AddThis Social Bookmark Button
Vandat ek kan onthou, was ons dominee iemand van wie daar met respek gepraat is en wat ’n baie sterk invloed in ons gemeenskap gehad het. Duidelik het Dominee se mening getel. Wat hy gesê het (altyd ’n hy!), was gewoonlik aanvaar as reg en waar.

Ons dominee het gewéét

Dit was immers die rol van die predikant om vir ons te sê wat reg en verkeerd is, wat waar en onwaar is.

Ek kan onthou hoe ek as kind nie kon wag om self by ons dominee kategese te hê nie. Ek sou al my vrae vir hom kon vra en al die antwoorde kon kry op goed waaroor ek al baie jare gewonder het.

 

Die wêreld was daardie tyd mos maar so. As jy wou weet wat om te doen en wat reg is, het jy jou “leermeesters” gevra. Onderwyser, ouer(s) of kategeet of dominee, maak nie saak nie, hulle sou weet.

Dominee het ook elke Sondag verkondig dat hy weet, want op ons kanselkleed het gestaan: “So spreek die Here, Here”.

Ek het altyd gewonder hoekom moet jy twee keer “Here” sê. Anders as Ferdinand Deist wat nie die kans wou vat nie en toe maar die kanselkleed toegevou het, het ons dominee hard en duidelik vanaf die kansel bo dié kleed met ons gepraat.

Die era van die ‘attractional’-bediening

Vandag se dominees het egter ’n ander uitdaging. Die lidmate het sommer self die kanselkleed, partymaal letterlik maar meesal figuurlik, afgehaal. Dit is nou die era van die kerkjaar-kanselklede wat met elke volgende periode in die liturgiese jaar van kleur en ontwerp verander word. Die kerkgebou het liturgies meer simbolies geraak. Mense verwag om op verskillende vlakke (sintuiglik) bedien te word.

Dalk is dit ook die era wat die “attractional”-bediening ingelui het. Die elektroniese borde met sy rooi liggies was die wegvoorbereider vir die multi-sensoriese dataprojektor. Borde of mure waarop dit kon skyn, was een van die uitdagings. Soms staan ek nog verstom dat kerkrade toestemming gegee het vir gate om geboor te word en pype te laat hang uit argitektonies-sensitiewe dakke.

Die gevolg is twee tot drie uur langer se preekmaaktyd vir die dominee. Dit hang net af van hoe vaardig jy is met Powerpoint! Hoe vaardiger, lyk my, hoe langer. Want daar is ook mos goed soos animasies en bewegings wat kan invlieg, tuimel of hop. Kortom, daar is die afgelope paar jaar van dominees verwag om die kerk weer “vol te preek”. Mense is gewoond om as verbruikers aan te dring op die beskikbaarheid van dienste wat op ’n sekere standaard is. En die kerkbanke huisves immers ook verbruikers ...

Toenemend gaan dominees onder hierdie verwagting van aanbieding of “presentation” gebuk. Wat dié druk bring, is nie die verwagting as sodanig nie, maar die uiteenlopende aard van die verbruikers se behoeftes. Daar is ál hoe meer lidmate wat kort, kragtige en relevante kontemporêre aanbiedings verwag, teenoor ’n steeds beduidende groep wat so te sê net die teendeel verwag – met miskien die gemene deler van … “kort”!

Die skuif na geloofsonderskeiding

Met die steeds toenemende druk om hierdie balans te probeer handhaaf, is daar ’n nuwe woord op die lippe: geloofsonderskeiding!

Mense wil nie meer kom vir ’n aanbieding of “presentation” nie, maar eerder vir onderskeiding (“discernment”).

Daar moenie meer “downloading” wees nie, maar deelname (“participation”). Mense wil nie voorgesê word nie; nee, hulle wil self ontdek.

Dit is ook die tydsgees waarbinne ons leef. Internetaktiwiteit het ’n paar jaar terug al geswaai van aflaai na oplaai. Daar is meer beweging op die internet van mense wat iets daarop plaas as wat daar mense is wat iets aflaai!

Klink dit onmoontlik? Vra net ’n paar tieners se mening. Die hoeveelheid data wat hulle “post” op “walls”, op “profiles”, “tweet” en “share”, laat jou vinnig verstaan die landskap het verander.

Om dus vandag nog ’n uur van jou tyd te gee waar jy passief sit en geen kans het om te “post” of te “upload” nie, is ondenkbaar. Vandaar die uitdaging aan eredienste. Voeg daarby nog ’n bietjie skeptisisme oor wat leermeesters jou kan leer en hoe “connected” die “dude” daar voor is, en jy het ’n resep vir ’n groot uitdaging.

Die behoefte aan kontak met God

Uitdaging ja, nie chaos nie. Want sien, al hierdie “super-connected”, selfondersoekende verbruikers is ook net geskapenes van die Here na sy beeld.

Almal se groot behoefte is net om met Hom kontak te maak. Sagaria 8 eindig met die visie van vers 23: “Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: ‘Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.’” As mense beleef God is daar, sal hulle ook daar wil wees.

So, hoe kry ons God wat altyd by ons is se teenwoordigheid raakgesien? Wat moet ons doen om mense die besef van Immanuel – God-met-ons – te laat beleef?

Sluit aan by God se werk

Daar is seker baie meer maniere as wat ons ooit sal kan besef.

Die één manier wat ek die afgelope tyd sien, is dat as ons kan aansluit by God se werk en medeskeppers van sy nuwe Koninkryk raak, ja, dat ons Hom sal belééf.  

God is die Skepper-God. Ons maak met Hom kontak as ons ook met skepping of herskepping besig raak, veral waar ons die belewenis het dat God die primêre Skepper is en ons bloot medewerkers.

Genesis 1 vertel ons van die Gees wat oor die waters gesweef het. Miskien is dit die sleutel. Ons sal moet glo dat die Gees van God híér is, en dat dié Gees vry is. Vry om te werk en te skep en te herskep en ons in te nooi.

Dit vra egter van ons om van ons “kansels” af te klim en die risikogebied van geloofsonderskeiding te betree.

Dit vra die geloof dat ons met die teenwoordige God sélf kontak sal maak. Ek en jy hoef nie die tussengangers te wees nie, eerder die begeleiers.

Begeleier en bemagtiger

Dit vra dat ons vertrou dat die uitkomste wat bereik word, heilsaam is, selfs al is dit anders as hoe ons dit voorsien het.

Dit vra dat ons bereid is om beheer te verloor en ook om deur ander bedien te word.

In kleingroepe is dit makliker en gebeur dit meer spontaan.

Hoe dit in groot groepe soos eredienste werk, sal ons sáám moet ontdek. Hoe dit ons predikant-wees beïnvloed, is nog weer iets anders. Al wat ons weet, is dat alles gebeur … as mense kontak maak met God.

Mag ons ons werk as leraars sáám herdefinieer. Ons mag nooit voel dat ons nie werk nie as ons net prosesse begelei en nie die hele tyd inhoud oordra nie; as ons mense bemagtig, en nie self die vonk verleen nie; as ons net ruimte maak, en dit nie heeltyd self vul nie.

Gielie Loubser van Communitas glo dat die beste kans wat ons het om jongmense tot volwassenheid in Christus te begelei, die skep van veilige ruimtes is, asook om ouers te bemagtig om met (hulle) kinders ’n positiewe pad te stap. Dit is as ons God se teenwoordigheid en werking sáám raaksien dat ons met Hom en mekaar kan kontak maak – wat die grootste behoefte van elke mens is.
Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (Wat word vandag van 'n predikant verwag.doc)Wat word vandag van 'n predikant verwag.docGielie Loubser31 Kb

Add comment


Security code
Refresh