AddThis Social Bookmark Button

KG-nov-2013-coverDaar is groeiende wanhoop by baie mense oor die krake wat al hoe wyer in ons samelewing oopskeur.

Ons sien dit nie net in die verhale van korrupsie en verval op nasionale vlak wat veral in die infrastruktuur, onderwys en gesondheidsisteme sigbaar is nie, maar ook in die onrusbarende toestande wat op plaaslike gemeenskapsvlak heers, méér spesifiek op die gebied van gesinne en families.

Disfunksionaliteit, armoedesiklusse, immoraliteit, middelafhanklikheid en opstande is maar net ’n paar van dié probleme. Om jongmense in sulke omstandighede met ’n droom vir die toekoms groot te maak, is voorwaar ’n uitdaging!

Die storie van Wangari Maathai (met dank aan www.seisoenvanluister.co.za) inspireer my egter in dié verband, veral omdat Kenia dié afgelope tyd so in die nuus was.

Toe Wangari in Kenia grootgeword het, was dit ’n pragtige, groen land. Nadat sy jare lank weg was en weer teruggekeer het, was sy geskok om te sien hoe die land verander het. Al die bome was uitgekap en die land was vaal en droog. Vroue moes ver loop om hout vir hulle vure te kry. Erosie het die grond al meer weggespoel.

Wangari het besluit om bome te begin plant. In 1977 het sy nege boompies in haar agterplaas geplant en van die plaaslike vroue gekry om óók bome te begin plant. Toe sy in 2004 die eerste vrou uit Afrika geword het wat ’n Nobelprys vir Vrede kry, het haar beweging al 30 miljoen bome geplant, was daar 6 000 kwekerye in Kenia, is 80 000 mense se inkomste verbeter en het die beweging oor 30 lande in Afrika heen versprei!

Die bekende gesegde sê ’n mens moet bome plant asof jy vir ewig gaan lewe. Dit beteken jy moet nooit ophou bome plant nie. Jy verryk jou eie lewe, en jy bevestig die hoop op God se trou. Die komende geslagte gaan die vrug van jou visie en hoop pluk en God vir jou dank.

My gebed is dat iets van hierdie gesindheid ons harte en lewe sal aangryp. Dat dit ons sal inspireer om – by wyse van spreke – bome in ons gemeenskappe te begin plant.

In hierdie uitgawe van Kruisgewys fokus ons op die “bome” – met apologie aan Hettie Britzz! – wat ons in terme van ons families en jongmense kan plant.

Danie Mouton skets in Die welstand van die Suid-Afrikaanse familie ’n onrusbarende prentjie van die krisis waarin Suid-Afrikaanse families hulle bevind. Die gemiddelde kind word deur sy moeder in ’n enkel­ouerhuishouding opgevoed. Die meeste kinders leef in huishoudings waar die volwassenes werkloos is. Hy brei uit oor ’n aantal diverse en komplekse oorsake van dié situasie, maar wys ook uit hoe verskillende sektore in die samelewing ’n krities-belangrike verantwoordelikheid het om ’n verandering te bewerkstellig.

Lauren Stretch gee in Changing the face of Early Childhood Development in South Africa haar perspektief op wat gemeenskappe kan doen om die armoedesiklus waarin baie families in Suid-Afrika hulle bevind, te deurbreek. As besturende direkteur van Early Inspiration, werk sy met ’n visie vir voorskoolse intervensies via voeding en opvoeding in kinders se lewe ten einde ’n langtermyn impak op die heelheid van families te hê.

Johan Avenant stel in Huisgeloof help ons anders dink oor kategese voor dat die kerk ’n kopskuif moet maak, weg van ’n kerkgesentreerde en huisondersteunende sisteem na ’n huisgesentreerde en kerk­ondersteunende sisteem. Nie net sal dit geloofsoordrag eksponensieel bevorder nie, maar gesonder families tot gevolg hê. Hierdie bedieningskuif moet deur elke bedieningsleier, elke kategeet en elke ouer gemaak word.

Hettie Britzz beskryf met Immergroen Ouerskap vir immergroen gemeentes die uitnemende hulpmiddel wat sy geskep het om ouers en opvoeders in hulle eie gemeenskappe, gemeentes en skoolomgewings toe te rus deur ’n verskeidenheid van kursusse en fasiliteerders. Dit berus op sewe “wortel­waarhede”. Dié is voorkomende toerusting vir ouers om hulle te help om sewe baie gevaarlike ouerskapslaggate te vermy en op die vorming van norme en waardes te fokus, sodat kinders ’n standvastige karakter kan ontwikkel.

Gielie Loubser gee in #Imagine in SA jeug brandend vir Christus vlerke aan die droom om weer iets groots in die tienerbediening te doen. Dit is 40 jaar ná die Jeug-tot-Jeugaksie van 1974 en tyd om tieners weer brandend vir die Here te maak. Twee groot byeenkomste word beplan om tieners toe te rus en uit te stuur met die droom om ons land te help genees en om nuwe momentum aan die tienerbediening in ons kerke te gee.

Gustav Claassen beskryf in Kerk voeg waarde by tot die onderwys en gemeenskap twee komponente van ’n prosesbenadering om jongmense te vorm met die regte waardes om as leiers in hulle geloofsgemeenskappe, werkplekke en gesinne ’n verskil te maak. Met die eerste komponent Water word op waardes gefokus. Met die tweede komponent Ritmejaar word op afronding in die jaar ná matriek gefokus. Dit sluit onder andere in dat jongmense toegerus word met basiese lewensvaardighede en ’n blootstelling aan verskillende beroepsrigtings.