AddThis Social Bookmark Button

Ek kan min of meer enigiets bevraagteken.

Ek dra nog altyd met my die vae ondertoon van 'n buitestaander saam - in eg post-modernistiese styl byvoorbeeld met die skryf hiervan: Wat het ek om oor so 'n breë onderwerp soos die kerk te sê wat die meerderheid lesers nie maar as net nog 'n opinie sal afmaak nie?

Relativisme is vreesaanjaend ... maar ook veilig. So ook die sogenaamde dood van die waarheid ...

Die paradoks: geloof binne 'n instelling

Al gesig van die NG Kerk wat ek ken, is die een in die Wes-Kaap.

My eerste kennismaking met die bediening binne dié kerk was in Goodwood toe ek via die Diensjaar-projek twee jaar lank ná skool vrywillige gemeentewerk saam met jongmense onder jongmense gedoen het.

My roeping was baie organies. Ek het net ná daardie tyd geweet dat ek niks anders wil doen as die voltydse bediening nie. As ek nou terugdink, was dit veral my behoefte om 'n geestelike gids vir mense te wees. Ek wou in hulle vel klim en sien hoe kreatief en persoonlik die werk van die Gees is. Teen hierdie tyd, as jy die MBTI-kategorieë ken, het jy my reeds as 'n NF geïdentifiseer!

Ná studies in Jeugwerk (Wellington) en teologie (Stellenbosch), was dit soek vir 'n beroep. Teen daardie tyd het ek gelukkig darem al gesien hoe die kerk werk en gehoor hoe dominees praat as daar nie gemeentelede naby is nie. Anders was die ontnugtering dalk onhoudbaar.

Ek was kwaad omdat die advertensies in Kerkbode so 'n venster na ons insti­tusionele skynheiligheid was. Al was die advertensies geklee in die keurigste geestelike terminologie, was die eintlike boodskap: Ons soek iemand wat kan "perform", iemand wat "suksesvol" kan wees, alles vir almal ...

Dit regverdig dalk 'n opmerking oor die paradoks van die kerk.

Die onoorkombare paradoks van die kerk lê in die spanning tussen die kerk as instelling en die kerk as geloofsbeweging. Die een is 'n noodwendige euwel, die ander ons ideaal.

Wanneer jy "kerk" sê, praat jy somtyds oor die een en somtyds oor die ander van hierdie twee kante van die paradoks. Die een los jou sinies, die ander passievol. Die een is uitsluitend, die ander gasvry. Die een laat jou somtyds dink jy gaan jou goed vat en loop. Die ander laat jou dink dit is die moeite werd om jou liggaam as 'n offer te bring.

Toe ek in Lutzville (Weskus/Nama­kwaland) aanland vir die onderhoud - my vierde een ná nege aansoeke - was dit 'n oomblik van waarheid. Weg was die formalisme en die selfbelang van die vorige onderhoude. Ek hoort hier, het ek geweet, waar dit menslik en eg is, waar 'n egte afhanklikheid van die Here die proses gerig het.

Vyf en 'n half jaar lank het ek daar in Lutzville my tande in die bediening geslyp, totdat hulle uit die Paarl uit gebel het ...

Ek nader nou al een en 'n half jaar in Paarlberg-gemeente. Die Here het my onverwags teruggeroep na my grootwordplek, die Paarl.

In Lutzville was ek 'n all-rounder wat ook aan die jeug - al ons het 'n voltydse jeugwerker gehad - aandag gegee het. In Paarlberg deel ek die algemene bedieningspligte met my drie kollegas, maar daar is meer ruimte vir spesialisasie. Ek is primêr beroep met die oog op die jeug en gesinne, maar ek het intussen ook die verantwoordelikheid gekry om 'n ogie oor ons eredienste te hou.

Of ek namens enigiemand kan praat, dit moet jy nou maar self besluit.

Prosesse van vernuwing

Prosesse van vernuwing is ter wille van mense. Sou 'n mens kon sê dat hierdie stelling saamvat wie ons behoort te wees?

Prosesse, vernuwing, mense. Oor elkeen sou 'n mens baie meer kon sê. Ek is dit 100 persent eens met die stemme wat ons deesdae gereeld daaraan herinner dat kerkwees gaan oor wat in gemeentes gebeur. Dit is die reine waarheid, beide op praktiese en teologiese vlak. Dit het my reeds baie gehelp om só daaroor te dink. Gemeentes is waar die mense is. Gemeentes is waar prosesse aan die gang is. Gemeentes is waar vernuwing plaasvind.

Ek is opgewonde oor gemeentes. Ek is opgewonde oor my gemeente en my vorige een. Die (NG) Kerk lewe!

Ek het geleer dat geduld 'n deug is, dat dit werk om te vra waar ons nou is, en waarmee die Here nou besig is; om liewer te wees vir die kerk as vir jou ideaal van die kerk; dat mense heimlik wíl bid, wíl verander, verláng na God.

Gaan ons (en nou bedoel ek die NG Kerk-instelling) oukei wees? Gaan ons oorleef?

Partykeer dink ek nee. Ons speel die heeltyd na twee kante toe.

Aan die een kant sleep ons 'n klomp tradisionaliste saam wat nog té veel bagasie uit die verlede het en sanik oor kitare en kansels.

Aan die ander kant is daar 'n klomp wat na elke strooihalm wat lyk na 'n geestelike kitsoplossing gryp. Vir party is ons te vinnig, vir ander veels te stadig. Dit is nooit lekker om in die middel te wees nie ...

Ander kere dink ek ja, ons gaan oorleef. Op 'n gemiddelde Sondag besluit 'n 1000 mense uit die Noorder-Paarl (ja, nog omtrent almal wit en Afrikaans) om een van ons eredienste by te woon. Nou ja goed, dit is uit 'n totaal van 3000 op die boeke, maar nogtans! Hulle kom nie meer omdat hulle moet nie. Op 'n manier moet dit vir hulle sin gee en help.

Ons besoek 'n VGK-gemeente met wie ons bande het se 99ste verjaarsdagdiens. Dit voel soos 'n tuiskoms. Hulle is eerlik bly om ons daar te hê. Ons is bly om daar te wees. Die jongmense wat saam was, kan nie ophou praat oor hulle ervaring nie ...

Verstom hoekom ons (nog) hier is

Ja, dit is 'n identiteitsvraag. Wie is ons en hoekom? Gereformeerdheid moet op die tafel kom. Nie omdat dit ons bedreig nie, maar omdat dit ons kan help.

Ek kon tot nou toe nog nie uitmaak presies wat Gereformeerdheid is nie. Eintlik hou ek daarvan dat dit 'n ruim begrip is.

Tog moet ons mekaar help om ten minste te begin om daaroor te praat. Ek weet wat is die aspekte daarvan - teologies of soos dit in praktyk neerslag gevind het - wat my gehelp het: die intellektuele integriteit, die kontekstuele beskouing van die Skrif, die geïntegreerdheid van die leer, die ruimte vir vrae, die ruimte vir die menslike kant van Christen-wees (in teenstelling met die Christelike kant van menswees), die onwrikbaarheid van die verbond.

Ons het 'n nis, maar ons sal moet besluit of 'n Gereformeerde spiritualiteit - naas die goed geformuleerde teologie - werk; of dit die potensiaal het om lewe te gee; of dit ten diepste getrou is aan die bedoeling van die Skrif en die tradisie.

Integrasie van leer en lewe

Ons dominees sal dit eers elkeen vir onsself moet uitmaak: Is daar integrasie tussen leer en lewe? Ons kan nie meer wegkom sonder 'n diep persoonlike omgang met God nie. Die kompetisiegees in die kerk en samelewing stroop ons van ware geestelikheid.

Programme, musiek en belewing kan ons nie beter doen as die charismatici nie. As jy soos hulle wil wees, val by een van hulle kerke in. Ons moet leer om vertroue in God se pad met ons te hê en te aanvaar dat ons nie alles vir almal kan wees nie.

Ons gemeentes sal ware gasvrye ruimtes moet wees, toeganklik, grensoorskreidend, maar ook met 'n duidelike omskrywing van wie ons is en waarvoor ons staan.

Ons sal bo alles opreg ("genuine" vs "fake") moet wees; gekenmerk deur liefde.

Die manier waarop ons konneksies met God fasiliteer sal anders moet wees as die rou ekstase van die charismatiese beweging. Dit moet dieper wees, meer standhoudend - iets wat jou in kontak met die werklikheid van God, jouself en die wêreld bring. Ek dink die sakramente kan ons hiermee help en die ritmes van die Christelike kalender - 'n liturgiese en sakramentele spiritualiteit as jy wil.

Êrens sal ons mekaar moet help, verder moet uitbou aan sinvolle netwerke; moet leer om ons institusionalisme te oorkom. Want ons - die hele NG Kerk - het mekaar nodig. As ons ook nét losstaande gemeentes wil wees, gaan ons in die moeilikheid kom ... ek dink ons sien dit klaar.

Maar ek is nog hier. Ons is nog hier. Dit is genoeg.

Add comment


Security code
Refresh