AddThis Social Bookmark Button
Vir dominees en gemeenteleiers wat omtrent almal akademiese en wetenskaplike kwalifikasies in die teologie het, het die onderwerp van spiritualiteit baie aktueel geword. Op ’n manier is dit mos asof die besef toeneem: Ons Godgeleerdheid en ons goeie hermeneutiek is nie meer genoeg om die geestelike mas op te kom nie.  Daarvoor het die uitdagings té kompleks geraak.

Dit is asof die besef van die naeffekte van die Aufklärung nóú eers begin posvat: Met die rede alleen gaan ons dit nie enduit maak nie. Die paradokse en pyn in die wêreld is eenvoudig té groot.

Hoe nou gemaak? Gee toe dat die logiese denke van die Westerse beskawing ons verseker goed gedien het – vandaar al ons wetenskaplike prestasies. Gee toe dat dit ons ongelukkig nie noodwendig gelukkiger gemaak het nie.

Dit is asof ons die vermoë tot kontemplasie en meditasie verloor het, want, sê iemand, daarvoor het ons heeltemal té “opionated” geword (vra enige dominee wat al ’n kerkvergadering bygewoon het wat dit beteken!). A la Bultmann het ons die misterie totaal ontmitologiseer.

Die Westerse Christendom het die lewensparadokse probeer objektiveer in dogmatiese stellings wat verstandelike instemming vereis, in plaas van ’n innerlike ervaring van die misterie wat hierdie stellings wou openbaar. (Dink maar aan die dogma oor die twee-natureleer: Die menslikheid Gods is so goed formuleer, maar dit kon nie die onmenslikheid van oorlog of apartheid verhoed nie! Die debat oor die opstanding van Jesus vra dat jy die regte formule moet gee, sonder dat jy noodwendig daarná anders dans.)

Die bekende mistikus, Richard Rohr, skryf: “All statements and beliefs about Jesus are also statements about the journey of the soul. All statements about ‘the Christ’ are statements about the Body of Christ, too. You do not ‘believe’ these doctrines; you know them. They are personal life experiences. Here, there is nothing to rationally prove or disprove” (The naked now, p 132).

Dogma en leerstellings is verseker goeie wegwysers in die regte rigting. Dit is egter makliker om hulle te glo, selfs om moreel te wees, as om op ’n spirituele reis te gaan waar ’n mens leer om waarlik die onderliggende openbaring van die dogmas op so ’n manier te ervaar dat dit jou transformeer. Hierdie reis is veronderstel om jou te verander in die manier waarop jy luister, hoor en reageer ten opsigte van God en ander om jou – veral diegene buite die grense van jou groep.

Die geestelike uitdaging vir ons as leiers is nie die vestiging van lawaaierige, charismatiese opwekkings waar “alles teen laer pryse uitverkoop” (Isak de Villiers) word of wat egotisties op ’n private reddings- en ontruimingsplan vir die volgende wêreld (Brian McLaren) fokus nie. Ons uitdaging is die vestiging van ’n spiritualiteit van harmonie tussen kop, hart en liggaam – in navolging van Jesus, op reis na eenheid met God en al sy mense.

Add comment


Security code
Refresh