AddThis Social Bookmark Button

Die dae van glorie is lankal verby. PE-Noord, vroeër een van die groot en gerespekteerde NG gemeentes in Port Elizabeth, moes die knie buig voor industrieë en fabrieke. Talle woonhuise is afgebreek en die gelaat van die landskap het onherroeplik verander. Waar kinders vroeër gespeel het, brul swaar vragmotors nou. Waar bure saans ná werk gemoedelik met mekaar staan en gesels het, is daar nou hoë grensmure, parkeerareas, sake-ondernemings en sakebedrywigheid teen die snelheid van lig.

Slegs hier en daar staan nog woonhuise. Pensioenarisse, in wie se gedagtes die aangename herinneringe van die goeie ou dae voortleef, woon daarin.

PE-Noord is een van die gelukkige gemeentes wat oorleef het. Meer as een ander moes die knie buig en hulle deure sluit. Gemeentes soos Sidwell en Noordeinde het alles verloor en ontbind. Baie van hierdie lidmate het by PE-Noord ingeskakel. Hulle wag en wonder wanneer PE-Noord óók sy deure gaan sluit.

Toe die gemeente aan die begin van 2009 sy verhaal aan die hand van 'n storiemuuroefening vertel, was die trauma en ontreddering tasbaar.

Verstommend genoeg vertel die storiemuur dat die uur van grootste nood ook die uur van nuwe werklikhede was. Juis in die tyd toe Sidwell se NG Kerk ontbind en lidmate by Noord inskakel, begin nuwe werklikhede ontstaan.

Dis die tyd toe die mense van Noord die groot, bruin, sub-ekonomiese woonstelle neffens hulle kerkgebou begin raaksien. Waar geen kerkraadslid ooit hierdie geboue ná sononder wou betree nie ("dit is te gevaarlik"), begin die gemeente belangstelling en deernis met die mense van hierdie blokke ontwikkel. Hulle begin praat oor vroue wat bedags toegesluit word wanneer die mans gaan werk, oor mans en seuns wat moeders mishandel, oor die geweldige dwelm- en drankmisbruik binne dié betonstrukture.

Lidmate begin die straatlopers raaksien, en raak besorg oor hulle. Die eerste keer sien hulle nie net hulle eie jongmense raak nie, maar die jongmense van die hele gemeenskap. Hulle besef dat hulle Jesus het om met dié jongmense te deel.

Aanvanklik reageer die vroue in die bruin woonstelle baie negatief oor die kerk se poging om na hulle uit te reik. "Julle is net hier om ons te veroordeel," sê die vroue, "en ons het dit nie nodig nie. Ons weet goed genoeg watter mislukkings ons is." Dit kos harde werk en kopkrap oor hoe om met die vroue bevriend te raak en hulle vertroue te wen.

Deurbraak

Die laerskool in die omgewing sorg vir 'n deurbraak. Lidmate gaan kyk saam met mense van die woonstelblokke hoe hulle seuns en dogters rugby en netbal speel. Op dié manier maak hulle vriende, en hierdie vriendskappe word die basis waarop die vroue kerk toe genooi word.

Die gemeente moes leer om 'n program vir die vroue te ontwikkel wat by hulle behoeftes pas, nie by die kerkmense s'n nie. Hulle begin om die vroue te leer hoe om hulleself te versorg, te grimeer, aan te trek en goedkoop geskenkies te maak. Van 'n program ontwikkel dit tot vriendskapsverhoudings. Uiteindelik begin die vroue eredienste bywoon.

Die jeugbediening van 'n gemeente wat oor baie min bronne beskik, begin fokus op Jesus en praat oor Jesus. Hulle doen dit met die jongmense van die omgewing. Hulle leer leef en dink vanuit die Nuwe Testamentiese getuienis oor Jesus. Hulle is verras om te beleef hoe 'n aantrekkingskrag Jesus het vir die kinders van geweldenaars, perlemoensmokkelaars, skofwerkers, werkloses en hooploses. Baie van die jongmense, waaronder 'n groot groep laerskoolkinders, het nie voldoende voeding tuis nie. Die gemeente begin met die bietjie bronne tot hulle beskikking, toebroodjies by die skool voorsien. By elke kerklike jeugbyeenkoms word daar iets kleins, voedsaams en goedkoop genuttig.

Een van die wonderlikste dae in die gemeente se geskiedenis is die pretdag wat met die sakeondernemings se hulp op die laerskoolterrein gehou word. 'n Groot pretpark is letterlik uit verskillende bronne saamgestel. Die eerste keer in hulle lewe geniet kinders die speletjies en ry hulle op die toerusting wat ander kinders as vanselfsprekend aanvaar.

'n Sopkombuis vir straatlopers ontstaan. Meer as 200 van hulle kry weekliks goeie voeding. 'n Badkamer word tot hulle beskikking gestel, sodat hulle kan was en skoon aantrek. Dit maak werkaansoeke soveel makliker. Van hulle word motorwagte of kry ander werkies. Dit bring verbeterde lewensomstandighede mee. Gemeentelede tel ander letterlik uit die stof uit op en gee vir hulle 'n tweede kans.

Die dankofferinkomste begin skielik groei, verdubbel later. PE-Noord word soos 'n stad op 'n berg.

Merkwaardig genoeg sien baie lidmate die ommekeer nie raak nie. Vir hulle is dit nie eintlik die rol van die kerk nie. Hulle bly pessimisties oor die toekoms van die gemeente. Hulle meet hulleself teen ander welvarende, voorstedelike gemeentes. Omdat daar nie baie lidmate is nie, groot en vol eredienste soos in die goeie ou dae nie, omdat wyke begin sukkel om kerkraadslede te kry, voel hulle steeds die gemeente is 'n mislukking en op die afdraende pad.

Dit neem 'n doelbewuste inset deur die storiemuur - 'n fasiliteringsproses waardeur die gemeente gehelp word om die Here in hulle geskiedenis raak te sien - om bewus te word van die werklikheid van God se genade. Só kom die ommekeer in die gedagtes en werklikheidsbesef van die gemeente. Die gemeente begin God raaksien. Hulle kapasiteit groei om doelbewus die Here se leiding - al hoe dieper in die nood én genesing van die gemeenskap in - na te volg.

Nou vertrou PE-Noord op die Here vir hulle toekoms. Hulle probeer doelbewus soveel as moontlik hulp en ondersteuning so vinnig as moontlik weg te gee. Hulle kan nie vinnig genoeg weggee nie, want die oliekruik raak nie leeg nie. Die wysheid om met elke Rand tien Rand se waarde te skep, groei. Die gemeente begin toenemend om guns te wen in die oë van die gemeenskap, veral die sakegemeenskap van Port Elizabeth. Van oraloor begin sakemanne en welgestelde gemeentes en gemeenskapsorganisasies hulle as 'n betroubare en geloofwaardige vennoot sien om iets aan die nood van die gemeenskap te doen.

Die Here voorsien vennote vir PE-Noord. Lidmate begin stadig maar seker uit ander gemeentes by hulle aansluit, omdat die roeping van dié gemeente die roeping is wat die Here ook op daardie lidmate se harte druk.

Danie Mouton is gemeentebegeleier in diens van die Oos-Kaapse sinode.

Add comment


Security code
Refresh