AddThis Social Bookmark Button

In graad vier het ek vir my ma gesê dat ek 'n dominee wil wees. En sedert daardie dag was dit my roeping en my droom. My ouers, Pieter en Rika du Plessis, en my twee susters, Lorraine en Marinda, het my deur die jare ondersteun en aangemoedig om my roeping uit te leef.

Ek het in die Wes-Kaap (Durbanville) groot geword en was sedert my doekdae lid van NG Kerk Sonstraal.

En so het die jare aangeloop - van laerskool, hoërskool na Diensjaar vir Christus - en uiteindelik was ek op pad na die teologiefakulteit op Stellenbosch.

Gedurende my teologiese opleiding het dr Auke Compaan as mentor my ingetrek by Mosaïek. In 2008 het ek my praktiese jaar onder sy wakende oog voltooi. So ook my skripsie wat gehandel het oor die Samaritaanse vrou in Johannes 4.

En hier sit ek vandag - dominee Carika Hanekom!

Vanaf graad vier is ek omring deur ongelooflike kollegas en mentors wat my geleer het dat ek myself kan wees in die kerk, dat ek altyd moet aansluit by dit waarmee God reeds besig is en dat ek nooit alleen is nie.

Ek geniet my werk, veral prediking en verhoudingsbou.

En my geliefde meneer-dominee? Dis baanbrekerswerk! Op 27 Desember 2008 is ek getroud met Francois Hanekom.

Francois het groot geword in 'n pastorie. Danksy my ongelooflike skoonouers wat in Melkbosstrand woon, ken Francois die uitdagings en seëninge wat saam met predikant-wees kom. Hy is die beste man vir my! Hy het karaktertrekke en eienskappe waarna ek opkyk. Kinders ... tel ons dwerghasie?

Iets oor my kerk

Ek is nie meer net 'n lidmaat by NG Kerk Sonstraal nie, maar ook 'n predikant.

Geografies het die bedieningsarea van Sonstraal tussen 1999 en 2004 ongelooflik uitgebrei. Sonstraal-gemeente het sy maksimum kapasiteit begin bereik met inskakelingsmoontlikhede, erediensruimte en kategeselokale. In 2003 is besluit om rondom 'n kern van 14 jongmense, onder leiding van Auke Compaan (deesdae in Skuilkrans) 'n groeipunt te begin. Sedert Januarie 2004 staan dié groeipunt bekend as Mosaïek. Ek werk tans hoofsaaklik daar, saam met ds Andre Agenbag.

Die naam "Mosaïek" gaan terug na die eeue-oue kunsvorm om afsonderlike stukkies materiaal kunstig bymekaar te sit om sodoende uitdrukking te gee aan pragtige nuwe patrone en beelde. Mosaïek is vir my 'n kerk waar God met sy kunstige hande ons as gebroke mense tot iets moois omskep.

Die gemeente se langtermyn­doelstellings is om 'n energieke geloofsgemeenskap te wees wat 'n egte tuiskoms vir mense bied, gebou op die Woord van God en gerig op die koms van God se koninkryk binne ons leefwêreld.

Die gemeente strewe daarna om ere­dienste inspirerend te hou met 'n gemak­like musiekstyl waarvan moderne mense hou en wat op hulle ervaringsvlak is.

Mosaïek probeer om 'n kunstige ruimte te skep en simboliek uit te beeld wat aansluit by die kerklike tradisie. Dit strewe ook daarna om minstens 60 persent van lidmate in groeigroepe te laat behoort. Dit wil mense die geleentheid gee om hulle gawes uit te leef.

Vir my is NG Kerk Sonstraal en die groeipunt Mosaïek 'n gemeente wat bande van intimiteit wil smee. Dit wil ondersteuning gee in 'n wêreld wat ingegee het vir onsensitiwiteit, vervreemding en uitbuiting. Dit is ons roeping: om te deel, om te gee en te dien.

Iets oor my werk

My verantwoordelikhede tydens my studiejare het die ontwikkeling van kleingroepe vir jongmense tussen 20 en 30 jaar oud en prediking behels. Sedert my legitimasie is die vestiging van 'n geïntegreerde familie-en-kategese-bedieningsmodel en die bediening van die sakramente deel daarvan.

Ons gebruik Bybel-Media se LP3-program vir ons graad een tot sewe kategese en behandel op 'n kreatiewe wyse die Heidelbergse Kategismus met ons graad agt tot tien tieners. Die opstel van lesmateriaal en die aanbieding van die narratief in die erediens is my verantwoordelikheid.

Wat geniet ek die meeste? Prediking. Dit is my passie en 'n gawe wat ek wil ontwikkel.

Ek streef daarna om 'n leraar te wees wat lewe vanuit 'n lewende verhouding met die drie-enige God. Ek wil daagliks oop wees vir die leiding van die Heilige Gees en diensbaar wees aan ander. As rentmeester wil ek my tyd, geld en gawes in diens van God se koninkryk stel.

Ek wil skrywe oor eenheid

Ek kan iets skrywe oor die rol van die vrou in die kerk, of oor die gebruik van die woord "broederbond", of oor die wete dat predikante soos rooiwyn is - hulle raak beter met ouderdom. Maar ek gaan nie.

Ek wil iets skrywe oor eenheid.

Ons lewe in 'n tyd van individualisme en pluralisme, van diversiteit en fragmentasie. Juis te midde hiervan, is eenheid baie belangrik, veral in die kerk.

In die kerk is daar 'n honger na sigbare kerkeenheid. Daar is baie mense wat reeds daaraan toegewyd is en so lewe. Dis 'n eenheid wat nie gekeer kan word deur 'n besluit wat nog nie geneem is nie. Dis 'n eenheid wat nie gaan stop indien die besluit daaroor nooit geneem word nie.

In Christus is ons reeds een. Soos ons meer en meer soos Jesus word, word die eenheid meer en meer sigbaar!

Dis maklik om vandag in die kerklike politiek vasgevang te raak en negatief daaroor te wees. Maar al die argumente en papierwerk gaan nie die kerk se roeping verander nie. Die vraag  bly of ons as kerk besig is om in te skakel by dit waarmee God reeds besig is.

So, hoe sien ek as jong dominee die kerk?

Die kerk is die draer van die Waarheid.
Dit is die liggaam waarin ons leer dat ons aan die Vader behoort.
Dit moet heelheid en eenheid bring.
Dit moet verdeeldheid herstel en harmonie soek in verskille.
Dit is 'n ruimte waarin ons fou­te nie weggesteek hoef te word nie, maar waar ons ge­bro­kenheid juis genees kan word.
Die kerk bestaan uit menslike tempels wat die Here moet loof en prys.
Dit is 'n gimnasium waar mense se geloof sterk gemaak word.
Die kerk is nie iets wat ons besit of beheer nie. Dit is Jesus s'n.


Ten slotte

So wat is die een ding wat ons as kerk kan doen om 'n verskil te maak?

Wat ek weet van die kerk se uitdagings is beperk tot my blootstelling in en aan die kerk. Dus kan ek net meedeel wat ek geleer het.

In die afgelope sewe jaar het ek geleer dat ons nie ons eie foute met slim teorieë en teologie moet verbloem nie. Ons moet eerder oop en eerlik voor God en mekaar lewe. Dit beteken dat ons nooit moet ophou om mekaar te vergewe soos God ons vergewe het nie. Dit is net deur vergifnis dat ons in verhouding met God en met mekaar kan leef.

Add comment


Security code
Refresh