AddThis Social Bookmark Button

Om ’n nuwe kultuur te ontwikkel en te vestig, is dikwels moeilik en langsaam. Dit hang saam met hoe gevestig ’n ander kultuur was en is en wat die persepsies rondom die toekoms en voortgang daarvan is. 

’n Nuwe kultuur

So is dit ook met die vestiging van ’n kultuur van brugleraars waarmee sommige gemeentes begin eksperimenteer.

Die heersende kultuur, soos ons dit uit die verlede goed ken, is dat vakatures in gemeentes so gou moontlik gevul moet word.

Die proses van ‘rou’

Die denke agter die interim- of brugbediening is egter die teenoorgestelde. Dit wil juis hê dat ’n gemeente nie dadelik moet beroep in die geval van ’n vakature nie.

Die idee is dat gemeentes gehelp moet word om te “rou” oor die skeiding met ’n predikant.

Interessant genoeg word hierdie proses van rou as redelik onafhanklik van gemeentes se ervarings in spesifieke gevalle gesien. Brugleraars word voorgestel in alle gevalle waar vakatures ontstaan, of die vorige ervaring met die leraar nou positief was of nie. 

Kultuur van vinnige beroepe

Die bestaande kultuur van vinnige beroepe kom natuurlik oor baie jare heen. Sommige van ons dink selfs dat die situasie mettertyd erger geword het, dat daar onnatuurlik vinnig beroep is.

Die rede daaragter is waarskynlik dat gemeentes dikwels in ’n ekklesiologiese denke vasgevang is wat met die idee werk dat dit eintlik die dominee is wat identiteit aan ’n gemeente gee. “Gemeentes kan nie sonder dominees nie,” is waarskynlik in die onderbewuste. 

Predikante neem gemeentes se dienswerk oor

Predikante self het dikwels oor jare hierdie soort kultuur gevestig. Eerder as om gemeentes op te lei vir hulle dienswerk, was dit meer male so dat predikante die gemeente se dienswerk oorgeneem het. Daarom is die gemeente se dienswerk dus grootliks “vakant” as hulle nie ’n dominee het nie – of só dink hulle. 

Afskeid ’n vorm van kollektiewe trauma

Natuurlik is dit so dat hierdie soort dominee, wat namens die gemeente optree, gemis word wanneer sy of hy weggaan. Dit geld ook dominees wat daarop gefokus het om gemeentes te begelei om hulle eie dienswerk te verrig.

Die afskeid neem ’n bepaalde vorm van kollektiewe trauma aan: Iemand se plek is leeg. Selfs wanneer gemeentes “bly” mag wees dat iemand weg is, is daar steeds ’n afskeidsproses. 

Gemeentebou-leraars skuif nie maklik nie

As iemand by my ’n kursus sou bywoon, sou hulle my hoor sê dat gemeentebou-dominees nie skuif nie – immers, nie maklik nie.

Die begeleiding van ’n gemeente tot ’n nuwe missionale verstaan van hulle bediening, neem tyd. Dit vra die besondere kwaliteit van ’n vertrouensverhouding om so diep en soms dramaties te verander. Wanneer so iemand vertrek of aftree, is daar hartseer en ontwrigting. 

Gemeentes en leraars val soms vas

Ons sien dit ook by gemeentes wat ’n sug van verligting slaak oor die afskeid. Sulke gemeentes beleef baie keer dat hulle predikante nie self bly groei en ontwikkel het nie, en dat die dominee in die bepaalde gemeente “vasgeval” het.

Sulke predikante beleef natuurlik self ook ’n stuk verstrikking. Byna ’n gesindheid van: “Hier sit ek nou. As ek kon weggaan, was ek lankal weg.” Dit staan teenoor: “Net ’n duidelike roeping van die Here sal my hier wegkry,” wat deel van die identiteit van gemeentebou-leraars is.

Wanneer só ’n “vasgevalle” leraar vertrek, is die ontwrigting nie veel minder nie, al is daar ook verligting.

Die hartseer is dán dikwels dat die een wat “vasgeval” het (en eintlik al weg wou wees), tog ook ’n bepaalde verstaan van kerkwees gekweek het – bedoeld of onbedoeld. Wanneer so iemand weggaan, sal ’n gemeente waarskynlik graag so gou as moontlik weer wil beroep. Hulle dink dit kan net beter gaan. Wat die inhoud van hierdie “beter” is, is dikwels nie oor nagedink nie – en dit is dikwels beslis nie ’n missionale verstaan van die gemeente nie. 

Begeleiding deur brugpredikant noodsaaklik

Juis hier is begeleiding deur ’n goed-opgeleide brugpredikant egter so nodig.

Om wat te doen?

Om ’n gemeente te help om afskeid te neem, die verlede te verwerk en dan om die regte redes ’n predikant te beroep wat hulle kan help om hulle dienswerk te verstaan en te doen (vgl Ef 4: 1-16).

Wanneer die gemeentebouer weggaan, is die hartseerkant van afskeid waarskynlik duideliker op die tafel. Dan word die proses selfs soms, in ’n meer tegniese sin, “kollektiewe traumaberading”. Daarna volg die proses van voorbereiding vir die aanvaarding van ’n nuwe predikant.

In hierdie geval word ’n gemeente voorberei vir ’n nuwe lewensmoontlikheid. Die bekende verskil tussen treur en rou is hier belangrik: Treur hou vas en maak dat gemeentes na die verlede verlang; rou is pynlik, maar bring genesing en maak die gemeente gereed vir nuwe (toekoms-) lewensmoontlikhede. 

Brugbediening is in belang van gemeentes

Dit is aan hierdie kultuur van begeleiding deur brugleraars waaraan ons tans werk. Dit neem gemeentes en wat by hulle gebeur ernstig.

Brugbediening is in belang van gemeentes. Maar dit is nie net vir die gemeente belangrik nie. Dit is tot voordeel van die hele sisteem van die kerklike verband. Die hele kerkverband behoort dus aan hierdie kultuurverandering deel te neem. Een of meer persone wat hieroor passievol is, sal dit nie alleen regkry nie. 

Verband moet help om kultuur te verander

Die leierskap op rings- of klassisvlak is in hierdie sisteembenadering van kritiese belang. Dit mag selfs dié enkele kernsaak in die kweek van die kultuur wees wat die sisteem kan laat draai.

Sonder die belangrike inset van ringe of klassisse wat dit onderling hulle agenda maak, sal die kultuur hier rondom nie ver­ander nie. Selfs vóór vakatures ontstaan, veral waar dit met aftrede verband hou, behoort gesprekke met gemeentes hieroor gevoer te word. Wanneer die vakature eers daar is, is dit baie keer te laat.

Sinodes kan baie help met die identifisering van leraars wat brugpredikante kan wees. Sinodes kan selfs (soos in buitelandse kerke) ’n span opgeleide brugpredikante voorsien wat geplaas en betaal word.

Predikante moet gemeentes voorberei vir hulle afskeid

Miskien sal dit help as ons wat in die bediening staan, self beter verstaan dat ons “daar wees” en ons “weggaan” intense invloed op gemeentes het. Ons behoort in ons bediening elke dag daarmee rekening te hou en gemeentes daarin te begelei en vir afskeid voor te berei.

Miskien is die lakmoestoets nie soseer wat ons doen terwyl ons daar is nie, maar wat ons nalaat wanneer ons weggaan.

Dit mag lank neem, maar dit is die moeite en tyd werd. Gemeentes is hiervoor belangrik genoeg.

Malan Nel is wyd bekend as spreker en skrywer en tans buitengewone professor aan die Universiteit Pretoria
Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (Vestiging van 'n kultuur van brugpredikante.doc)Vestiging van 'n kultuur van brugpredikante.docMalan Nel30 Kb

Add comment


Security code
Refresh