AddThis Social Bookmark Button

Die NG Kerk in Oos-Kaapland het gekies vir 'n model waarin lidmate bemagtig kan word om as predikers en pastors in gemeentes leiding te neem.

Dit is die gevolg van die teologiese oortuiging dat lidmate gawes van die Here aan gemeentes is, asook 'n toenemende skeptisisme oor die professionele predikante-amp. Laasgenoemde kompeteer dikwels met lidmaat-leierskap, en verdring dit selfs. Verder is daar die werklikheid van talle kleiner gemeentes wat nie langer professionele predikante kan bekostig nie.

Dié teologiese model van die kerkverband staan 'n wegbeweeg van 'n institusionele selfverstaan na 'n missionale identiteit voor. "Missionaal" beteken dat lidmate en gemeentes deur hulle leefwyse deelneem aan God se missie in die wêreld. Die oortuiging is dat die Here gemeentes versamel, voor sy aangesig bymekaar bring, roep, fokus en stuur om op konstruktiewe wyse deel te neem aan sy werk in hulle alledaagse konteks.

Konteks

Op die oomblik kan nege van die 106 gemeentes in die Oos-Kaap nie meer voltydse leraars bekostig nie. Hierdie gemeentes kom in klein plattelandse gemeenskappe voor wat sterk deur ontvolking geraak is. Hulle het egter almal 'n sterk oorlewingsdrang en word gedra deur lidmate wat as geloofwaardige leiers erkenning geniet.

Dan is daar ook twee plattelandse gemeentes en twee stedelike gemeentes wat samewerkingsooreenkomste met buurgemeentes het. Leraars in deeltydse kontrakposte bedien 'n aantal klein gemeentes.

Oorlewing is 'n sterk tema in die wyse waarop hierdie gemeentes hulleself verstaan. Lidmate werk hard sodat daar 'n gebou kan wees waar hulle die Woord van die Here kan hoor. In verskeie gemeentes moet  opgeleide predikante die Woordbediening doen. Wanneer ouderlinge preek, word eredienste baie swakker "ondersteun". Daar is 'n versugting na vriendelike, sosiale predikante wat "soos ons is", met die mense meng en vir hulle die Woord van die Here bring. Hierdie nostalgie beteken dat in baie klein gemeentes 'n teologiese identiteitskuif na 'n missionale verstaan van gemeente-wees gefasiliteer moet word.

Daar is ook van hierdie gemeentes waar lidmate die krag van hulle eie bediening ontdek het. Die leierouderling van 'n gemeente waar leraars van 'n buurdorp baie jare die eredienste op Sondae kom lei het, verduidelik dat die beëindiging van dié kontrak "die gemeente uit 'n doodslaap laat wakker word het". Kerkraad en lidmate het verantwoordelikheid begin neem, met 'n gevolglike opbloei in die gemeente. Die stryd om kerkraadslede te vind, het meteens verdwyn. Kerkraadslede het aktief aan die bediening van die gemeente begin deelneem. Ook op ander vlakke het lidmaatleierskap begin blom.

Die rol van die kerkverband

Indien klein gemeentes uit 'n nuwe missionale identiteit moet leer leef, moet geloofwaardige strukture dit op 'n oortuigende wyse begelei en fasiliteer.

In hierdie opsig is Oos-Kaapland geseënd met 'n kerkverband wat oor meer as 'n dekade heen, as gevolg van die ekonomies-marginale karakter van die kerk, indringend moes besin oor sy eie vertrekpunte. Een van die groot ontdekkings was die seën van die kerkverband (ring en sinode) as verhoudingstruktuur. Reeds in die vorige eeu is weggedoen met die sinode en ring as bloot kontrolerende strukture. Die aksent het verskuif na geloofsonderskeiding, roeping en bediening.

Ruimte ontbreek hier om die verhaal te vertel, maar die bemagtiging van die ring as eerste vlak van kerkverband staan voorop. Die ring is die ruimte waarbinne gemeentes sáám oor hulle konteks besin en vra waarop die Here hulle aandag wil vestig. Dié bemagtiging is 'n wesentlike aspek van die teologiese herwaardering van die kerkverband. 'n Sisteem van ringsprojekte waar die sinode sy hulpbronne, besluitnemingsrol en mag doelbewus desentraliseer, institusionaliseer derhalwe ringe se leierskapsrol.

Die desentralisasie van geld en mag na ringe is sinodaal begelei met verskeie prosesse wat ringe se aandag op hulle kontekste in plaaslike gemeenskappe gevestig het. Talle gesprekke is met predikante, gemeenteleiers en kerkkantoorpersoneel gevoer oor roepingsverstaan, kontekstualiteit, vrae rondom die karakter en missie van God, die skep van 'n bedieningskultuur (eerder as 'n organisasiekultuur) en 'n gestuurde lewenswyse (eerder as 'n institusionele fokus). Vanjaar het ook orreliste oor die breedte en lengte van die sinodale gebied aan die orde gekom.

Met hierdie nuwe praktyke en gewoontes, berei die sinode die klimaat voor vir 'n ekklesiologiese revolusie. Uit die blote doen van praktiese bedieningswerk, kom transformasie in gemeentes tot stand. Die prioriteit van die regte bedieningstake en nuwe bedieningservaring bó eindelose debatte waarin oor die wese van die kerk geteoretiseer word, is onteenseglik bewys. Wanneer volwassenes sinvolle bedieningstake uitvoer, en teologies nadink - in die lig van die Skrif en konteks - oor hulle ervaring, word transformasie na 'n missionale identiteit gebore.

Hierin lê daar hoop vir klein gemeentes.

Ringe as teologiese kweekskole vir lidmate

Talle gemeentes kan nie meer predikante bekostig nie. Daarom maak dit sin dat bemagtigde ringe oor predikante begin dink as 'n teologiese bate wat leiding kan neem in die bedieningsvorming van lidmate om binne hulle ringsgebied missionale leiers te word.

Die verstaan van die predikantsamp skuif van primêre bedienaar na iemand wat 'n bemagtiger tot bediening is.

Ervaring leer dat talle klein gemeentes, met hul oorlewingsdrang, versigtige fasiliterende leierskap benodig om na 'n posisie te skuif waar lidmate as outentieke bedieningsleiers gesien word. Dit is ringe se verantwoordelikheid.

Materiaal vir lidmaatbemagtiging

Op sinodale vlak het Oos-Kapenaars kurrikula ontwikkel vir die bemagtiging van lidmate om as predikers en/of pastors op te tree. Leraars in die onderskeie ringe is opgelei om hierdie materiaal in ringsgemeentes aan te bied. Die Sentrum vir Kontekstuele Bediening aan die Universiteit van Pretoria het in hierdie opsig 'n belangrike bemagtigende rol gespeel.

Die opleidingsmateriaal word binne 'n konteks van mentorskap benut. Lidmate word dus opgelei (teoreties en prakties) om te preek en/of pastorale begeleiding te verskaf. Die ringsleraars tree as mentors op wat hierdie lidmate begelei om in hulle bediening te groei. Kerkrade keur die persone vooraf goed vir opleiding, en besluit ná die opleiding amptelik om hierdie lidmate te benut in die gemeente.

Voorspelbaar genoeg het verskeie van die klein, plattelandse gemeentes in die eerste rondte nie lidmate gestuur vir bemagtiging nie. Dit het ons laat besef hoe belangrik 'n teologiese skuif in die selfverstaan van hierdie gemeentes is. Ringe neem nou doelbewus verantwoordelikheid om die herwaardering van lidmaatbediening in hierdie gemeentes te laat groei.

Daar is steeds ringe wat self nie voldoende waarde aan lidmaatbediening heg nie. Ondervinding leer ook dat kontrakleraars en tentmakers nie noodwendig die lidmaatopleiding ondersteun nie. Hulle mag dit as bedreigend vir hulle eie posisie in die gemeente beskou.

Deur samewerkingsooreenkomste, bedien leraars met 'n visie vir hierdie saak klein gemeentes wat die beste ingekoop het op die nuwe bedieningsmodel. Waar daar kontekstueel-sensitiewe, geloofwaardige bediening is en waar roepingsverstaan gekultiveer word, skuif gemeentes in hulle selfverstaan.

Uitkomste van die bedieningsbemagtiging

'n Ietwat onverwagse uitkoms van die lidmaatbemagtiging, is die wyse waarop groter, stedelike gemeentes dit aangegryp het. Sowat 40 persent van die lidmate wat opgelei is, kom uit stedelike gemeentes waar leiers besef die kapasiteit van hulle bediening moet groei.

Lidmate is werklik innoverend. Baie het die programme deurloop omdat hulle op bepaalde punte geestelike byeenkomste lei (by die werk, in fabrieke, op hawens, op plase en in klein nedersettings) en/of pastorale lewenstyle handhaaf, waar mense natuurlikerwys na hulle kom vir raad en bemoediging.

Die toerusting bemagtig vroue in die bediening. In plattelandse kontekste het twee keer méér vroue as mans vir die opleiding in pastorale versorging ingeskryf. In stede is die verdeling vir pastoraat gelykop.

Wat inskrywings vir prediking op die platteland aanbetref, is die verdeling twee-derdes mans en een-derde vroue. In die stede is dit 80 persent mans wat vir prediking ingeskryf het. Hoewel die patroon van inskrywings moontlik geslagstereotipes reflekteer, verteenwoordig dit steeds 'n merkwaardige vordering met die herstel van die vrou in die bediening.

Die wonderlike verhale van sin, van lewens- en roepingsvervulling, bevestig die teologiese wysheid om lidmate se posisie in die bediening te herstel. Van hierdie lidmate word nou reeds op uitnodiging deur ander gemeentes gebruik om Week van Gebed, Pinkster en ander eredienste te lei. Hierdie lidmate word die rolmodelle wat die transformasie van die kerk begelei.

In die ekonomies-marginale kontekste van Oos-Kaapland, het ringe en gemeentes moed geskep. In terme van die institusionele tradisie dat gemeentes instellings is wat oor 'n voltydse predikant beskik, is daar verskeie gemeentes wat sou moes toemaak. In werklikheid beskik hierdie gemeentes oor 'n inherente lewenskragtigheid wat nou, met toepaslike leiding, veel beter ontsluit word.

Die pad vorentoe

Die bemagtiging van lidmate vir prediking en pastoraat is die eerste tree op 'n lang pad om 'n missionale identiteit in die kerk te vestig. Bevry van oorlewingsvrese, kan gemeentes nou konstruktief op hulle kontekstuele roeping fokus.

Add comment


Security code
Refresh