AddThis Social Bookmark Button
In ’n baie groot mate verkeer leraars en gemeentes in ’n sonderlinge soort huweliksverhouding. Dit het sy positiewe maar ook sy negatiewe kante. En soos met enige huwelik, is dit meestal derdepartye wat vir ernstige probleme in dié huwelik verantwoordelik is.

Leraar en gemeente ’n ‘huweliksverhouding’

Eggenotes, by wyse van spreek, is nie juis geneë nie, wat nog te sê opgewonde, om hulle lewensmaats met ander te deel. Dit geld vir die leraar sowel as vir gemeentelede, of in baie gevalle, groepe gemeentelede met gevestigde belange en sienings.

Een van die redes hiervoor is dat min gemeentes sommer van meet af aan wegtrek met ’n span van twee of meer leraars. Meesal in gemeentes se verhaal is daar ’n eerste, langer-dienende of ouer leraar vóórdat ’n volgende of volgendes beroep word. Deurgaans is dit dus die geval dat ’n reeds bestaande verhouding met al sy positiewe en negatiewe bestanddele “uitgebrei” word wanneer nog ’n “eggenoot” ingebring word. In snelgroeiende gemeentes gaan hierdie tendens voort, totdat daar later ’n span van medeleraars is wat op ’n verskeidenheid maniere in ’n wedersyds-bevredigende verhouding met mekaar moet saamwerk.

Dit is sleg om te sê, maar die werklikheid is dat dit lyk asof in baie gevalle medeleraarverhoudings nie juis voorspoedig verloop nie. Die spanning, negatiwiteit en konflik wat die verhoudings tussen leraars versuur, kom voort vanuit ’n legio van motiverings, situasies en omstandighede.

Baie keer word die negatiewe ervarings van die betrokkenes ter wille van die vrede (wat eintlik ’n valse vrede is) maar liewers onder die mat ingevee, verdra en opgekrop.

Persoonlikhede

Die oorgrote meerderheid van hierdie faktore kan waarskynlik aan die persoonlikhede van die leraars self gewyt word.

Ander kom voort vanuit die komplekse toedrag van gemeentelike verwagtings en situasies.

Daar is byvoorbeeld heel dikwels ’n diskrepansie tussen gemeentes se verstaan van en bereidheid om hulle roeping uit te leef en leraars se strewe na die uitleef van hulle eie persoonlike roepings. Wanneer hierdie soort diskrepansie verder vermenigvuldig word met die toetrede van nog leraars tot ’n gemeente, kan ’n mens verwag dat dit ekstra druk op die onderlinge verhoudings gaan plaas.

Sosiologiese faktore

Onmiskenbaar is dit eweneens ongelukkig ook so dat die mees deurslaggewende faktore vir identiteitsvorming in gemeentes eerder sosiologies as teologies bepaald is.

Gemeentelede is merendeels, wat hulle selfbesef en voorkeure betref, eerstens gewone mense: Ontwikkeldes, gegoedes, konserwatiewes of wat meer, nog vóórdat hulle nuwe skepsels in Christus Jesus is, en daarom ’n gemeente volgens sy voorkeur en verwagting.

Gevolglik is dit vir baie gemeentelede eenvoudig aanvaarbaar en regverdigbaar om hulle voorkeurleraar te hê. Dienooreenkomstig verdra hulle die ander leraar(s) bloot.

Nóg erger: Hulle spreek hulle afkeer van en kritiek teenoor die ander leraars uit – in baie gevalle leef hulle dit ook uit.

Hierdie houdings en optrede van gemeentelede het ’n direkte invloed op die leraars self. Dit stempel dikwels hulle onderlinge verhoudings.

Meerdere hoofde het meerdere sinne

In gesprekke met predikante in medeleraarsverhoudings, het elkeen van hulle besef dat hulle medeleraars baie belangrik is vir die uitvoering van hulle eie bedienings. Tog voel hulle hulle primêr aan die gemeente verbonde en verantwoordbaar. Derhalwe sal hulle eerder vir ’n “gesonde” verhouding met die gemeente kies as met hulle medeleraar(s), ongeag of hulle korter of langer in die bediening van die gemeente is.

In hierdie verband kom ook dikwels die kwessie van gefokusde leierskap en deurslaggewende besluitneming in gemeentelike inisiatiewe na vore. Meerdere hoofde het meerdere sinne. Dit bring dikwels verwarring, onenigheid en selfs opposisie tussen verskillende groepe teweeg.

Die effek van ‘regte’ leraars-eggenotes

Soms word die sout in die sop van die alreeds sensitiewe verhouding tussen medeleraars ongelukkig ook deur leraar-eggenotes gegooi wat nie met mekaar oor die weg kan kom nie.

Leraars se lewensmaats speel ’n baie groter en belangriker rol in die bediening van gemeentes as wat allerweë besef en erken word – meesal gelukkig positief.

In gevalle waar medeleraars se lewensmaats op ’n negatiewe manier met mekaar omgaan, maak dit die kanse van gesonde kollegiale verhoudinge tussen medeleraars byna onmoontlik. Daarom is daar ’n hele klompie verhale van slegte medeleraarverhoudings, waarvan die wortels in die optredes en ingesteldhede van eggenotes teenoor mekaar teruggevind kan word.

Verbind aan die ware ‘Eggenoot’ van die gemeente

Die paar opmerkings tot dusver mag die indruk skep dat medeleraarverhoudings in die geheel bejeën word as ’n ongeluk wat ’n plek soek om te gebeur en daar nie juis ’n goeie woord daaroor te sê is nie.

Gelukkig is die teendeel van gespanne en konflikterende huwelike ook die geval. Deur die genade van die liewe Here is daar ’n hele klomp baie gesonde en gelukkige medeleraarsverhoudings – verhoudings waar die kollegas met die gesindheid van Christus daarna streef om werklik mekaar, die gemeente en veral die Heer en ware “Eggenoot” van die gemeente, te dien. Waar ’n emosioneel-gesonde spiritualiteit heers, is daar ver­hale van vreugde, groei en positiwiteit in medeleraarverhoudings.

Groei in geloofsvolwassenheid

Iemand het immers beweer dat God die huwelik ingestel het om grootmense te help om volwasse te word.

In daardie lig is medeleraarverhoudings in der waarheid unieke geleenthede en uitdagings vir al die betrokke partye om in geloofsvolwassenheid te groei. Daarom is die mees basiese vertrekpunt en deurlopende praktyk waarop sinvolle en wedersyds opbouende kollegiale verhoudinge in die bediening van gemeentes gebou behoort te word, die vestiging van soliede en eerlike koinoniale verhoudings tussen die onderskeie pastoriepare.

Deelname aan en uitbou van sulke verhoudings is ’n ideale oefenskool om egte en opbouende verhoudings binne geloofsgemeenskappe in die breë te skep.

Scott Peck reken dat ware menslike liefde eintlik is om ongekwalifiseerd na die geestelike welsyn van die ander party in ’n verhouding te soek en te streef. Insgelyks kan met reg gedink word dat waar kollegas en hulle eggenotes in die bediening hulleself daarop toelê om mekaar eg lief te hê, hulle dit eintlik doen in belang van die gemeente waarvan hulle deel is.

Positiewe voorbeeld en motivering

Langenhoven het glo op ’n keer gesê: “Die grootste geskenk wat ’n man aan sy kinders kan gee, is om hulle ma lief te hê.”

In ’n effe aangepaste vorm kan ons vanuit hierdie stukkie aardse wysheid agterkom dat die grootste geskenk wat medeleraars in hulle bediening aan gemeentes kan gee, is om werklik in ’n egte liefdesgesindheid hulle kollegiale verhouding te vestig en te laat leef. Die verhale wat omtrent gesonde en positiewe medeleraarverhoudings beleef en vertel word, onderstreep dat dit die geval is. Waar leraarspare regtig prioriteit gee aan hulle onderlinge verhoudings met mekaar, dien dit as ’n baie positiewe voorbeeld en motivering vir die gemeentelede om ook binne die verskeidenheid van komplekse verhoudings waarbinne hulle hulleself daagliks bevind, na ’n positiewe uitkoms te streef.

Wanneer die totale getal van medeleraarskappe in gemeentes op ’n weegskaal geplaas sou word, sou dit myns insiens tans nie na die positiewe kant toe kantel nie. Dit dui daarop dat harde werk voorlê, weliswaar met die vooruitsig van ’n baie beter toedrag en ervaring vir al die betrokke geloofsgenote.

Jan Woest is ‘n bokboer wat lief is vir boeke en wonder of ons gewone ­sterflinge tog eendag sal begin verstaan hoe lief ons Hemelse Vader ons regtig het.
Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (Die vreugdes en pyn van medeleraarskap.doc)Die vreugdes en pyn van medeleraarskap.docJan Woest31 Kb

Add comment


Security code
Refresh