AddThis Social Bookmark Button

Gister en vandag is nie dieselfde nie. Die wêreld, insluitend die kerklike wêreld van 10 en 15 jaar gelede, verskil ingrypend van vandag s’n. Dit sal môre ook wéér anders lyk.

Suksesvolle en effektiewe leierskapsvaardighede van die verlede waarborg nie meer vandag dieselfde resultate nie.

Een reaksie aan die een kant is om aan die ou styl en strategie vas te hou en vir die beste te hoop. Aan die ander kant kan die nuwe uitdagings met kreatiwiteit en entoesiasme tegemoet gegaan word. Albei kontrasterende reaksies skep spanning by predikante en plaas hulle binne uitdagende situasies wat hanteer moet word.

Die rol en taak van die leierskap van ’n gemeente, spesifiek van die predikant, word voortdurend uitgedaag en oor geskryf.

Is daar nog vreugde en roepingsvervulling in die taak van gemeenteleier? Om meer spesifiek te wees: Hoe gaan dit met predikante? Om van dié vrae te beantwoord, kan gekyk word na van die bevindings van die eerste Predikantepaneel.

’n Kort metodologiese verduideliking is hier van pas.

Die Predikantepaneel is ’n nuwe meetinstrument wat die Kerkspieëlspan ontwikkel het. ’n Groep dienende predikante vorm ’n paneel. Hulle is drie jaar lank verbind om ongeveer tweemaal per jaar ’n vraelys rondom sekere relevante sake in te vul.

’n Ewekansige steekproef van 10 persent is uit 1 540 dienende NG-predikante getrek. Die steekproef­populasie was dus 154 predikante.

Die opname het gedurende November en Desember 2011 per e-pos plaasgevind. 104 vraelyste is terugontvang, waarvan 99 ten volle ingevul was. Die responskoers was dus 68 persent.

Die biografiese samestelling van die respondente lyk so:

Geslag: 97 persent manlik

Kwalifikasies: 30 persent het ’n B-graad, 31 persent ’n M-graad en 17 persent ’n D-graad in teologie.
41 persent het ’n B- of Honneursgraad in ’n nie-teologiese rigting.

Ouderdom: Nege persent is jonger as 40 jaar, 29 persent 40 tot 49 jaar, 50 persent tussen 50 en 59 jaar en 12 persent is ouer as

60 jaar.

Die eerste opname het oor die predikant se lewe en werksomgewing gehandel.

Van die aspekte wat ondervra is, sluit in: die predikant se persoonlike en gesinslewe, die bediening in die gemeente, die predikant se finansies, mobiliteit en aftrede, en laastens sy of haar diensverhoudinge. (Die volledige verslag is per e-pos aan al die predikante gestuur, maar kan ook by www.gemeentes.co.za afgelaai word.)

Dié artikel wil ’n paar kenmerke uitwys om ’n gesprek oop te maak rondom die predikant se lewe en werksomgewing.

Die predikant se rolvervulling in die geloofsgemeenskap, speel ’n krities-belangrike rol. Daarom is die gesprek nie net in kerkverband nie, maar ook vir elke gemeente van alle kerkverbande van groot belang.

In elke geval is slegs ’n paar stellings uit die omvattender verslag geselekteer om ’n bepaalde aspek toe te lig. (Vir die groter verband en ’n meer omvattende beskrywing, verwys na die volledige verslag en tabelle op die webwerf.)

Die volgende drie aspekte van die lewe en werksomgewing van die predikant is aan die orde:

  1. Die persoonlike en gesinslewe van die predikant.
  2. Die predikant se bediening in die gemeente.
  3. Die predikant en diensverhoudinge.

1. Die predikant se persoonlike en gesinslewe

Die gesondheid en persoonlike welstand van die predikant speel ’n belangrike rol in die uitvoering van die dagtaak. Die verband tussen ’n gesonde gees en ’n gesonde liggaam is welbekend. Die volgende drie aspekte kan uitgewys word:

net 13 persent van predikante kry baie gereeld tyd vir ontspanning, terwyl
40 persent nou en dan tyd vir ontspanning vind.

10 persent kry baie gereeld tyd vir persoonlike refleksie en stiltetyd, maar 50 persent het nou en dan tyd vir stil word en refleksie.

“Moegheid en irritasie is deel van my daaglikse ervaring.” 31 persent stem beslis nie saam nie, terwyl die res tog een of ander tyd moegheid en irritasie ervaar.

Hoe gaan dit met die predikant se gesinslewe?

Meer as tweederdes van predikante is op die oomblik baie tevrede met hulle gesinslewe. Dit is beslis ’n positiewe respons.

Het die predikant genoeg tyd vir ’n goeie en gesonde gesinslewe?

Die volgende twee response werp lig op dié vraag.

Die afgelope twee jaar het die predikante nou en dan die volgende beleef:

“Gevoel dat jou werk in hierdie gemeente jou nie toelaat om genoeg tyd aan jou gesin te spandeer”:
48 persent.

“Jou huweliksmaat het gekla oor die tyd wat die bediening in beslag neem”: 44 persent.

Dit blyk beslis uit die bogenoemde reaksies dat goeie en doeltreffende tydsbestuur wat hulle persoonlike sowel as gesinslewe betref, vir predikante probleme skep. Dit kan heel waarskynlik bydra tot die gevoel van moegheid en irritasie onder hulle.

2. Die bediening in die gemeente

Hoeveel vreugde beleef die predikant in die bediening in die gemeente?

Dit is ’n wye en omvattende saak wat vanuit verskeie hoeke benader kan word.

Hier word weer eens net na enkele faktore verwys as onderafdeling van ’n groter prentjie. Die volgende aspekte kan uit die paneelopname uitgelig word:

Die meeste predikante (55 persent is “baie tevrede” en 39 persent “redelik tevrede”) het ’n goeie verhouding met die gemeenteleiers.

Is daar duidelikheid oor die rol van die predikant?

’n Derde van die predikante beleef redelik gereeld ’n onduidelikheid oor hulle rol, terwyl 47 persent dit nou en dan beleef.

In die afgelope twee jaar het 40 persent van die predikante nou en dan eensaam en geïsoleerd in hulle werk gevoel, terwyl 33 persent dit baie of gereeld voel.

Amper ’n derde voel gedreineer as gevolg van die uitvoering van hulle take in hierdie gemeente.

“Ek voel positief oor my bediening hier”. 26 persent “stem beslis saam” en 44 persent “stem saam” met die stelling.

Word die predikant se bediening regtig deur die mense waardeer?

Aan die een kant stem 49 persent saam dat dit so is, terwyl 21 persent onseker of neutraal is en 14 persent net in ’n mate saamstem. Om dit anders te stel: Meer as die helfte van die predikante sou graag méér deur die gemeente waardeer wou word.

3. Die predikant en diensverhoudinge

Die formele diensverhouding tussen ’n predikant en die gemeente word deur die kerkraad en die Kommissie vir Diensverhoudinge met die predikant gereël. Die vraag is dus hoe effektief en doeltreffend word die predikant versorg? Die volgende kan uitgewys word:

80 persent van die gemeentes het ’n Diensverhoudingkommissie (DVK).

42 persent van die predikante beleef die funksionering van die DVK as redelik, terwyl 28 persent die funksionering daarvan as swak beleef.

“Hoe ervaar jy die versorging van predikante in die gemeente?” 23 persent beleef die versorging as baie goed, 52 persent as billik en 22 persent as swak.

Net 30 persent van die kerkrade (of kommissie) voer jaarliks evalueringsgesprekke met predikante oor hulle werk in die gemeente.

’n Belangrike komponent van die versorging van die predikant is die mentorprogram. Net 18 persent van predikante het ’n mentor as deel van ’n sinodale mentorprogram.

4. Enkele gevolgtrekkinge

’n Aantal positiewe aspekte kan uit die lewe en werk van die predikant gewys word.

Predikante beleef ’n goeie gesinslewe. Hulle het ’n goeie verhouding met die gemeenteleiers. Self beleef hulle die bediening in die gemeente as positief. Dit dui op ’n positiewe atmosfeer binne die lewe en werksomgewing van predikante.

’n Paar uitdagings en knelpunte kan ook uitgewys word.

Predikante se eie tydsbestuur en selfversorging kan beslis verbeter. Alhoewel hulle hulle gesinslewe meesal as gelukkig beleef, stel die bediening bepaalde eise wat tot konflik en frustrasie in die gesin lei.

Daar is ’n besliste behoefte aan ’n beter rol- en taakbeskrywing vir predikante. Die verandering in die leefwêreld van predikante sowel as gemeentes vereis ’n hersiene werkswyse.

Die rol van die kerkraad (en DVK) en ’n mentorprogram moet in dié verband nie onderskat word nie. Dit wil tog lyk of die formele versorging van die predikant deur die kerkraad nie na wense funksioneer nie, en in sommige gevalle as swak beskryf kan word.

Op persoonlike vlak lei dié toedrag van sake tot ’n ondoeltreffende tydsbestuur by predikante aan een kant en aan die ander kant is daar nie voldoende tyd vir ontspaning, refleksie en stilword nie.

Kerkrade behoort die rol- en taakbeskrywings van predikante gereeld te hersien. Die goeie verhouding tussen die predikant en die leierskap van die gemeente behoort in dié verband ’n positiewe bydrae te lewer.

Die predikant is een van die beste leierskapshulpbronne van die kerk en die gemeente. Nuwe en uitdagende tye vra dat dié uitdagings korrek en kreatief bestuur word. Die bevindings van die eerste Predikantepaneel kan ’n nuttige hulpmiddel in die fasilitering van die gesprek tussen gemeentes en predikante wees.

Kobus Schoeman is sedert 1989 by Kerkspieël betrokke vanweë sy kundigheid in sosiologie en teologie. Hy is tans medeprofessor in Praktiese Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (Die predikant se lewe en werksomgewing.doc)Die predikant se lewe en werksomgewing.doc 33 Kb

Add comment


Security code
Refresh