AddThis Social Bookmark Button
"Mevrou, wanneer begin ons vir die Kerssangdiens oefen?” Ewe joviaal en belangstellend en gulhartig en akkommoderend. En totaal van koers af. So beduie die stywe nekkie en die dungetrekte bolip my; en veral ook die hardhandige staccato-orrelklanke deur die hele loop van die oggenddiens.

“Al die wydingsliedere word strydgesange. Iedere aanbiddingslied, ’n militêre mars. Die erediens word ’n kragmeting: prediker teen orrelis, troos en bemoediging versus aggressie en verontwaardiging” (Barend Vos, Tannie Perskop se potjiekospenarie … en ander pastorie­petaljes).

Nie alle orrelis-verhale is só humoristies nie. Dit kan die vrede in die kerklike binnewerke nogal omkrap as die orrelis buite die kerk staan en wag dat die voorafsang met snaar en trom eers klaar maak voordat hy of sy die kerk binnekom om agter die orrel stelling in te neem.

Kosters kan ook sorg vir hulle kwota vermaak of frustrasie – dit hang net af op watter plek jy in jou lewe is as jy aan die ontvangkant is.

In die dae van die oorhoofse projektor is ek en die koster een Saterdagoggend besig om die skerm en die projektor vir die Sondag se diens te organiseer. Dit is ook net in dié tyd dat die gemeente ’n medeleraar moet beroep. So tussen die gewerskaf met die apparate deur, sê Koster: “Dominee, nou moet ons ’n man kry wat kan preek! Nie Bybelstudie doen soos jy nie!”

Dominees het al vir my gesê dat ’n skriba jou bediening kan maak of breek. Notules, afsprake, boodskappe, stories en klagtes. Alles kom by die skriba verby, of …. steek daar vas!

Die teendeel van bogenoemde uitbeeldings is natuurlik ook waar.

Menigte orreliste se orrelspel en begeleiding is diens tot eer van die Here self. En die manier waarop die orrel en orkes mekaar in die erediens afwissel of aanvul, betrek al die gemeentelede, klein en groot, en verhoog die gehalte van die lofprysing en aanbidding.

Net so is daar kosters wat nie net sorg dat die glas water met suurlemoenstukkie en al vir die dominee reg staan nie, maar ook dat die water in die doopvont ter wille van die baba effe verhit is!

Daar is skribas wat werklik kan raakvat en kassiers wie se boeke tot op die sent balanseer en wie se uitbetalings op dag en datum plaasvind. Skoonmakers, tuinpersoneel, almal se insette is van ’n hoë gehalte en werklik tot die gemeente se heil en ’n getuienis van die Koninkryk.

Die vraag is hóé hierdie standaard bereik en behou word, en wát in die betrokke personeel se lewe gebeur sodat hulle hulle met soveel toewyding en oorgawe kan uitleef.

Die antwoord lê onder die volgende aspekte:

  • kennis
  • vaardighede
  • houding
  • gewoontes.

Kennis – Gedeelde roeping

Die gebruik van die word “uitleef” gee iets van die geheim weg. Personeel wat hulle werk nie maar net as ’n werk sien nie, maar as ’n roeping wat hulle uitleef. Hulle is, soos Paulus sê, “’n aangename geur”.

Personeel moet die geleentheid kry om aan mekaar hulle roepingsverhale te ver­tel. Al wat dit vra, is genoeg tyd en ’n rustige atmosfeer weg van die werk en die telefoon af. Om die goue draad van God se betrokkenheid in ons lewe met mekaar te deel, laat ons met sagter en verdraagsamer oë na mekaar kyk.

Leraars het hierin ’n fasiliterende funksie. Hulle behoort elke kerklike werknemer te help nie net om God se verhaal in hulle eie lewe raak te sien nie, maar ook God se verhaal in die gemeente. Wanneer dít gebeur, kan hulle gehelp word om ’n gedeelde gemeenteroeping te onderskryf.

Op sigself is dit vir die personeel versorgend en bemagtigend. Dit bind hulle tot ’n eenheid saam.

Kennis – Rolle

Daar is seker min dinge wat so verlammend inwerk in ’n mens se lewe soos onsekerheid. Daarom is dit so goed om jou roeping duidelik te sien en jou doelwit (en gedeelde doelwit) helder te verstaan.

Net so belangrik is dit om jou rol en jou plek binne die groter prentjie uitgeklaar te kry. Dit laat die verhoudings en verantwoordelikhede gemakliker vloei. Daar is dikwels baie onnodige frustrasie wanneer mense wel met een doel of roeping voor oë saamwerk, maar nie mooi weet wat hulle spesifieke rol is nie. Dit is eers wanneer die rolle uitgeklaar is, dat sinergie moontlik raak. Solank die gevoel daar is dat “ander op my terrein beweeg”, sal daar moeilik onderlinge vertroue en respek wees.

Kennis – Stand van sake

Dit is baie bemagtigend as daar op ’n gereelde basis (een maal per maand?) met die personeel oor die stand van sake in die gemeente gepraat word.

Elke gemeente se gesprek sal verskil. Dit is ook nie nodig om oor alles in diepte te praat nie. Juis daarom hoef dit ook nie ’n lang vergadering te wees nie. Dit gaan daaroor dat die verskillende personeellede iets van mekaar se wêreld hoor en verstaan. So deel hulle in mekaar se vreugdes en frustrasies.

Vaardighede

Sodat gesonde interpersoonlike verhoudings kan bestaan en verantwoordbare werk gedoen word, is daar drie basiese vaardighede wat enige mens behoort te openbaar:

  • denkvermoë
  • emosionele volwassenheid
  • effektiewe kommunikasie.

As daar aan hierdie vaardighede tekort gekom word, kan dit samewerking, effektiwiteit en vrede in die werkplek erg kortwiek.

Gelukkig is hierdie vaardighede wat ’n mens in gedrag kan waarneem. Daarom kan iets daaromtrent gedoen word en dit ingeoefen word. Oor elk van dié vaardighede kan boeke geskryf word. Die volgende is slegs enkele aspekte om in gedagte te hou.

Vaardigheid – Denkvermoë

Dit is die vaardigheid om inligting te kan identifiseer (raak te sien), organiseer (saak en persoon uitmekaar te hou), analiseer (wat is die betekenis?) en implementeer (toe te pas).

Vaardigheid – Emosionele volwassenheid

Dit is die vaardigheid om in die oomblik of situasie waarin jy jou bevind van jou emosies bewus te wees, te verstaan hoekom hulle daar is – en dit dan te kan beheer of benut soos die situasie dit van jou vra.

Dit sluit ook in om die emosies en emosionele behoeftes van ander te kan peil en daarby aan te pas (soepel te wees).

Vaardigheid – Effektiewe kommunikasie

Dit is die vaardigheid om in situasies van jou eie “stem” te vergeet. Om jouself volledig vir die oomblik vir die ander be­skikbaar te stel en só na die persone te luister dat hulle die vrymoedigheid het om vryelik en openlik te praat en te wys wat in hulle diepste wese aangaan. Dit impliseer empatie, begrip en die vermoë om die regte vrae te vra.

Houding

Om dit egter moontlik te maak, is ’n vriendelike omgewing waar die nodige onderlinge respek en vertroue is, noodsaaklik. Kom ons noem dit “houding”.

Houding – Respek en vertroue

Respek en vertroue is só basies aan gesonde selfverstaan en interpersoonlike verhoudings, dat dit nie anders kan as om aan die Goue Reël van die Bybel gekoppel te word nie: Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê.

Die ingesteldheid van selfontlediging (volgens die voorbeeld van Jesus Christus) is die noodsaaklike onderbou wat ons nodig het om in harmonie met ander saam te werk. Die vrug daarvan is niks anders nie as Galasiërs 5 se vrugte van die Gees.

Houding – Bemagtig

Waar en wanneer persone daarop ingestel is om liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing teenoor mekaar uit te leef en op te soek en uit te lig vir en teenoor mekaar, bemagtig hulle mekaar om hulle ware (geskape) self te wees. Dit is eenvoudig so dat wanneer jy mense help om hulle volle potensiaal te bereik, word jy self ál meer die mens wat God bedoel het jy moet wees.

Gewoontes

Bo en behalwe die goeie gewoontes op sosiale, fisiese en emosionele vlak wat ons kan inoefen om van ons gebalanseerde en gesonde mense te maak, is dit veral die geloofsgewoontes wat ons kan beoefen wat betekenis aan die lewe help gee.

Gewoonte – Wandel met God

Dit is daardie onverhandelbare af­spraak wat jy op ’n gereelde basis met God het. Tyd van rus en stilte om saam met God in sy teenwoordigheid te vertoef, sy Woord te lees, sy stem te hoor en daaroor na te dink.

Gewoonte – Wandel met mekaar

Om saam met ander te hoor wat God deur die Woord vir julle sê en wat julle ook vir mekaar te sê het – om saam te wag op die Gees se inspraak in julle lewe.

Gewoonte – Wandel na mense toe

Om die geleentheid te gebruik om die mense wat die kantoor kom besoek, as “vriendelike vreemdelinge” te sien na wie jy kan luister en met wie jy ’n stukkie pad kan stap sodat julle sáám die Here se teenwoordigheid kan beleef.

Dit kon eintlik daarop neer dat skriba, orrelis, koster, kassier, tuin- en sorgperso­neel in die gewoonte kom (hulle daarin oefen) om wat hulle ook al doen, te doen asof vir die Here. Dit is niks minder nie as om van die lewe en werk ’n geloofsreis te maak.

Pierre Goosen is in sinodale diens, onder andere verantwoordelik vir predikantebegeleiding
Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (Gemeentelike personeel kort ook versorging.doc)Gemeentelike personeel kort ook versorging.docPierre Goosen35 Kb

Add comment


Security code
Refresh