AddThis Social Bookmark Button

Ek het grootgeword in Louis Trichardt in die Limpopo. My ouers bly nog steeds daar.

Ek is die oudste van vier kinders. Twee seuns en twee dogters. My huisgesin bestaan nou uit twee hondjies.

My roeping is om mense te ondersteun en om die paadjie van geloof saam met hulle te stap. Ek wil mense motiveer om volwasse te raak in hulle geloof en om hulself te sien as God se sendelinge wat hulle plek in die wêreld as Christene kan volstaan.

My ervaring van die NG Kerk

Dis 'n baie moeilike vraag om te antwoord. My siening word natuurlik baie beïnvloed deur my geografiese ligging. Ek is in 'n gesamentlike pos in die KwaZulu-Natal Sinode by die NG gemeentes Pietermaritzburg (Merrivale, Howick) en Pietermaritzburg-Noord. My opdrag is om my tyd 50-50 by elke gemeente in te deel. Ek is onder andere verantwoordelik vir eredienste (om die beurt by elke gemeente), hospitaalbesoek, Bybelstudie (sommige woon ek net by en ander bied ek self aan), huisbesoek en pastoraat.

Ek is maar pas in hierdie pos aangestel en nog besig om my voete te vind. Ek het vir myself uitgemaak dat die eerste jaar 'n waarnemingsjaar sal wees. Ek wil alles mooi bekyk en uitvind hoe die wiele in die gemeentes draai terwyl ek verhoudings met almal bou.

My doelwit vir die jaar is om my plek in die bediening te vind. En natuurlik ook om deur my wyke te kom met huisbesoek ...

Hoe ek die kerk ervaar? In Pietermaritzburg is die oorgrote meerderheid van mense Engelssprekend. Hier is nie vreeslik baie Afrikaanse mense nie, en nog minder jong Afrikaanses. Iemand het eendag gesê dat die NG Kerk 'n "midlife crisis" ervaar. Nou ja, van die krisis weet ek nie so mooi nie, maar my ervaring is dat ons kerk middeljarig is. Die jonges wat wel in Pietermaritzburg is, word eerder getrek na ander kerke of gemeentes (waar daar gewoonlik reeds baie ander jonges is), of hulle gaan net glad nie kerk toe nie (wat ek dink die meerderheid sal wees). Die krisis is nie die wat na ander kerke toe gaan nie, maar eerder dié wat nie die nut daarin sien om aktief by die kerk betrokke te raak nie.

Verhoudingsbou maak my opgewonde

Wat my opgewonde maak is om te sien hoe gou ek al so baie verhoudings in die kort tydjie kon bou. Die gemeentes (ring ingesluit) het my werklik aangenaam verras en ek voel al deel van die familie(s).

Nog 'n ding wat vir my lekker is, is die feit dat dit vir my voel of ek die eerste keer in my lewe werklik vir mense iets kan beteken (hoe krom en skeef ook al). Ek het agtergekom dat mense eintlik met só min tevrede is. 'n Mens moet net dáár wees vir hulle. My sigbaarheid alleen tel vir hulle vreeslik baie.

Ek huil saam met mense

Iets wat my die afgelope weke nogal gevang het, is die besef van my eie sterflikheid. As jongmens leef mens baie maal asof jy vir altyd gaan leef. Ek het al by mense se begrafnisse hieroor nagedink, maar die eerste keer in my lewe kom ek met soveel siekte, pyn, lyding en hartseer in aanraking.

Daar gaan nie 'n week verby dat ek nie saam met mense huil nie. Die bediening is in hierdie opsig vir my 'n ongelooflike uitdaging, maar ek glo dit maak my ook sterker. Ek is geseënd om te kan besef dat ek nie hierdie goed self hoef te dra nie. Ek gaan pak letterlik elke dag by die Here af.

Induksie en VBO

Een ding wat ek verseker vir enige gemeente kan aanmoedig om te doen, is 'n induksieprogram.

Ds Willie van Zyl van Greytown het die GPS (Gemeentepredikant-sinkronisasie) met my en die twee gemeentes tegelyk kom doen. Ek het hierdie proses baie positief ervaar. Ons het mekaar baie beter leer ken en weet nou dat ons nie onrealistiese verwagtinge van mekaar moet koester nie.

Ek is besonder positief oor die VBO wat elke predikant moet doen, aangesien dit ons help om op hoogte met die teologie en die bediening te bly. 'n Mens kan so maklik stagneer in jou bediening en jou teologie, wat nie gesond vir jou of vir die gemeente is nie. Bygesê, jy kan maar soveel kursusse doen soos jy wil, maar as jou verhouding met die Here nie genoeg aandag kry nie, gaan geen kursus, graad of lesing jou help nie. Ek sien die VBO as ekstra ondersteuning en toerusting vir die bediening.

Sake op 'n breër front

Ek is veral baie opgewonde oor die manier waarop die Algemene Sinode in 2011 gaan plaasvind. Die kerk is hier vir die wêreld. As ons iewers vir duisende Rande in weelde bymekaarkom, voel dit vir my net verkeerd.

Op die oomblik voel dit vir my daar is soveel dinge waarop die kerk moet fokus. In 'n groot mate het die sake nie verander oor die laaste paar jaar nie. Rondom my sien ek wonderlike dinge wat gemeentes doen en waarmee hulle besig is.

'n Mens kan baie dinge sê oor wat gedoen moet word oor dinge soos armoede. My siening is dat elke gemeente in hulle gebied moet doen wat hulle hand vind om te doen. Elke gemeente is deel van die liggaam en het 'n ander doel. Solank hulle oë op God gevestig is, glo ek dat God hulle sal lei om te weet waar en hoe om besig te wees. Altans, ons moet uitvind waar God reeds besig is, en daar saam met Hom werk.

Om God sigbaar te maak

Ek beroep myself altyd op David Bosch wanneer ek moet dink oor die bediening of my roeping. Ek glo dat God die sturende God is. Hy het Christus gestuur om die wêreld met Homself te versoen. Christus het die Gees gestuur om ons nou by te staan en nou is ons die gestuurdes wat steeds hierdie "bediening van die versoening" (2 Kor 4) daagliks moet opneem.

Die kerk is nie bedoel om mense met allerhande programme besig te hou nie. Ek as predikant sien my roeping daarin om mense te motiveer en te aktiveer om God se vrede aan die wêreld te bedien. Ons moet God sigbaar maak op 'n aarde en in 'n tyd waar Hy nie so vreeslik sigbaar is nie.

Ek is baie positief oor ons land en sy mense. Oral waar ek kom (winkels, gym) kom ek in aanraking met mense wat leef asof gister nie meer bestaan nie.

Ek weet daar is mense en veral gebiede waar mense nog huil oor wat in die verlede in ons land gebeur het. Daar is nog talle mense wat haat en wrokke met hulle saamdra. Genadiglik is daar baie mense wat bo hierdie dinge uitgestyg het. God se liefde is sterker as enige wrok of haat. As Hy jou lewe eers omgekeer het, kan jy nie anders as om anders te begin leef nie.

Add comment


Security code
Refresh