AddThis Social Bookmark Button

Ek is 'n Schoeman van Schoemans­hoek wat grootgeword het in 'n huis waar God en die kerk nog altyd groot rolspelers was in alles wat besluit en gedoen is.

Al reeds in graad 10 (destyds stan­derd 8), het ek eendag vir my ma op pad huis toe gevra: Mamma, mag 'n vrou 'n dominee word?" Die "ja" van daardie dag het 'n wêreld oopgemaak van die voorreg om in mense se lewe betrokke te wees en in hulle lewensreis deel te neem.

Vandag reis ek al amper vyf jaar lank saam met die mense van Wellington Moedergemeente in die ring van Swart­land. Ek is die jeugleraar wat baie leer van die heel kleintjies af tot by die studente, waarvan hier baie in Wellington is.

Soos dit op die platteland gaan, is 'n mens maar oral betrokke. Ek ag myself bevoorreg om deel te wees van 'n gemeente vir wie mense, en nie strukture nie, belangrik is. Nog nie vir één dag het ek gevoel dat mense my van minder waarde ag omdat ek 'n vrou is nie. Nog nie een keer het ek gevoel ek moet myself bewys nie. Ek is dankbaar om myself te kan wees, dankbaar vir 'n ruimte waar ek my gawes, passies, drome, ma-wees en vrou-wees kan uitleef.

Ek dien die God van die kerk

Wat my bekommer, is dat ek oral dominees raakloop wat moeg is, veral moeg van baklei teen strukture wat mense uitgedink het en ongevraagd in stand hou. Moeg omdat hulle so baie van hulself verwag en moeg omdat hulle nooit voel hulle het genoeg gedoen nie.

Wat my hiermee help, is dat ek al vroeg in my bediening gekies het om my gedurig aan twee dinge te herinner:

om myself nooit te ernstig op te neem nie; en

dat ek nie die NG Kerk dien nie, maar die God van die kerk, 'n God vir wie ALLE mense belangrik is.

Ek heg waarde aan wat in my plaaslike gemeente en gemeenskap aan die gebeur is. Ek vra myself gedurig af of dit waarmee ek besig is, bydra tot die koms van God se koninkryk en die vestiging van die hemel op aarde.

Die sinode en die ring kan dus veelvuldige vergaderings hou (wat sekerlik nie onnodig is nie) oor byvoorbeeld kerkhereniging. Ek glo dat die saak van kerkhereniging ononderhandelbaar is. Ek maak dit dus my taak om só te leef dat dit 'n realiteit kan word.

Ek moet die verskil maak

Nie die ooms daar bo gaan die goed laat gebeur nie, maar ek en mense wat gesindheidsveranderinge mobiliseer sodat broers en susters weer sáám kan brood breek.

Terwyl die mense via die koerante heen en weer bespiegel oor saamwoon, vra ek myself: "Hoe lyk my huwelik?" Is my huwelik iets waarna tieners kan kyk en sê: "Ja! As dit is hoe dit lyk om getroud te wees, sal ek wag." Of sien hulle stukkende grootmense in verhoudings wat wel "binne die reëls" is, maar totaal beginsel- en leweloos?

Anders as baie ander mense het ek nie die kerk (lees "struktuur") nodig om vir my te sê wat reg en wat verkeerd is nie. Ek het 'n gemeenskap nodig wat my liefhet vir wie ek is en wat saam met my, langs my, op pad is om die lewe te ont­dek. Nie die antwoorde nie, maar die reis op pad na die antwoorde (wat ons dalk nooit gaan kry nie, en dis ook reg so) is wat saak maak. Nie 'n komitee nie, maar gespreksgenote saam met wie ek kan leer hoe om te lewe, is wat ek nodig het.

Om met hoop en 'n gedeelde droom te lewe

Wat my soms bang maak, is wanneer ek by goeie mense kom wat luuks lewe en baie het, maar ek tel in hulle gesprekke op dat hulle hoop verloor het en dat hulle met 'n donker prentjie oor die toekoms van Suid-Afrika leef.

Ek droom dat mense wat God ken tog sal weet dat ons met ander oë kyk as dié met geen hoop nie. Ek praat nie van optimisme nie. Niebuhr maak juis die duidelike onderskeid tussen hoop en optimisme. Volgens hom is optimisme die gevoel dat omstandighede op grond van sekere prosesse wat in plek moet kom, sal verbeter. Hoop is gegrond op die oortuiging dat daar 'n ander realiteit, 'n ander Koninkryk, 'n Here bestaan wat die tekstuur en kwaliteit van die huidige bestel radikaal kan beïnvloed. Ek raak bang dat gelowige mense dít nie meer glo en dít nie meer leef nie.

Ek wil graag op reis bly saam met mense wat nie bymekaar gehou word deur strukture nie, maar deur hulle gedeelde droom om God se koninkryk al hoe meer sigbaar te maak daar waar hulle leef en werk. Ek sal bly droom oor 'n kerk, oor mense wat oop, eg en eerlik leef en doelbewus ruimte maak vir alle mense.

Add comment


Security code
Refresh