AddThis Social Bookmark Button

"Ek dink ek sal tog kan sê: Ek weet nie. Maar wat ek wel vermoed, sal ek probeer beweer."

Laai Jan se volledige artikel hier afElke gemeente is uniek. Gemeentes bestaan in werklikheid uit kollektiewe geloofspersoonlikhede. Elkeen van dié persoonlikhede het 'n eie manier waarop hulleself verstaan, hulle het 'n eie geloofsdinamika en eie gedragspatrone. Dit vorm die eiesoortige konteks waarbinne hulle hulleself uitleef. Daar is nie so iets soos 'n generiese kategorie "gemeente" wat sonder kwalifisering op 'n geloofsgemeenskap toegepas kan word en algemeen geldig is nie. Dit is ook waar van "klein gemeentes".

'n Sentrale uitgangspunt om te alle tye oor klein gemeentes te onthou, is: "'n Klein gemeente is nie 'n onderontwikkelde, afwykende en/of sukkelende groot gemeente nie; dit is 'n spesifieke, unieke, soms jonger en soms ouer uitdrukking van die liggaam van Christus."

Klein gemeentes in Namibië

Van die huidige 40 tradisionele NG gemeentes in Namibië, kan ongeveer 18 as sogenaamde klein gemeentes beskryf word. Minstens 15 van hulle is eintlik baie "groot", omdat vanweë die uitgestrektheid van die land, hulle geografiese grense etlike duisende vierkante kilometers beslaan. Om gedurende die afgelope 25 jaar so 'n "klein-grootte" te wees, was allermins 'n maklike of aangename ervaring vir dié soort gemeente. Dit is immers duidelik dat die klein gemeentes in die Namibiese konteks ervaar dat hulle minstens die afgelope twee dekades lank net mooi die omgekeerde beweging van Alice Mann se "Raising the Roof" beleef het. Hulle is besig met "digging the floor deeper, instead of raising the roof higher." Hulle krimp omtrent almal van pastorale grootte na familie-groot gemeentes. Hulle beleef die effek daarvan nogal sleg.

Dié gemeentes se grootste uitdaging is (soos trouens vir elke ander instelling in die huidige Suider-Afrikaanse samelewing) om die geweldige omvang van omwentelinge op die sosio-politiese en ekonomiese terreine in hulle bestaan te verdiskonteer. Hulle het dit moeilik om antwoorde te vind op die vraag: "Wat is met ons aan't gebeur?"

Die "Five Big C's" (na aanleiding van Amour en Browning se lens op ons tyd) beïnvloed op die oomblik klein gemeentes ingrypend.

Verandering

Die eerste groot C is change. Ons wêreld is in 'n tyd van voortdurende en ál vinniger verandering. Dit spoel onkeerbaar oor elkeen van ons heen. Verandering vind letterlik daagliks op elke faset van mense se lewe teen 'n enorme spoed plaas. Om verandering te probeer vermy of ignoreer, lei tot per­soonlike, sosiale en geestelike self­moord. Mense in klein gemeentes het erge moeite om by dié verandering by te bly.

Kompleksiteit

Die tweede groot C is complexity. Dit kom daarop neer dat hoe meer en vinniger dinge, omstandighede en situasies verander, hoe ingewikkelder raak die lewe vir mense om te hanteer. Daagliks is daar méér inligting, opsies, keuses, geleenthede, behoeftes, krisisse en aansprake om op te reageer. Klein gemeentes kan soms vind dat hierdie toedrag al hulle energie dreineer en hulle verstik.

Verwarring

Die derde groot C kom voort uit die eerste twee. Hoe meer veranderings daar is en hoe ingewikkelder dinge is, hoe makliker raak mense deurmekaar en onseker. Daarom is ons tyd 'n tyd van toenemende confusion. Mense vra: Wat is reg? Wat is verkeerd? Wat moet ek doen? Wat moet ek los? Hierdie vrae raak ál meer akuut en dringend in die gemoedere en geledere van lidmate wat hulleself in klein gemeentes op 'n wyd uitgestrekte platteland bevind en probeer om uit en deur hulle geloof sin in die lewe te maak.

Konflik

Wanneer mense verward raak, begin die vierde groot C kop uitsteek: toename in konflik (conflict). Konflik eskaleer op alle terreine van samelewings. Daarom neem onverdraagsaamheid, aggressie en gewelddadigheid toe. Om die voorkoms en omvang daarvan te ignoreer, gering te skat of weg te wens, is van die grootste foute wat mense of groepe kan maak, ook in klein gemeentes. Dit is 'n knaende uitdaging om te verstaan waar die konflik  vandaan kom, om dit konstruktief te hanteer en te probeer om dit deur 'n positiewe ingesteldheid en optrede te voorkom.

Kapitaal

Die vyfde groot C se inwerking en effek op klein gemeentes se situasies, is dikwels die oorsaak daarvan dat die eerste vier C's toenemend posvat. "The big C that activates Change, brings about Complexity, causes Confusion and urges on Conflict is none other than CAPITAL!"

Die beskikbaarheid van of die gebrek aan geld, ekonomiese vooruitsigte, besittings, ja, vermoëndheid en materialisme, is vanweë die globale verbruikersmentaliteit op die oomblik die stimulerendste en dominantste faktor in gemeenskappe en individue se selfbelewing. Daarom hel die bevoorregtes en die verontregtes op die ekonomiese speelveld se skale kommerwekkend en toenemend oor in die rigting van die sesde groot C: crime.

Die groot C's het in Namibië sigbaar 'n groot impak op klein gemeentes. Benewens die enorme invloed van die groot wêreldveranderinge wat almal tref, beleef gemeentes ook die afgelope 20 jaar se radikale politiese en sosiaal-maatskaplike veranderinge van die Suidelike-Afrikaanse samelewings met wisselende intensiteit. Veranderende omstandighede veroorsaak kompleksiteit, verwarring en konflik tussen mense na binne en buite. Dit gebeur vanweë kapitale en materiële oorstimulasie en die eskalasie van misdaad in die gemeentes en gemeenskappe.

Tendense in klein Namibiese gemeentes

Daarom merk ons die volgende tendense in Namibiese klein gemeentes op:

* Die desperate oorlewings- en selfbehoudsbewussyn raak ál hoe intenser. Ons onthou nog vir Kojak wat destyds op TV gereken het: "Survival is a lousy way of living".

* Op finansiële terrein is daar 'n toenemende krisis- en risikobewussyn aan die ontwikkel rondom die gemeentes se voortbestaan. Daar is nog geld vir nuwe karre, maar nie meer vir die kerk nie.

* Interpersoonlike gesindhede en onverdraagsaamheid verskerp binne gemeentes, en na buite met ander lede van gemeenskappe. Insidente van konflik neem nie af nie, maar word eerder meer.

* Die neiging is om te probeer om steeds praktyke te beoefen wat vroeër en in groter, stabiele pastorale gemeentes gewerk het.

* Klein gemeentes is nie juis in pas met die werklikheid van generasie-verskeidenheid in hulle bedienings nie. Die "one size fits all"-benadering bly nog oorwegend aan die orde van die dag.

* In hulle praktiese geloofsgerigtheid is gemeentes geneig om te privatiseer. As gemeentes investeer hulle nie as gemeentes in groot maat in hulle breër gemeenskappe nie.

* Etniese eiesoortigheid bly steeds nog 'n wesenlike uitgangspunt vir lidmaatskap en getuienis in die samelewing. Daar is min betekenisvolle blyke van 'n gereedheid om kulturele grense oor te steek.

Ekklesiologiese vertrekpunte

Wat betref die bewuste en of onbewuste ekklesiologiese vertrekpunte waaruit klein gemeentes leef, is die situasie tans nogal van 'n tergende aard.

Om oor kerk-wees en gemeentelike omstandighede vanuit God se perspektief en die Gees van Christus se betrokkenheid te dink, is die enigste raamwerk van waaruit hoop, moed en geesdrif regtig kan ontwikkel ten einde die uitdagings van die tyd en omstandighede te hanteer. In baie van die klein gemeentes, word dit egter toenemend duidelik dat sosiologiese kragte en oorwegings op 'n manier net baie meer deurslaggewend is as teologiese oortuigings en geestelike werklikhede.

Twee van die belangrikste aspekte van 'n operasionele gemeente-teologie behoort die verstaan van die heil en die Godsbegrip te wees. Al die ander teologiese posisies en gemeentelike praktyke word op die een of ander manier van hieruit ingeklee. Binne 'n gereformeerde raamwerk, is die verwagting dat 'n eg Bybelse inkleding van hierdie twee sentrale teologiese dimensies 'n deurslaggewende rol in klein gemeentes se teologie behoort te speel. Immers, prof Willie Jonker het ons geleer: "Wie die aard van die genade verkeerd verstaan, sal nie net die ganse Christelike teologie verkeerd verstaan nie, maar sal ook die kerk tot in die praktyk van die bediening toe verkeerd verstaan."

Die een deurslaggewende geloofspraktyk of gewoonte wat klein gemeentes in Namibië nog help om hulleself steeds as geloofsgemeenskappe te handhaaf, is die beoefening van koinonia. Die vestiging en deurlopende voortsetting van geleenthede en aktiwiteite van koinonia in wyksbyeenkomste, vrouebyeenkomste, basaars, kerkraadsvergaderings en rondom die aanbiddingsgeleenthede van eredienste en sakramente, help lidmate om met mekaar kontak en wisselwerking binne geloofsverband te hê. Die nie-teologiese keersy van lidmate se deelname aan dié koinonia-geleenthede is natuurlik die gewoon menslike behoefte aan sosialisering en saamkuier. Dit is dus nodig om te blý vra na die werklike diepgang van ware koinonia tydens hierdie byeenkomste.

Kerkverband se poging tot hulp

In die kerkverband se poging om klein gemeentes te help, het In Namibië met verloop van tyd drie prosesse geleidelik na vore begin kom.

Die eerste is 'n proses van begripstigting deur middel van besoeke, behoeftebepalingsondersoeke en verslaglewering, asook rings- en/ of streekskonferensies waartydens toeligting en interaktiewe besprekings oor die toestande en omstandighede plaasgevind het. Die verband het daarom die verantwoordelikheid en uitdaging aanvaar om klein of krimpende gemeentes te help om te verstaan wat met hulle aan die gebeur is, wie en hoe hulle tans is, wat hulle alles beïnvloed en waarop hulle behoort te konsentreer om hulle eie toekoms met moed en vertroue tegemoet te gaan.

Die tweede proses is besoeke aan en konsultasiegesprekke met gemeenteleiers om bepaalde ad hoc-toestande soos leierskapwisseling, konfliksituasies, finansiële oorlewing en samewerkingsmoontlikhede tussen naasliggende klein gemeentes te help begelei.

'n Derde proses is 'n gefokusde patroon van gereelde retraites vir die gemeenteleraars ter wille van verdieping en geestelike versorging. Die Chinese reken immers dat 'n vis van die kop af vrot. Daarom is dit vir die welsyn van klein gemeentes van uiterste belang om die begeleiers van sulke gemeentes se geestelike diepgang as 'n wesenlike prioriteit te sien en te versorg.

In die droë wit seisoen van die warm land leer ons luister wat die Here God self besig is om saggies te sê oor die koers waarheen Hy met sy klein gemeentes op pad is.

Jan Woest was ná 5 jaar in Bothasig 11 jaar lank in Leonardville predikant. Sedert 2004 is hy in diens van die Namibiese sinode, verantwoordelik vir die begeleiding van die renovaré-proses. Jan sê dat in sy betrokkenheid by die kerk en gemeentes, probeer hy wanneer hy soggens opstaan wonder en "worry" oor dieselfde dinge waaroor hy dink God daagliks wonder en "worry".

Add comment


Security code
Refresh