AddThis Social Bookmark Button
Kruisgewys_Maart-2012-voorblad-200pxMense assosieer “groen” met die onlangse 17th Conference of the Parties (COP 17) in Durban, Saving Tomorrow Today rondom die Kyoto Protokol, Al Gore se dokumentêr An Inconvenient Truth van 2006 en die globale aktivisme van Greenpeace International. “Groen” word nie juis met die kerk geassosieer nie.

Klimaatsverandering, die uitwissing van die reënwoude, die bestryding van besoedeling en die beskerming van spesies op die rand van uitwissing, is die onderwerpe wat hierdie rolspelers onder die publieke aandag bring – nie iets wat sommer van kansels aangeroer word nie. Of dalk tog?

Kruisgewys het ’n aantal skrywers gevra om hulle perspektiewe op ’n Groen Kerk te gee. Die verrassing was groot om te sien hoeveel dinge reeds gebeur, hoedat talle bedienings op verskeie plekke in ons land reeds ’n groen baadjie aangetrek het.

Dat baie nog gedoen moet word, is ’n feit. Dat daar reeds ’n groen beweging van die Gees is, is ook ’n feit.

Ernst Conradie – sistematiese teoloog van UWK en skrywer van verskeie boeke oor die ekologie, onder andere die Andrew Murray-pryswenner vir Waar op dees aarde vind mens God? in 2007 – gee ’n ontleding van die verbruikerskultuur ten grondslag van die feit dat welvarendes die slagoffers van hulle eie begeertes raak. Hulle dra swaar aan die beroepsdruk en besittingslas, en toon die simptome van verbruikersgriep. Hy maak ’n onderskeid tussen welsyn en welvaart en rykdom en lewensverryking wat jou sal help om jouself te vind in iets wat groter is as jyself.

Willem Nicol – doyen van kontemplatiewe spiritualiteit en spirituele begeleiding – fokus op ’n spiritualiteit van eenvoud wat een van die min maniere is om die greep van die verbruikerskultuur te ontsnap. Hy help ons verstaan dat die genieting van jou bestaan alreeds genoeg rede is om vervuld te lewe, en dat die verdieping van jou geloof in die vryheid van uiterlike voorspoed lê.

Fay van Eeden – die leraar vir Nuwe Generasie, Lynnwood se jeugbediening – gee ’n teologiese sowel as ’n praktiese perspektief op hoe ’n “groen”-bediening in ’n gemeente kan werk. Die feit dat die Skepping die “groot boek” van God is – soos die Bybel die “klein boek” is – is vir haar al genoeg motivering dat ’n gemeente by versorging en bewaring betrokke sal raak.

Frans Hancke – Uitvoerende Direkteur van diePLAN, wat gemeentes in verskeie lande help om hulle missionale karakter uit te leef – fokus op twee verhale wat wys dat die evangelie ook met ’n groen kleur kan werk. Die een verhaal wys hoe die opruim van rommel en die geskik maak van grond vir plante en struike ’n voertuig raak vir die evangelie om in mense se lewe aan te kom. Die ander verhaal wys die teenoorgestelde, met die appèl aan almal van ons om die moontlikhede te ontgin wat ’n ekologiese bewussyn vir ons gee in die evangelie bediening.

André van Niekerk – gemeentedominee van Pretoria en gewilde rubriekskrywer – fokus op hoe leraars in God se gemeentes hulle kan help om meer soos ’n beweging van God self te laat optree. Geloof hoef nie ingekleur te word nie. Dit is alreeds groen. Ons kan mekaar aanmoedig tot ’n groen leefstyl, waarvan hy ’n hele aantal voorbeelde opnoem. Ons is geroep om saam met alle mense nuut op hierdie aarde te leef.

Diek en Marthie van der Zel – ’n lidmaategpaar wat in Morelettapark ’n groot herwinningsprojek begin het en tans op die Wes-Kaap Sinode se ekologie-taakspan dien – wys hoe ’n mens met die regte visie en passie ’n groot verskil kan maak. Op sy hoogtepunt het die “papier vir kos” projek 144 ton herwinbare materiaal ’n jaar opgelewer, waarvan die wins ingeploeg is in verskeie opheffingsprojekte.

Dawid de la Querra – ’n prokureur wat as tentmaker by die Sakkrappers-en-Karwas-bediening in Kimberley betrokke is – vertel hoe die leiding van die Here ervaar word as ’n mens iets begin doen, al is dit aanvanklik net uit jou eie aanvoeling van die nood. Wat as ’n barmhartigheidsprojek begin het, het in ’n verhoudingsbou-geleentheid oorgegaan wat uiteindelik nie net werk aan die sakkrappers verskaf het nie, maar ook die omgewing positief verander het.

 

 

Nog méér lesers vir Kruisgewys

Pieter Fourie, eindredakteur

Die gemeenteleiers van die Christelike Gereformeerde Kerk word die eerste keer as lesers van Kruisgewys verwelkom.

Bybel-Media stuur nou Kruisgewys gratis na alle dominees van die NG Kerk, die Afrikaanse gemeentes van die VGK SA, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en Gereformeerde Kerke.

Reaksie op die blad en sy inhoud word verwelkom by of
.

Add comment


Security code
Refresh