AddThis Social Bookmark Button

Kruisgroep-vriendskap verpletter vooroordele

kgsep2014cover-250Een van die helderste uitkomste uit die navorsing in die sosiale sielkunde die afgelope 70 jaar is dat kruisgroep-vriendskappe die grootste potensiaal vir die vermindering van vooroordele tussen groepe het.

Dit is die resultaat van 515 studies in meer as 36 lande, waarvan 51 persent op ras of etnisiteit gefokus het. “Friendship potential is an important enhancing condition for intergroup contact effects,” sê Pettigrew en Tropp (sien meer in dié Kruisgewys).

Dit het die taakspan van die Seisoen van Menswaardigheid oortuig dat hulle op die skep van sulke vriendskappe moet fokus. Hulle wil deur al hulle prosesse en produkte aan mense die geleentheid bied om vriende te word. Hulle wil mense help om uitgebreide en herhalende kontak in ’n verskeidenheid sosiale kontekste te hê. Só, glo hulle, sal mettertyd dieper vlakke van gedeelde ervarings moontlik word, asook ander prosesse waardeur vriendskap geskep word.

Die ses mees algemene indikatore wat gebruik word om die effek van kruisgroep-vriendskappe op die vermindering van vooroordeel te toets, is getal, persentasie, nabyheid, insluiting, selfbekendmaking en tyd. Veral die tyd wat kruisgroep-vriende met mekaar deurbring en die diepte van die selfbekendmaking wat in daardie kontaksituasies plaasvind, het ’n blywende effek op die vermindering van vooroordeel.

In ons konteks is sulke vriendskappe natuurlik moeilik weens die gedwonge skeiding van die verlede wat in alle sosiale sfere deurgevoer is.

Navorsing wys ook dat dit moeiliker is om kruisgroep-vriendskappe met verloop van tyd in stand te hou. Daarom moet institusionele ondersteuning doelbewus op ’n volhoubare manier gegee word sodat die skeidslyne mettertyd oorbrug kan word. Dit sluit dinge in soos doelbewuste samewerking, die formulering van en saamwerk aan gemeenskaplike doelwitte en die handhawing van gelyke status in kontaksituasies. Dit dra daartoe by dat die kontak tot positiewe ervarings kan lei wat kruisgroep-vriendskapsbande aanhelp.

’n Produk om sulke kruisgroep-vriendskappe te skep, word op die oomblik ontwikkel. Dit sal op saamdoen-dinge fokus, asook op ons waardes, gesamentlike Bybellees en die beoefening van geloofsgewoontes. Dit sal eers op beperkte skaal getoets word, en dan aan die breë kerklike publiek beskikbaar gestel word.

In hierdie Kruisgewys stel ons die Seisoen van Menswaardigheid met die volgende artikels bekend:

 

Nelis Janse van Rensburg skryf in Van waar ’n Seisoen van Menswaardigheid? oor die oorsprong van die idee by die vier kerke van die NG Kerk­familie. Hy wy uit oor die waardes: respekteer, luister, omarm en liefhê, en die verskillende aksies wat in terme van prosesse en produkte daarrondom onderneem word.

Neels Jackson maak in Jesus voorste eksponent van “horisontale teologie” ons oë oop vir een van die onbedoelde gevolge van die Reformasie. In die sterk reaksie op die vergrype van pous Leo X, het die klem tereg geval op die verlossing uit genade alleen. Daarmee saam is egter die totale verdorwenheid van die mens só sterk beklemtoon dat die boodskap van die Bybel dat die mens vir God hoë waarde het, nie meer so helder gesien is nie. Die woord “menswaardigheid” kan dus dalk ongemaklik op party kerklike ore val, maar die betekenis daarvan lê in die hart van die evangelie.

Elize Morkel help ons in Taal kan menswaardigheid en gelykheid bevorder om die rol van taal in identiteitsvorming en magsverhoudings beter te begryp. Sy skets met ’n hele paar voorbeelde die tipe inklusiewe taal wat menswaardigheid ondersteun. Daarmee kan die neiging om die man as norm te gebruik, te stereotipeer of hiërargies te dink, vermy word. Die hoop is dat die Seisoen van Menswaardigheid die bewussyn oor taal­inklusiwiteit sal verhoog.

Chris van Wyk skryf in Om mekaar te ontmoet oor die navorsing van Thomas Pettigrew en Linda Tropp. Hy gee ’n sinopsis van ’n paar van die resultate daarvan wat in die ontwikkeling van produkte in die Seisoen van Mens­waardigheid gebruik sal word.

Freddie Schoeman gee in A liturgy of respect vir ons een voorbeeld van ’n liturgie wat op die eerste waarde van die Seisoen van Menswaardigheid fokus: respek. Dit werk met die bewegings van Ontvang, Deel, Gee en Toewy, waarin telkens Skrifwoorde en gebede gebruik word. Dit fokus op die situasie van die deelnemers self, maar ook op die wyer konteks van die wêreldgemeenskap in hulle stryd om mekaar menswaardig te hanteer.

Lyn van Rooyen skryf in Nee, “I can’t share” oor die skadukant van die sosiale media wat aan skadumense ’n ruimte vir hulle onmenslikheid gegee het. Sy noem hulle die “internet-trolle” en die “cyber bullies” wat hulle aan geen etiese kode hou nie. Daar­teen­oor gee sy ’n goeie grondslag vir ’n verantwoorde etiese benadering wat aanlyn gekry kan word, soos die “Charter of Compassion”, geïnspireer deur die werk van Karen Armstrong, die “Covenant for Civility” wat deur ’n groot groep kerkleiers ontwikkel is, asook haar eie organisasie CABSA se “Guiding Principles”. Aan die hand van ’n paar belangrike Bybeltekste gee sy haar eie etiese kode vir die sosiale media. Sal graag wil hoor wat lesers daarvan dink.