AddThis Social Bookmark Button

Ek is Lorret de Leeuw, dominee in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, gemeente Port Elizabeth.

Ek het grootgeword in Middelburg, Mpumalanga. My studies het my Pretoria toe gevat nege jaar lank, waarna ek terug is Middelburg toe vir drie jaar. Daar het ek by die gemeentes in die Ring van Middelburg gepreek en waardevolle preekondervinding opgedoen.

Ek is ongetroud, maar het 'n vaste vriendin en beplan om oor 'n rukkie te trou. Dis maar nou eenmaal nie lekker om alleen in 'n gemeente te werk nie!

Om 'n herder te wees

Ons gemeente is deel van die Ring van die Oos-Kaap. Die ring is wyd duskant die Vaalrivier verspreid. Ons kom dus nie baie by mekaar uit nie. Dis ook te verstane as mens kyk na die afstande wat tussen ons verskillende gemeentes is.

My opdrag in die gemeente is om die Woord te verkondig, huisbesoek en pastorale besoek te doen en om in enige situasie waar ek met die lidmate te doen het, die beeld van God te probeer oordra. Ek bied ook Bybelstudies aan by die gemeente op Woensdae. Ek beplan jeugbyeenkomste op Vrydagaande.

Ek is nou maar kort hier. Dus is my doelwit op die oomblik om die gemeente te leer ken ten einde vir hulle 'n herder te kan wees.

Ek is baie opgewonde oor die gees wat heers. Daar is baie meer ouer as jonger mense. Gevolglik suig die jonger geslag se kwessie effe aan die agterspeen. Dis egter reeds besig om te verander.

Ons kerk se "Algemene Sinode" is die Algemene Kerkvergadering (AKV) wat vanjaar in September in Pretoria plaasvind. Ek sien nogal baie uit daarna, want dis die eerste een wat ek gaan bywoon.

Tydens die vergaderings - soos ek by ander predikante hoor - heers daar meesal 'n gees van opwinding, want daar is altyd kontroversiële gesprekke aan die gang.

Van die gesprekke wat tans in die Nederduitsch Hervormde Kerk op die tafel is, is die gesprekke rondom die volkskerk-ideologie en saamwoon-verhoudings.

Fokus op jongmense

Jongmense is die kerk van die toekoms. Ek voel dat die kerk méér moet fokus op die jongmense en wat vir hulle belangrik is. Dit beteken nie dat ons jongmense moet opsweep met charismatiese giere nie. Ons moet eerder probeer om hulle tuis te laat voel in ons kerke deur eredienste te hou wat spesifiek op hulle gemik is. Ons kan ook 'n paar studente saamneem na die Algemene Kerkvergadering toe, sodat hulle deel van die prosesse kan word, veral die daadwerklike worsteling met die Woord van God.

Jongmense moet egter oop wees vir leer en luister. Dit help nie dat die gesprek eensydig plaasvind nie.

In ons land, dink ek, is die grootste probleem die morele verval en die geweldige voorkoms van misdaad. Ek is egter nie negatief nie, want ek glo dat daar deur die hand van God verlossing vir almal sal kom.

Die onlangse spirituele oplewing na aanleiding van Angus Buchan, het my baie opgewonde gemaak. As 'n mens sien hoe mense na sy byeenkomste stroom, kan jy sien dat die land honger is vir die Woord van God. As dominees ervaar ons egter dat ons met 'n samelewing moet kompeteer wat in 'n verbruikersmentaliteit verval het wat met elke erediens net meer en meer vermaak wil word.

Fokus op die Woord

Wat vir my baie belangrik is, is dat 'n mens regtig liefde in die gemeente moet verkondig. Ja, dit gaan nie altyd so wees dat almal net liefde soek nie! Partykeer moet jy ook ernstig met die gemeente praat, maar selfs vermaning moet in liefde gegiet word.

Add comment


Security code
Refresh