AddThis Social Bookmark Button

Ek is alte bewus daarvan dat ek as jong dominee maklik in strikke kan trap: enersyds die ontnugterde en opstandige Jong Turk wat emosioneel graag op al die gebreke en tekortkominge wil fokus. Andersyds die jong, naïef-onskuldige en onervare dominee wat niemand wil affronteer nie en net mooi en goeie, geykte gedagtes noem.

Ek is deeglik bewus van beide slaggate. Wat volg, is 'n eerlike poging om te reflekteer op my relatief kort belewenis in die bediening.

Die Godsvraag

Ek het genadiglik vroeg in my lewe reeds besef die diepste vrae oor die lewe in die Godsvraag self setel.

Ek het ná skool teologie gaan studeer, omdat ek geglo het dat ek veel meer net as God self sou leer ken.

Ek sal jok as ek sê ek het nie in 'n pastorie groot geword nie. Nee, my pa was nie die dominee nie (dit kon mos net 'n hy gewees het). Dit is ék wat die laaste vier jaar in ons pastorie 'n grootword-proses beleef het.

In dié tyd is ons eerste drie kinders gebore. Ons is deur 'n geloofsgemeenskap omarm en behoorlik gevoed en versorg.

Ons is nog steeds in ons eerste gemeente - Heuwelsig in die noorde van Bloemfontein. Dit is in 'n medeleraarskap saam met 'n wyse kollega - en die mense is waarlik goed vir ons!

Niks hiervan beskou ons as vanselfsprekend nie. Ons is innig dankbaar om te kan wees waar ons is. Wat 'n voorreg om kinders, broers en susters te ontvang en God as Vader en die geloofsgemeenskap as moeder te kon beleef!

Gemeenskap in die liggaam

Dis wat my so in verwondering bring voor hierdie God wat ons roep. Om te dink jy is deel is van iets veel méér, dieper en heiliger is as wat jy ooit vroeër gedink het. Ons is nie maar net mense byeen soos op enige ander plek nie, maar ons is die liggaam van Christus.

Ons eet nie net brood en wyn nie, maar het gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus. Ons bad nie die kinders in water nie, maar was en reinig hulle in die dood en opstanding van ons Here Jesus.

Ek weet wat ons ís - en dis aangrypend. Dié wete oorweldig my daagliks meer en meer!

Verlange na eenheid en geregtigheid

Daarom is die ontliggaming van ons ware wese ook só pynlik. Dit is 'n verleentheid as ons diepste wese nie na vore kom nie. Daagliks worstel ek met die gedagte in watter mate ons nog 'n spieël is vir die samelewing waarin hulle hulleself kan ontdek. Is dit nie veel eerder 'n geval dat ons eintlik maar spieël van die samelewing geword het nie?

Is dit nie so dat ons bloot in dit wat ons beliggaam die ongeregtigheid en gebrokenheid en vervreemding in ons gemeenskappe versterk en legitimeer nie? Daar is maar min stemme wat ek hoor wat roep en verlang na eenheid, geregtigheid en versoening - of hoe?

Is dit nie so dat, sê maar, sport en
7de Laan in hierdie wonderlike land van ons veel méér reggekry het om mense nader aan mekaar te bring as wat die kerk waarvan ek deel is kon nie? In watter mate weerspieël ons in en vir ons land waarlik die een-in-gemeenskap van God se wese?

Ekumene is steeds 'n Griekse woord

My belewenis is dat vir die meeste kerkmense is die woord "ekumene" maar steeds 'n Griekse woord. Hulle ken dit nie, verstaan dit nie en sien ook nie die nodigheid daarvan in nie. Talle gemeentes se skakeling met ander gemeentes in die familie van kerke ressorteer nog onder "sending"!

Ons wil graag gee. En daar is inderdaad die welwillendheid en goedgesindheid om uit te deel. Dit wil g'n mens afskiet of veroordeel nie... maar besef ons daar is so baie wat ons ook van  ander kan ontvang?

Om kospakkies uit te deel help verseker. Maar dit kan tog nie in dieselfde asem genoem word as om saam aan tafel vir mekaar brood en wyn aan te gee en die voller gemeenskap met die Gees van God te beleef nie?

Dis is jammer dat ons ook nie die belydenis van Belhar as gawe wil ontvang nie. Nie net sal ons daarmee met ons verlede in die reine kom nie, maar ook 'n geloofwaardige toekoms ontvang.

Add comment


Security code
Refresh