AddThis Social Bookmark Button

KG-okt-2015-coverHierdie Kruisgewys fokus op van die uitkomste van Kerklike Jeug en Geloof in Suid-Afrika, ’n multi-kerklike navorsingsprojek. Bybel-Media gee dit onder die titel Skokkend Positief in boekvorm uit.

Zander van der Westhuizen, leier van die projek, beskryf dit soos volg: “Die kerk wou vir ’n slag weer weet hoe lyk sy jongmense. Ons het amper alle kerke in die land op hierdie reis saamgenooi. Party het van die begin af nie kans gesien nie; ander het soos die enorme logistieke taak duidelik geword het, besluit dat hulle nie dadelik wil voortgaan nie. Hopelik sal hulle nog in die toekoms! Uiteindelik het ons met ’n paar van die Afrikaanse susterskerke geëindig. Dit was voorwaar ’n besondere belewenis om as kerke saam te werk. Ons het immers een saak gemeen: ons jeug!”

Die navorsing is gedoen met die kundige hulp van teoloë en statistici van die Universiteit van Pretoria sowel as die Departement Kommunikasiewetenskap van UNISA. Die uiteinde was dat amper 300 jongmense (ouderdom 16-35) 481 vrae beantwoord het. Dit het veral gefokus op profiel (wie is jy?) en persepsie (wat dink jy?). Die data wat hieruit onttrek is, is deeglik en omvangryk hanteer. Hulle het gehoop vir meer respondente, maar dit was vir die doeleindes van die navorsing genoeg, versprei oor die hele land en getrek vanuit meer as 82 gemeentes in drie denominasies.

Uiteraard kan hierdie navorsing nie ’n prentjie gee van “alle” jongmense in ons land nie. Die navorsing praat nie eers namens “alle” jongmense in die Afrikaanse kerke nie. Al wat die navorsing sê, is wat hierdie respondente sê. Maar wat hulle sê, dui vir ons ’n rigting aan. Of dit die rigting van “almal” is, kan ons waarskynlik nie bevestig nie. Maar hierdie was ’n belangrike eerste stap om plaaslike, wetenskaplike, verantwoordbare navorsing te doen, eerder as die internasionale projekte waarby ons kerke tans gereeld inval.

Die navorsers was met reg “geskok” oor die bevindings van die navorsing. Hulle het baie meer negatiwiteit verwag. Hulle was verbaas oor die groot positiwiteit onder jongmense. Vandaar die titel van die boek: Skokkend positief.

Beteken die uitslag van die navorsing dat die kerk rustig agteroor kan sit? Dat niks hoef aandag te geniet nie? Nee! Lees gerus die boek en jy sal waarskynlik baie hê om oor bekommerd te wees. Of, dalk maak dit jou wel ook rustiger. Want daar is baie om van kennis te neem. En baie om te verander.

Hierdie Kruisgewys sit ’n paar perspektiewe uit die navorsing op die tafel en probeer ’n gesprek oor ons jongmense aan die gang sit, met die hoop dat dieselfde met die volledige navorsing van die boek kan gebeur. Hierdie is dus net die begin.

  • In die artikel Die hoe, wat, waarom en wie beskryf Elnerine Greeff van die departement kommunikasiewetenskap van Unisa en die statistiese konsultante Chris Smit en Mike van der Linde van die Universiteit Pretoria die navorsingsproses.
  • In Oorwegend positief oor die kerk skryf Malan Nel oor die redes waarom jongmense die kerk so positief ervaar. Dit het veral te make met hulle kerkbegrip, die positiewe invloed van ouers en predikante, sowel as die belydenis dat die Here Jesus die Here en Verlosser van hulle lewe is.
  • Thinus van Staden brei in Gesinne en vriendskap sterkste invloed uit oor die rol wat gesinne in die geloofslewe van Suid-Afrikaanse jongmense speel. Om die waarheid te sê, dit wil lyk asof die invloed wederkerig is, dat die kerk ’n positiewe invloed op gesinswees het. Dit kan egter ook beteken dat die kerk gesonde gesinne aantrek, wat dit vir ander gesinne moeiliker maak om in te skakel.
  • In Hoe geloof en moraliteit saamloop skryf Albert Coetsee oor die verstommende positiewe korrelasie tussen hulle belydenis dat Jesus Christus hulle Here en Verlosser is en die belewenis dat dit die belangrikste verhouding in hulle lewe is. Dit is egter ook duidelik dat daar ’n groot behoefte aan toerusting is.
  • In Die stand van geloofsvorming in die kerk skryf Lyzette Hoffman oor die belangrike rol wat ouers in geloofsvorming speel. Dit is egter ook insiggewend watter groot rol predikante in jongmense se geloofsvorming speel. Preke asook kategese (veral belydenisklas) speel ’n belangrike rol in geloofsvorming. 
  • Zander van der Westhuizen werk in Wat sê jongmense oor seks en hulle geloof? op ’n sensitiewe wyse met die waarnemings uit die navorsing wat dui op ’n hoë premie wat op geloof in verhoudings geplaas word, ’n baie lae persentasie wat saamwoon, en seksuele gemeenskap wat eerder binne gevestigde verhoudings plaasvind as in informele verhoudings. Dit is ook duidelik dat ’n nuwe manier van praat hieroor gevind moet word.
  • In Die kerk en gemarginaliseerde jongmense met risikogedrag werk Christo Thesnaar en Jurie Joubert nie net met die resultate van die ondersoek nie, maar met die uitdagings van die breër gemeenskap waarvan jongmense deel is. Die kerk het volgens hulle sonder twyfel ’n rol binne die publieke domein te speel – wat die onderwyssisteem insluit. Die kerk moet weer sy betrokke rol in die publieke domein ontdek en veral ook medeverantwoordelikheid aanvaar vir wat in die publieke domein gebeur.
Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (Die hoe, wat, waarom en wie.doc)Die hoe, wat, waarom en wie.docElnerine Greef, Chris Smit, en Mike van der Linde38 Kb
Download this file (Oorwegend positief oor die kerk.doc)Oorwegend positief oor die kerk.docMalan Nel213 Kb
Download this file (Gesinne en vriendskap sterkste invloed op geloofsvorming.doc)Gesinne en vriendskap sterkste invloed op geloofsvorming.docThinus van Staden546 Kb
Download this file (Hoe geloof en moraliteit saamloop.doc)Hoe geloof en moraliteit saamloop.docAlbert Coetsee38 Kb
Download this file (Die stand van geloofsvorming in die kerk.doc)Die stand van geloofsvorming in die kerk.docLyzette Hoffman30 Kb
Download this file (Wat sê jongmense oor seks en hulle geloof.doc)Wat sê jongmense oor seks en hulle geloof.docZander van der Westhuizen35 Kb
Download this file (Die kerk en gemarginaliseerde jongmense met risikogedrag.doc)Die kerk en gemarginaliseerde jongmense met risikogedrag.docChristo Thesnaar en Jurie Joubert36 Kb
Download this file (KG okt 2015.pdf)KG okt 2015.pdfHele Kruisgewys uitgawe4077 Kb
Download this file (boekbekendstelling.doc)boekbekendstelling.docSkokkend Positief bekendstelling30 Kb
Download this file (redakteursbrief.doc)redakteursbrief.docChris van Wyk31 Kb