AddThis Social Bookmark Button
Dit is moeiliker om oor verwag­tings te skryf as wat ek voorsien het.

Meer biografies as wetenskaplik

Ek kan eintlik nie anders as om in dié proses meer uit my eie herinneringe te put nie.

Dit beteken aan die een kant dat hierdie artikel meer biografies as “wetenskaplik” gaan wees. Gerben Heitink het darem ’n omvangryke werk onder die titel, Biografie van de dominee geskryf (2001). Biografiese nadenke kan ’n mens tot ’n dieper en méér verantwoorde blik op jouself en jou bediening lei.

Aan die ander kant open só ’n aanpak ook die moontlikheid dat almal wat dit lees, hulle eie inkleding van die biografiese perspektiewe kan maak. En dalk is die verwagtings wat ons as dominees ervaar – méér as wat ons miskien sal wil toegee – eintlik maar spieëls wat aan ons eie herinneringe hang. Dalk het ons in die verwoording van ons eie verwagtings eerder met onsself as met die verwagtings van ander te make.

Kwaai ‘caring’ mans

My eerste herinnering van dominees is dié van streng, vroom, kwaai, en tog “caring”, mans.

Daar word vertel dat my pa, wat ’n dominee was, my op ouderdom vier in die kerk stilgemaak het (let wel, van die kansel af!) omdat ek té veel gevroetel het. Hy vertel self dat die ouderlinge hom in die konsistorie hieroor gekapittel het. Hulle was bang dat ek eendag die kerk sou verlaat as ek groot is.

Relevante jongmense

Met die Jeug-tot-jeug-aksie van 1974 is die verwagting by my wakker gemaak dat predikante relevanter vir die nuwe generasie kan wees. Die jonger dominees het gemakliker ons taal gepraat en by ons wêreld as tieners aansluiting gevind. Dit het my hoop gegee en die evangelie aan ’n spesifieke leefstyl verbind. Ons kon ons bediening en lewe op dié van jong dominees moduleer.

Draers van die waarheid

As jong volwassene op universiteit, het my verwagting egter na die predikant as draer van die waarheid beweeg. Ek het op die inhoud van die prediking ingestel geraak, onder andere om met mense in gesprek te kon gaan oor verskillende leerstellige sake. Ek wou wéét, méér weet – en die predikant was my bron van inligting.

Gemeentebou

As jong leraar het ek oor myself die verwagting gehad dat ek die gemeente moet help groei.

Gemeentelede het hulle gawes ontdek. Ek het gehelp dat hulle in groepe georganiseer en gemobiliseer word om hulle gawes in dienswerk uit te leef. Onder die invloed van die teologie van gemeentebou en die gepaardgaande liggaamsmodel, was die bediening met aktiwiteite gevul. Ek het van dominees verwag dat hulle besig sou wees – natuurlik ook van myself.

Geloofsonderskeiding en geloofsvorming

Later het ek in my verdere studies en leeswerk meer oor strategie en die dinamika van verandering in gemeentes begin wonder. Ek het van myself die verwagting as ’n veranderingsagent gekry.

Nóg later het ek gestuurdheid ontdek, en daarmee saam geloofsonderskeiding en geloofsvorming.

Elke nuwe fase in my bediening het gepaard gegaan met nuwe verwagtings en die rolle om daaraan gestalte te gee.

Ek sou daarom ook dié biografie kon skryf met ’n ander hoed op: Die verwagtings wat ander oor my gehad het en die druk wat dit op my geplaas het, veral as dit verwagtings was waaraan ek nie kon voldoen nie. Maar dit vir ’n ander keer.

Voortdurende verandering

As ek nou terugkyk, het ek mettertyd dus geleer dat die verwagtings van predikante en die rolle wat daarmee saam vir hulle voorsien is, baie méér vloeibaar is as wat die meeste van ons wou toegee.

Ek moes natuurlik ook rolle vervul wat ander aan my toegeken het. In die proses het ek ook rolle aan myself gegee.

Die mees konstante faktor in die hele ontwikkelingsproses was daarom miskien dié van voortdurende verandering.

Die noodsaak van begeleide refleksie

Uit die hoek van hierdie perspektief, is ek vandag spyt dat ek nie méér gereeld oor die rolle en verwagtings wat ander vir en van my gehad het gereflekteer het nie.

Méér nog, ek is spyt dat ek nie vroeër intensiewer gereflekteer het oor die verwagtings wat ek van myself gehad het nie.

Dit is maar die afgelope paar jaar wat ek gereeld met ’n mentor hieroor gesprek voer en wat ek my tot ’n meer gereelde refleksie hieroor verbind het. Gereelde nadenke op ’n vroeër stadium sou my beslis met ’n dieper bewussyn gehelp het oor wíé ek is, hóé ek my roeping verstaan en wátter rol ek kan en moet speel.

Oorgangstye vestig nuwe vaardighede

Daar was oorgangstye in my bediening waar ek baie onseker was van myself. Toe het ek nie genoeg gedoen het om my bewussyn dieper te verken om die bewegings van die Gees raak te sien en die verskillende momente van ontwaking in my roeping agter te kom nie. Ek het ook nie die nuwe vaardighede verreken wat ek besig was om in myself te ontdek nie.

Dié tye het my gedwing om my eie grense te toets, sodat ek nuwe vaardighede kon vestig.

Hoewel ek meestal in spanverband gewerk het en ons baie gesprekke gehad het oor rolle en modelle, was die gesprek wat ek na binne gevoer het – oor wie ék is en wat ék kan doen – ’n alleengesprek waarin ek meestal verdwaal het.

Sentrum vir Begeleiding van Predikante

Hierdie perspektiewe maak deel uit van die motivering vir ons besluit by Communitas om ’n Sentrum vir Begeleiding van Predikante te ontwikkel. In dié Sentrum beoog ons om predikante in ’n gestruktureerde refleksie juis oor verwagtings, rolle, vaardighede en bevoegdhede te begelei.

Indien daar nie gereelde dialoog hieroor is nie, sê Otto Scharmer, ontstaan daar blindekolle by ons. Ons leef dan later binne ongetoetste persepsies oor onsself en die bediening, wat ons begin glo asof dit getoetste waarhede is. Fiktiewe en verbeelde verwagtings word geglo as werklik en waar.

Ek het onlangs die voorreg gehad om persoonlik ’n toetslopie van die Sentrum vir Begeleiding te ervaar. Die terugvoer wat ek hieruit ontvang het, het my gehelp om blindekolle in myself raak te sien, waarvan ek vir seker nie op my eie bewus sou kon word nie.

Nuwe insigte lei tot ’n groeiplan vir ontwikkeling

In die proses van die Begeleidingsentrum word jy aan ’n reeks bedieningsuitdagings blootgestel wat jy in ’n hoëdruksituasie moet uitvoer. In die uitvoer van dié pligte (onder andere deur rollespel) en die refleksie hieroor, word jy gehelp om patrone te identifiseer en jouself aan vlakke van bevoegdhede te toets.

Dit is ’n baie uitdagende proses. Dit het uitsluitlik ten doel om jou vermoëns te toets sodat jy ontdekkings oor jouself kan maak wat jy moeilik op ’n ander manier sal agterkom. Saam met ’n reeks psigometriese toetse (bv MBTI en die Organic Scorecard) en ’n 360-terugvoer uit die gemeente, word die prentjie van die blindekol oor jouself helderder ingekleur. Met hierdie nuwe insigte word jy dan gehelp om ’n groeiplan vir jouself te ontwikkel wat jy in gesprek met ’n mentor implementeer.

Benut die ruimte vir persoonlike groei

Ek wonder of die predikante van my jeug ook beleef het dat verwagtings en rolle baie gedurende hulle eie bedieningstyd verander het?

Dalk het hulle beleef dat baie meer aan hulle voorgeskryf is as aan ons vandag. Miskien was daar in hulle tyd minder ruimte of geleentheid vir persoonlike groei.

Daarenteen weet ek dat ons vandag méér ruimte het, wat ons dikwels nie genoegsaam benut nie. Dalk is dit omdat ons nie genoeg eerlike terugvoer kry wat ons kan uitdaag om dieper te kyk en te begryp nie. Méér nog, dalk word ons vandag nie genoeg vir ons eie groei verantwoordbaar gehou nie.

Die probleem is dus waarskynlik nie die rolle en verwagtings nie. Die eintlike probleem is dat ons op ons eie probeer groei – en dan in ons blindekolle verdwaal.

Ons skuld dit aan onsself, aan die Here – en natuurlik aan gemeentes en die wêreld – om iets hieraan te doen.

Frederick Marais van Communitas in Stellenbosch het ’n passie om gemeentes te begelei om hulle roeping te ontdek en hulle gawes te ontsluit.
Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (Wat verwag predikante van hulleself.doc)Wat verwag predikante van hulleself.docFrederick Marais32 Kb

Add comment


Security code
Refresh