AddThis Social Bookmark Button

Die afgelope amper 20 jaar lank is daar bitter min beroepe in die NG Kerk uitgebring. Predikante het meestal lang tye in een gemeente gebly.

In die laaste jaar of drie is daar baie meer beweging. Poste gaan oop en predikante kry weer beroepe.

Wat die kerk egter nie verreken het in hierdie lang tydperk wat daar feitlik geen beweging was nie, is dat daar ook nie meer stories was waarmee predikante wat na nuwe gemeentes gaan kon identifiseer nie. Hulle het geen idee wat om te verwag as hulle in 'n nuwe gemeente instap nie. Die gemeentes weet ook nie altyd hoe om die nuwe predikant te akkommodeer nie.

Kultuurskok

Dit gebeur egter nie net met predikante wat lank in die bediening is nie. Ook vir studente wat pas afstudeer het, wag daar 'n "kultuurskok" wanneer hulle in hulle eerste gemeentes inbeweeg.

'n Kantoortannie wat haar werk die afgelope 20 jaar lank doen en haar werk geniet, se wêreld begin meteens uitmekaar val. Die orrelis wat jare al sy plek in die kerk het, voel of sy hele appelkar omgegooi word. 'n Leier-ouderling wat altyd in beheer was, voel meteens hy het beheer verloor. Die arme nuwe predikant wat nog altyd goed met almal oor die weg gekom het, kan nie verstaan hoekom almal met hom of haar baklei nie.

Nuwe predikante verstaan ook nie hulle eie emosies nie. Hulle is dankbaar dat die Here hulle na nuwe gemeentes geroep het. Hulle is selfs verlig om van die ou gemeentes af weg te kom, maar die verlange terug na die lekker "bekendheid" van die ou gemeentes bly knaag. Dit mag nie vir die nuwe gemeentes gesê word nie, anders dink almal hulle is ondankbaar ...

Sisteemteorie

Om te verstaan waar dié spanninge vandaan kom, moet 'n mens iets van sisteemteorie weet.

Een van die definisies van 'n sisteem is dat dit 'n groep mense is wat bestaan uit lede wat in konstante interpersoonlike verhoudings by mekaar betrokke is. Wat met die een lid gebeur, het 'n invloed op al die ander lede.

Miskien is een van die beste ontdekkings wat die sisteemteorie gemaak het dat 'n geheel, enige geheel, méér is as sy dele en dat die geheel bepaal hoe sy dele gaan optree. Die sisteem neem 'n eie identiteit aan wat groter en meer is as die somtotaal van al die lede afsonderlik.

Sisteme het ook baie vlakke waarbinne dit funksioneer - van formele, organisatoriese vlakke tot informele vlakke waar mense emosioneel georganiseer is. Of 'n sisteem nou organisatories of emosioneel georganiseer is, moet altyd onthou word dat emosies op al die vlakke op die een of ander manier daarby betrokke is. Hoe langer die termyn waar mense hulleself aan die sisteem verbind het, hoe groter is die kans om emosies soos eensaamheid, liefde, verwerping, angs, vreugde en woede in die sisteem te vind.

Komplekse veranderings

Wanneer 'n persoon uit 'n sisteem uit beweeg, byvoorbeeld wanneer 'n pos vakant raak, verander die sisteem. Wanneer 'n nuwe persoon in 'n pos aangestel word, verander die sisteem. Wanneer 'n nuwe dominee in 'n gemeente kom, verander die hele gemeentesisteem. Die nuwe predikant kry as't ware 'n nuwe gemeente - nuut vir die predikant en nuut vir die gemeente self.

Die probleem is dat nóg die nuwe predikant, nóg die gemeente dit altyd besef. Hulle probeer die ou sisteem in stand hou, want in die bekende is daar veiligheid. Dit werk egter nie noodwendig nie.

Om die saak komplekser te maak, is wanneer 'n predikant na 'n gemeente beroep word daar baie sisteme waarvan hy of sy deel moet word. Van dié sisteme is:

medeleraars
kerklike amptenary binne die gemeente (waaronder admi­nistratiewe personeel, koster, orrelis)
kerkrade
gemeentes
ringskollegas
sinodale werk en kollegiale sisteem binne die sinodes

Induksieproses

Die NG Kerk het iets van hierdie uitdaging begin verstaan toe ons die A-Z Beleid in 2007 goedgekeur het. In dié beleid moet gemeentes nou aan 'n induksieprogram deelneem wanneer hulle 'n nuwe predikant bevestig. Ringe moet kontroleer dat dit gebeur en die sinodes moet induksieprogramme opstel en fasiliteerders oplei om die programme te fasiliteer.

Induksie is 'n term wat veral in die mediese wêreld bekend is. Dit is onder andere 'n term om die geboorte van 'n kind aan te help en die geboorteproses te bespoedig. Wanneer 'n predikant by 'n nuwe gemeente inskakel, is dit ook soos 'n geboorteproses. Die induksieprogram help die geboorteproses aan sodat die geboorte vinniger en onder bestuurde toestande kan plaasvind.

Tydens die proses:

word die nuwe predikant gehelp om doeltreffend by sy kollegaspan, die gemeente en by kerklike sisteme in te skakel;
leer kollegas mekaar op 'n gestruktureerde, gekontroleerde wyse ken;
begin die predikant verstaan hoe sy nuwe gemeentesisteem funksioneer;
vind daar integrering met die norme, waardes en kultuur van die nuwe gemeente plaas;
kry die span geleentheid om hulle drome en vrese met mekaar te deel; en
word daar gesonde bande tussen kollegas gesluit.

Ek is baie opgewonde oor wat met die inskakeling (induksie) van predikante by hulle nuwe gemeentes aan die gebeur is. Gemeentes begin besef dat die koms van 'n nuwe predikant die geleentheid skep om nuut na die leierskap in die gemeente te kyk. Hulle evalueer of die visie van die gemeente nog op koers is. Sluimerende interne spanning bring hulle op 'n gesonde manier na die oppervlakte.

Ek stem saam met Erwin McManus wat sê: "I don't know if there is anything more critical, difficult, or anxiety gene­rating than building a leadership team."

Wanneer leierspanne egter suksesvol gebou en die negatiewe suigkragte van die verlede versag is, begin predikante bedieningsvreugde ervaar. Dan kan hulle vinniger op hulle werk begin fokus en begin gemeentes weer hulle doel in God se Koninkryk bereik.

Nuttige bronne

Rendle, Gilbert R. 1998. Leading change in the Congregation. Washington DC: The Alban Institute

Robinson, Anthony B. 2003 Transforming Congregational Culture William B Eerdmans Publishing company, UK.

Roxburgh, Alan J. 2005. The Sky is Falling - Leaders lost in Transition. ACI Publishing. USA.

Add comment


Security code
Refresh