AddThis Social Bookmark Button

Kerke wêreldwyd begin toenemend aandag gee aan die fenomeen van kleiner gemeentes.

Aan die een kant is dit weens die lot van gemeentes wat getref word deur grootskaalse demografiese verskuiwinge in sommige gebiede, en  waar dit noodsaaklik is om nuut te dink oor die bediening van hierdie kleiner wordende gemeentes.

Maar aan die ander kant is dit ook vanweë die voordele wat toenemend raakgesien word in klein gemeentes.  Daarom dat al hoe meer artikels en boeke verskyn wat die potensiaal van mikro-gemeentes raaksien en hulle stories begin vertel.

Gemeentedienste Netwerk

Die lede van GDN praat geruime tyd reeds oor die saak van klein gemeentes in die onderskeie kerke wat daar verteenwoordig is, te wete die NG Kerk, VG Kerk en Hervormde Kerk.

Al drie hierdie kerke se sinodes en Algemene Sinodes begin ook toenemend navorsing doen om sulke klein gemeentes beter te kan bedien en begelei.

By die Algemene Sinode van die NG Kerk 2007 is bv. ‘n verslag voorgelê wat onder andere die volgende perspektiewe uitgelig het:

  • Volgens Kerkspieël 2004 was 27,4% (325) van alle gemeentes in die NG Kerk klein plattelandse gemeentes.
  • Hierdie gemeentes beleef dikwels dat hulle in die navorsing oor gemeentes en die breëre bedieninge van die kerk misgekyk word, omdat hulle ‘n minderheidsgroep binne die kerk is.
  • Ongelukkig is hierdie belewenis nie ver van die waarheid af nie. As gevolg van hulle kontekstuele situasie word hierdie klein gemeentes gekonfronteer met probleme en realiteite wat ryker en groter gemeentes skaars aan dink. Kwynende getalle, finansiële tekorte en groot afstande is besig om baie van hierdie gemeentes ‘n krisisbestaan te laat voer.
  • Omdat die stryd om oorlewing vir baie van hierdie gemeentes die oorheersende saak op hulle agenda geword het, kan dit nie anders as dat baie van hulle in die proses disfunksionele gemeentes begin word nie. Deel hiervan is dat hierdie gemeentes ‘n baie swak selfbeeld het, hulle roeping prysgegee het, hoop vir die toekoms verloor het en beleef dat die kerkverband nie regtig meer omgee wat van hulle word nie.
  • Vanuit die klein plattelandse gemeentes in ons kerk gaan daar ‘n noodkreet uit na ons kerk. Die geloofwaardigheid van ons getuienis na buite, ons betrokkenheid by die breër Suider-Afrikaanse samelewing en ons poging tot kerkeenheid kom in die gedrang as ons die noodkreet in ons eie midde nie hoor en ernstig opneem nie.

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het dus in 2007 aanbeveel dat die saak van klein gemeentes verwys word na die ADGO en GDN om die nodige navorsing te doen en met behulp van sinodale gebiede waar baie klein gemeentes voorkom, te werk aan prosesse en bedieningsvoorstelle wat klein gemeentes op ‘n konkrete wyse kan help. Daar is ook besluit om Die NG Kerk-familie so ver moontlik ook hierby te betrek.

ADGO en GDN het ds Danie Mouton van die NG Kerk vir dié taak afgevaardig.

GDN het daarom by sy vorige forum in Februarie 2009 besluit om hierdie Kruisgewys  te wy aan die saak van Klein Gemeentes as stimulus vir ‘n wyer gesprek hieroor in die onderskeie kerke.

Add comment


Security code
Refresh