AddThis Social Bookmark Button

Die kerklike Seisoen van Luister het sy oorsprong in 2002 toe 'n taakspan uit verteenwoordigers van al die sinodes saamgestel is.

Die verslag wat dié taakspan in 2004 by die Hartenbos-sinode voorgelê het, het voorstelle oor 'n luisterseisoen gehad. Dit het tot 'n proses gelei wat die Algemene Sinode se moderamen aan die einde van 2004 goedgekeur het en wat by die Algemene Predikantebyeenkoms van 2005 van stapel laat loop is. Só is die taakspan van die Seisoen van Luister gebore. Daar is "luistersinodes" gehou en Seisoen van Luister-produkte is begin ontwikkel.

In 2007 besluit die Algemene Sinode "om die Seisoen van Luister heelhartig te ondersteun en sinodes aan te moedig om die geleentheid te benut om met nuwe toegespitsheid na God, mekaar en die wêreld waarin ons leef, te luister". Hierdie uitgawe van Kruisgewys wil bestek opneem en die waarde van die destydse besluit oorweeg en oordink.

Grappenderwys

Toe ons by Bybel-Media die eerste maal so drie jaar gelede met die voorgenome luisterprodukte kennis gemaak het, het ons grappenderwys vir mekaar gesê die baie boeke laat dit eerder lyk na 'n seisoen van lees as een van luister.

Min het ons toe besef hoe verkeerd ons was! Die persoonlike waarde wat onsself en ons organisasie beleef het deur die luisterseisoen se metodiek (rus, hoor, leef) en die waardes daarvan (openheid, deernis, vertroue en leerbaarheid) deel van ons daaglikse bestaan te maak, sou ons eers al gaande besef.

Tereg skryf Nelis van Rensburg verderaan in hierdie Kruisgewys: "Hierdie leerproses het verseker nie oral in die kerk plaasgevind nie. Alles wat te leer was, het ook nie op een enkele plek gebeur nie. Die aanleer van nuwe luistertaal en -vaardighede en die verwerwing van luisterinsigte het nêrens volmaak geskied nie."

Inderdaad is daar nog ongelukkig heeltemal té veel gemeentes en dominees wat nie eers begin het om moeite met die proses te maak nie. Maar daar waar dit ernstig opgeneem is, het grootskaalse transformasie reeds plaasgevind, al was dit (en is dit steeds) stap vir stap (lees maar die stories op bl 4 en 5).

Van Rensburg skryf verder: "Ons het verreken dat daar met die draai van die millennium geweldige agterdog teen geykte dogmas bestaan en teen mense wat meen dat hulle namens ander die Bybel kan lees. Ons is oortuig dat elke gelowige se vroomheid deur 'n diep persoonlike omgang met die Woord en diep nadenke en reaksie op die spreke van God gevorm moet word."

Die Seisoen van Luister sluit hierby aan en fokus opnuut op die luister na die sprekende God. Nie verniet nie is die slagspreuk: God praat, leef luisterryk!

Jare gelede het Breyten Breytenbach se gedig oor die Huis van die Dowe slegs één woord bevat: "Hoesê?"

Die Seisoen van Luister wou 'n impak maak op kerklike gesprekke (debatte) sonder egte luister. Té dikwels hoor kerkmense mekaar nie en geld die wil van diegene wat die hardste praat. Dit laat 'n mens dink aan Breytenbach se huis vol dowes - behalwe dat dié dowes gewoonlik vir mekaar sê: "Ek sê ..."

Laai weekliks Luisterseisoen-preke in Power Point-formaat af by:

www.bybelmedia.co.za Ø dienste en aktiwiteite  Ø preke

www.gemeentes.co.za Ø seisoen van luister (klik op foto regs op webblad) Ø laai power point-aanbieding af

www.seisoenvanluister.co.za Ø seisoen van luister (klik op foto regs bo op voorblad) Ø laai power point-aanbieding af

Gaan hierheen om deur die tydskrif te blaai of die hele dokument af te laai.

Add comment


Security code
Refresh