AddThis Social Bookmark Button

Bo-aan die e-pos-uitnodiging om hierdie bydrae te skryf, was die helder en uitnodigende opskrif: "Jong dominees praat met die kerk". 'n Uit­nodiging aan 'n paar jong dominees om uit hul hart 'n paar persoonlike gedagtes oor die kerk en hul ervaring daarvan op papier te sit. Vir 'n groot en ou instelling soos die kerk 'n groothartige, amper onverwagse, waagstuk. Vir dié jong dominees 'n verrassende, amper senutergende verantwoordelikheid.

Tog kon hierdie uitnodiging my nie dadelik aan die skryf kry nie. Want hoe meer ek daaroor begin dink het, hoe meer het ek begin vermoed dit daar in hierdie skynbaar eenvoudige frase diep oortuigings, selfs diep onsekerhede, opgesluit lê. Eerder om dié frase as 'n opskrif te lees, kies ek daarom in hierdie bydrae om dit as 'n prikkel te lees wat by my - as 'n "jong dominee" - sekere gedagtes oproep. In die volgende paar paragrawe neem ek die vrymoedigheid om dié tentatiewe en huiwerige gedagtes te verwoord.

Om aan "jong dominees" die geleentheid te gee om hul opinie te lug, is - in die eerste plek - nogal interessant. So bietjie aspris wonder mens waarom spesifiek jonger persone wat die amp van predikant het uitgesonder sou word vir sulke bydraes.

'n Mens kan natuurlik spekuleer oor 'n hele aantal baie goeie redes hiervoor: die blote feit dat jong dominees interessante opinies sou kon hê, die soeke na 'n groter verskeidenheid van stemme in kerklike gesprekke, die oorbrugging van 'n gaping tussen generasies, die uitdaag van kerklike hiëragieë, dalk selfs 'n poging om sonder 'n agenda te sien wat gebeur.

'n Ruimte vir saampraat

Onwillikeurig wonder 'n mens hoe Martin Luther - die verdediger van die "priesterskap van alle gelowiges" - hierop sou reageer. Jy wonder of hy die uitnodiging sou aanneem om as "jong dominee" iets te skryf.

Een van die Duitse Reformasie se grootste bydraes tot ons samelewing - en die kerk in die besonder - was immers om die "amp van gelowige" te hervestig. Soos Paulus in sy eerste brief aan die Korintiërs al geskryf het, is die Christelike geloofsgemeenskap immers 'n eenheid van gelyke lede met verskillende vermoëns en verantwoordelikhede. Arm en ryk, oud en jonk, geleerd en minder geleerd, lewenservare en minder lewenservare het almal 'n ewe-belangrike bydrae te lewer tot enige gesprek oor wat die Christelike geloofsgemeenskap te doen staan en waarheen hulle ons op pad moet wees.

Dalk sou Luther - as hy die uit­nodiging sou aaneem - ons kon vra of ons werklik glo dat alle gelowiges ewe noodsaaklike, gelyke lede van dié een liggaam is. Dalk sou hy ook aspris wees en vra waar ons soek vir perspektiewe, hoekom ons vra vir wie ons vra, hoe die ruimtes lyk waar alle gelowiges - "anders"-denkend sowel as "eenders"-denkend - kan saampraat. En dalk hoe groot ons idee van Christus se liggaam is.

Wie hou die kerk aan die gang?

Die tweede baie prikkelende gedagte in die opskrif is die gedagte dat dié jong dominees die geleentheid het om met die "kerk" te praat.

Dadelik wonder mens wat hier met die "kerk" bedoel word. Dalk die "kerk" soos dit dag na dag deur gelowiges oral waar hulle beweeg verteenwoordig word? Of "kerk" in die sin van gemeentes waarbinne elkeen van dié dominees Sondag na Sondag op 'n preekstoel of agter 'n kateder staan? Of dalk "kerk" soos dit neerslag vind in die verskillende strukture van 'n spesifieke kerk?

Of gaan dit dalk hier oor die kerk wat strek oor tyd en plek, denominasies en kultuur? Of dalk 'n kombinasie van dié verskillende gestaltes van die kerk?

Dít weer herinner 'n mens aan iets wat Calvyn lank terug in sy brief aan koning Fransiskus geskryf het, dié brief waarin hy hom probeer oortuig om sy Institusies ernstig op te neem. Hy skryf die kerk "kan bestaan sonder enige onderskeibare vorm" en dat die kerk in elk geval nie herken word aan die uiterlike nie. Dit was tog juis Rome se onbybels-hiërargiese en beperkte idee van die kerk waarmee Calvyn-hulle ongemaklik was. In dié brief skryf hy ook die beroemde sin dat die kerk oral daar is waar die Bybel suiwer verkondig word en die sakramente reg bedien word.

Wat "suiwer" verkondiging en die "regte" bediening van die doop en die nagmaal beteken, is natuurlik oop vir bespreking. Oor die radikale eenvoudiger en omvattender idee van die kerk, is daar egter min twyfel. Soos ook oor Calvyn se oortuiging dat geen struktuur die kerk in stand kan hou nie, maar dat die kerk sal bestaan "so lank as wat Christus aan die regterhand van die Vader heers" omdat die kerk "deur sy hand onderhou word", "deur sy bekerming verdedig word" en "deur sy krag behoue bly".

Ek wonder wat sou Calvyn ons wou vra, 'n paar honderd jaar ná hy dié brief geskryf het. Sou hy dalk ons wou herinner aan hoe omvattend die gedagte "kerk" eintlik is? Of sou hy ons dalk wou troos deur ons te herinner dat niemand van ons - nie arm of ryk, oud of jonk, geleerd of minder geleerd, lewenservare of minder lewenservare - die kerk aan die gang kan hou nie?

Dit kan ook natuurlik wees dat beide Calvyn en Luther eenvoudig sou reageer deur bloot te sê dat dit nou óns beurt is om kérk te wéés. Wie weet.

Add comment


Security code
Refresh