AddThis Social Bookmark Button

Pieter Johannes Retief (Piet) is gelukkig getroud met Sarizé (voorheen Du Plessis). Ons het nog nie mensekinders nie, maar wel twee budjies, Seuntjie en Salomo, en twee skaaphonde, Wagter en Lara. Elkeen van hulle beskik oor menspersoonlikhede.

Ek het in 2003 aan Hoërskool Hugenote in Springs gematrikuleer, waarna ek in 2004 by die Universiteit van Pretoria BTh studeer het.

Nadat ek hierdie graad verwerf het, het ek ook my MDiv verwerf. Ek het die graad BA Vrouvang met lof geslaag, vandaar my huwelik met Sarizé op 25 November 2008.

Sarizé het ook in 2003 gematrikuleer, en wel aan die Hoërskool Nylstroom. Sy het ʼn jaar lank by ʼn rekenmeestersfirma  gewerk terwyl sy ook deeltyds gestudeer het, maar toe besef dat teologie haar roeping is. Sy is nou besig met haar gemeentejaar (MDiv II) in die Ring van Dordrecht.

Passie vir die bediening

Al twee van ons het ʼn brandende passie vir die bediening, veral vir bejaardesorg en prediking. Die jeug het ook die afgelope jaar of wat onder ons velle kom inkruip.

Ons passies blyk duidelik uit die onderwerpe van ons onderskeie skripsies. Sarizé gaan haar skripsie vir haar MDiv-graad in Kerkgeskiedenis doen. Sy gaan in diepte na van die kerkvader Augustinus se uitsprake en metafore kyk.

Ek het die ontstaanskonteks van die Belydenis van Belhar en hoe dit met ons huidige konteks vergelyk, bestudeer.

Die bekoring van die Platteland

Sedert ons aan die begin van Desember 2009 hier in Dordrecht ingetrek het, het ons elke dag net meer en meer besef watter bekoring die platteland inhou. Aangesien Sarizé haar gemeentejaar in die ring doen, is dit lekker dat ons baie gebeure sáám kan beleef en ervaar. Veral wanneer jy later op sekere gebeure reflekteer, is dit van waarde dat ons sekere gebeure sáám beleef het.

Ek dink regtig ons is bevoorreg om albei in die bediening te wees. So verstaan ons die eise en vreugdes van die bediening dalk beter. As pas afgestudeerde predikant in 'n eenmansgemeente, is my eggenote vir my van onskatbare waarde met haar ondersteuning en wysheid.

Die gemeente en gemeenskap doen alles in hulle vermoë om ons tuis te laat voel. Ons sê tong in die kies dat ons vrywillig op Dordrecht gekom het, maar dat 'n sweep nodig sal wees om ons hier weg te kry.

Die impak van die verband

Ons het in Februarie die verpligte induksieproses saam met die kerkraad meegemaak onder die bekwame leiding van dr Jannie Richter. Ons kan met alle eerlikheid sê dat ons onsself nie 'n tyd kan voorstel wat ons nie in Dordrecht was nie. Dit is óns gemeenskap, óns gemeente, óns dorpie.

Ons het al albei streeksinodes as waarnemers bygewoon. Daar het ons waardevolle ondervinding oor die kerk opgedoen. Sarizé het die 2004 Algemene Sinode in Hartenbos as afgevaardigde bygewoon. Sy sê dit was vir haar van onskatbare waarde. Ons sal dit definitief aanbeveel vir alle voornemende predikante en studente.

Op hierdie meerdere vergaderings sien 'n mens die stroom wat verandering ondersteun, asook dié wat dit inhibeer.

Albei hierdie elemente is nodig, omdat ons in die tradisie van die Seisoen van Luister na mekaar sal luister, eerder as om net ons eie standpunte te bevestig. Veral in die jare wat kom, moet ons dalk probeer om méér na mekaar te luister en in mekaar se skoene te staan.

Waar ons monde nog nat is van die fontein van teologie waarvan ons by die Universiteit van Pretoria gedrink het, is die ringspredikante se ondersteuning vir ons opmerklik. Soos in enige beroep, verskil die akademiese kennis wat jy verwerf het van die werklikheid van die praktyk. Veral op dié gebied het die ringspredikante vir ons ongelooflik baie beteken.

'n Woord vir teologiese opleiding en die kuratoria

Ons het albei by Tukkies gestudeer. Die dosente en kuratorium verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit het aan ons baie ondersteuning gebied. Nie net het hulle ons vóór die tyd praktiese riglyne oor predikantskap gegee nie, maar vandat ons die onderhoud op Dordrecht gekry het, het hulle ons deurentyd met raad en daad bygestaan.

As 'n mens met die voorreg van retrospeksie een voorstel vir die kuratorium kan maak, is dit om tydens die studietyd meer op tersaaklike sake te fokus. Op hierdie gebied is die werk wat die kuratorium al wel die afgelope jaar of wat gedoen het, reeds 'n reusestap in die regte rigting.

Toekoms van die kerk

Die vermoë en bereidheid om mekaar te help en ondersteun, gaan dalk die sleutel wees vir die toekoms van die kerk. Nie net onder kollegas en mense van dieselfde denominasie nie, maar veral ook onder mense van verskillende denominasies. Dordrecht is as't ware 'n smeltkroes waar verskillende kulture en tale saamkom met groot komponente Afrikaans-, Engels- en Xhosa-sprekende mense in die gemeenskap.

Ek is die enigste voltydse dominee op die dorp. Ek probeer om sover moontlik beskikbaar te wees, nie net vir die gemeente nie, maar ook vir die groter gemeenskap. As daar een ding is wat ons die afgelope drie maande geleer het, is dit die wisselwerking en samewerking tussen mense van verskillende denominasies.

Oor kerkgrense heen werk almal saam tot die realisering van een doel, sonder om te debatteer oor wie die eer kry of onder watter vaandel die aksie onderneem word. Onlangs het die ganse gemeenskap laer getrek om ʼn gesin wat ʼn lid aan die dood afgestaan het.

As ons waarlik die hande en voete van Jesus wil wees, sal ons moet leer om ons verskille agter te laat en te fokus op dit wat ons in gemeen het. Dalk is dit nou tyd om die ou leuse van Suid Afrika weer af te stof, van die politieke bagasie te stroop en saam prontuit te verklaar:

Ex unitate vires!

Comments  

 
0 # Huwelike en geloofChantelle 2011-08-30 15:49
Ons het ons self gevind en mekaar leer ken deur Imago verhoudingstera pie. Ek raai enigiemand en almal aan om te gaan vir n werkswinkel. http://huwelike.co.za/
Reply | Reply with quote | Quote
 

Add comment


Security code
Refresh