangevoer word vir God se nie-bestaan nie.

God as ‘n verklaring vir die gapings in ons kennis, is ‘n argument wat geen teoloog meer voer nie.  Dit beteken dat dié argument van Dawkins ook platval.  McGrath haal dan vir Richard Swinburne aan wat aanvoer dat die blote kapasiteit van die wetenskaplike soeke na verklarings self verduideliking nodig het en dat die mees ekonomiese en betroubare rede hiervoor in die idee van ‘n Skepper God lê.  Dit is dus nie die gapings in ons kennis wat na God wys nie, maar die feit dat ons die kapasiteit het om kennis te kan opdoen wat na God wys.

2. Has science disproved God?

Regdeur Dawkins se aanpak in The God Delusion is daar die fundamentele aanname dat die wetenskap God se nie-bestaan bewys het.  Die wat aangaan om in God te glo, is mislei.  Ateïsme is die enigste opsie vir die ernstige denkende persoon.  (Die ateïs Stephen Jay Gould is nader aan die waarheid, as hy die redelikheid van beide geloof en ongeloof aanvaar, soos hy dit onder sy wetenskaplike kollegas aantref.  Wetenskaplike uitnemendheid is nie gelyk te stel aan ateïsme.)

McGrath wys egter uitvoerig aan dat die wetenskappe nie “ultimate questions” of meaning kan beantwoord nie (Karl Popper).  Die groot vrae van die lewe kan nie deur die induktiewe afleidings van die wetenskappe bewys of afgewys word nie, dinge soos die betekenis van die lewe en die bestaan van God.  Die wetenskappe se beperking lê in die feit dat dit slegs die waarneembare fenomene van die werklikheid kan beskryf en nie dieper vrae oor bv. die doel daarvan nie.

3. What are the origins of religion?

In hierdie hoofstuk neem McGrath Dawkins se ontwikkeling van Ludwig Feuerbach se idees oor God as ‘n projeksie van menslike behoeftes onder die loep.  Dit is immers die kern argument van ateïsme.

Feuerbach se argument het min of meer as volg geloop:

Daar is nie ‘n God nie.

Baie mense glo in God.  Hoekom?

Want hulle soek vertroosting.

Daarom projekteer hulle hierdie behoefte en noem dit “God”.

McGrath wys egter hoe absurd dit is om uit ‘n behoefte af te lei dat iets nie bestaan nie.  Die feit dat ‘n mens dors is, beteken tog nie dat ‘n mens ‘n uitspraak kan maak oor die bestaan óf nie-bestaan van water nie.  ‘n Mens sou die argument ook as volg kon omkeer:

Daar is ‘n God.

Baie mense glo nie in God nie.  Hoekom?

Want hulle soek selfstandigheid en onafhanklikheid.

Daarom projekteer hulle hierdie behoefte en noem dit “God-bestaan-nie”.

Dawkins se kern-oortuiging van die bestaan van godsdiens is dat dit “accidental” is.  Interessant dat hy nie die logiese gevolgtrekking maak dat dit daarom deel van die evolusie proses ook van die mens is nie, want dit is immers ook die fundamentele aanname oor die evolusie proses, dat dit toevallig is.

Die belangrikste vraag wat McGrath egter aan Dawkins stel, is waar is die wetenskaplike ondersoek hiervan?  Een van die redes vir dié gebrek in Dawkins se aanpak, is dat hy nie probeer om ‘n definisie van godsdiens te gee nie, en hoogstens na die gevolgtrekkings van uitgediende navorsing uit die 19de eeu verwys (Sir James Frazer).  ‘n Nog dieper gebrek is dat Dawkins nie onderskei tussen godsdiens en die vraag na God en geloof in God nie.

Twee idees van Dawkins word vervolgens bespreek, 1) die idee van God as ‘n soort “virus of the mind” en 2) die idee van ‘n kulturele replikator (oordraer) wat hy op voetspoor van die gene-navorsing (’n geen is ‘n biologiese replikator) ‘n meem noem.  Die blote feit dat nie een van hierdie idees in die wetenskaplike wêreld enige groot aanhang gekry het nie, wys alreeds op die swak onderbou van Dawkins se argumente.  Daar is geen wetenskaplike getuienis vir enige van die twee idees nie.

4.  Is Religion evil?

Die Mc Graths stem saam met Dawkins dat godsdiens bose dinge kan te weeg bring,  Hulle wys egter uit dat dieselfde van ateïsme gesê kan word, waarvan die ateïstiese Soviet geweld ten godsdiens in die 20ste eeu ‘n prima voorbeeld is, iets wat Dawkins gerieflik verswyg.  Elke godsdiens moet ook aan sy beste eksponente en sy basis dokumente getoets word, nie net aan die bose uitwasse daarvan nie.

Slot

Samevattend: Dawkins se kritiek op geloof in God is onwetenskaplik.  Hy werk met uitgediende idees oor geloof en God wat eerder van randfigure af kom en nie gewig dra in die hoofstroom godsdienste nie.  Sy poging om biologiese verklarings van toepassing te maak op godsdienstige en kulturele idees slaag nie.  Dit is eerder ‘n verbete poging van ‘n oortuigde ateïs om geloof ten alle koste verdag te maak, maak nie saak hoe swak of hoe onoortuigend sy argumente is nie.

Die McGraths sluit af met die betekenisvolle vraag:

Might atheism be a delusion about God?”

Add comment


Security code
Refresh