AddThis Social Bookmark Button

K r u i s g e w y s het die afgelope tyd gefokus op 'n hele paar kontensieuse sake: rassisme, MIV en vigs, en multi- en interkulturaliteit.

Dié uitgawe fokus op 'n paar van die opsies wat vanjaar vir bedieningsontwikkeling voorsien word.

Die NG Kerk se Algemene Sinode het in 2007 'n deeglike beleid neergelê oor predikante se voortgesette bedieningsontwikkeling (VBO), bekend as die A-Z bedeling. Die A-Z beleid beskryf predikante as mense wat pendel tussen God en mense. Aan die een kant is hulle profete wat die Woord van die Here aan mense bring; aan die ander kant is hulle priesters wat mense by die Here bring. Verder is hulle ook nog soos 'n bordjie (predikant!) langs die pad wat koers en rigting aandui.

Hoewel 'n mens nou nie té hoog moet opgee oor die belangrikheid van dié rol nie - alle gelowiges is immers profete, priesters en konings - moet die kerk nadink oor maniere om predikante se bedieningsvreugde en bedieningsmoed te behou en te bevorder. VBO het kernwaardes geformuleer vir die onderskeie aanbiedinge wat dié jaar beplan word.

Die kursusse beoog:

  • om voortgesette verdieping van kennis, insig en geloof in die evangelie te bevorder;
  • om geestelike groei, roepingsverdieping en persoonsontwikkeling te stimuleer,
  • om te help met die slyp van bedieningsvaardighede vir missionêre gemeentes in diens van die koninkryk vandag; en
  • om getrou aan die gereformeerde tradisie te bly slyp aan die vermoë om teologies te onderskei.

Uiteraard is die volgende artikels in Kruisgewys net  'n beperkte lusmaker vir sommige van die kursusse wat by die onderskeie VBO-instansies aangebied gaan word. Die brosjures van Communitas (Stellenbosch), Excelsus (Pretoria) en Shepherd (Bloemfontein) wat by dié uitgawe ingesluit is, gee baie meer inligting oor die wye verskeidenheid aanbiedinge wat predikante in die komende jaar kan benut. Hopelik dien die artikels as 'n stimulus wat predikante sal motiveer om met oorgawe en ywer hulleself vir die VBO-prosesse te gee.

Met die uitgee en bekostiging van Kruisgewys, is dit vir Bybel-Media 'n voorreg om saam met die Gemeentedienste-Netwerk (GDN) só direk by die voortgesette ontwikkeling van die kerk se profete, priesters en rigtingwysers betrokke te wees. Dis ooreenkomstig die ideaal waarmee die destydse Bybelkor (waaruit die baie groter Bybel-Media van vandag) tot stand gekom het. Soos die geval is in sommige ander beroepe waar voortgesette opleiding verpligtend is en daar 'n vaktydskrif is waardeur 'n mens punte kan verdien deur (byvoorbeeld) op die internet vrae daaroor te beantwoord, voorsien ons dat Kruisgewys êrens in die toekoms dié rol sal kan vervul.

Voorbladskets: Duncan Stuart het die voorbladprent geteken tydens 'n erediens in die Metodistekerk, Walmer, Port Elizabeth, waar die teks Johannes 7:38 ("Strome lewende water sal uit sy binneste vloei") en Jesaja 41:17 ("Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie; hulle versmag van dors. Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor") was, met die titel: "Conversation of Holy Refreshment". Die skets resoneer met die droom vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling (VBO), dat dit 'n indringende gesprek onder predikante aan die gang sal sit wat ook só 'n "heilige verkwikking" sal bring. Deur ons interaksie met God en met mekaar, sal Hy sy seën nog méér op sy kerk uitstort.

Dr Pieter Fourie, Hoofredakteur (Bybel-Media) Dr Chris van Wyk, Artikelredakteur (GDN)

Gaan hierheen om deur die tydskrif te blaai of die hele dokument af te laai.

Add comment


Security code
Refresh