AddThis Social Bookmark Button

kruisgewys-november-2014Dit is nie net gelowiges wat swaarkry onder die uitdagings van die lewe nie. Ook leraars ly daaronder.

Die gevaar is dan dat ’n mens “traag word om te luister,” soos die skrywer aan die Hebreërs dit by sy mense waargeneem het (Hebr 5:11). Die versoeking was daarom baie sterk by hulle om weer te fokus op die eerste beginsels van die geloof, om hulle “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (Hebr 5:12) te bevredig.

Op die langtermyn help dit egter nie om slegs op die basiese prediking van Christus te fokus nie (Hebr 6:1). Daarom roep die skrywer hulle op tot geestelike volwassenheid, om die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hulle oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van hulle geloof (Hebr 12:1-2). Hy is nie net God nie (Hebr 1), maar ook die Een wat vir hulle intree (Hebr 7:25), die Een in wie se hande die toekoms van die mensdom lê (Hebr 2), die Een wat die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek is (Hebr 7-8). Dit is hierdie diepsinnige denke oor die betekenis van Christus wat hulle sal help om te volhard op die pad waartoe God hulle geroep het.

Dit geld ook alle geestelike leiers en leraars. Bedieningsvaardigheid en bedieningsvreugde sal net kom as ’n mens fiks raak in die bediening en “vaste kos” eet. Dit is die enigste manier om ’n betekenisvolle, geseënde, gelukkige en vernuwende bediening te kan hê. Hierdie Kruisgewys fokus dus op die “vaste kos” wat volgende jaar by ons onderskeie vennote aangebied word.

Gerhard Botha skryf in ’n Veerkragtige bediening oor die fokus van Shepherd om leraars te help om standvastig en aanpasbaar in moeilike omstandighede te bly. Hulle werksessies sluit aspekte soos emosionele intelligensie, die bou van ’n persoonlike en bedieningsprofiel asook finansiële en aftreebeplanning in. Raadpleeg Shepherd se VBO-program vir detail.

Frederick Marais beskryf in ’n Leerbare gees is soos bekering leerbaarheid eintlik as ’n bekering, soos Calvyn dit ervaar het. Leerbaarheid is daarom die primêre fokus van die driedag-kursusse en werksessies van Communitas vir 2015. Raadpleeg Communitas se VBO-kursusse vir detail.

Nico Simpson en Wynand van Niekerk beskryf in Kategese se sewe fasette die veelkantigheid van kategese met drie doelwitte en vier innoverende metafore. Hulle aanpak fokus op geloofsvorming wat jongmense help om die uitdagings van die lewe met onderskeiding, goeie waardes en die ritmes en storielyne van die Bybelse geloofsinhoud aan te pak.

Aneleh Fourie-Le Roux skryf in Kerke, kanale van hoop oor die begeleiding van kerkleiers en Christene om draers van hoop en versoening in ’n wêreld met MIV te wees. Dit sluit fasiliteerdersopleiding en werksessies oor onderwerpe soos stigma, leef met MIV, geslagsgelykheid en preek oor MIV in.

Pieter Fourie skryf in HBI maak tuisstudie ’n maklike opsie oor die geakkrediteerde tweejaarkursusse wat Hugenote-Bybelinstituut in samewerking met die Sentrum vir Kontekstuele Bediening by die Fakulteit Teologie, Universiteit Pretoria, in Bybel- en Godsdienskunde, Jeugbediening, Sending, Etiek en Christelike Nood-en-Traumaberading (ook in Engels beskikbaar) aanbied.

Pierre Goosen se Sentrum begelei predikante tot groter selfinsig stel die Sentrum vir Predikantebegeleiding bekend as ’n reis saam met die Here, met die gemeente en gemeenskap en insig in jouself – wie jy is en hoe jy dinge doen. Deur leraars aan die hand van nege bekwaamhede te evalueer, en hulle groei-areas te identifiseer, word hulle konkreet in die daadwerklike ontwikkeling daarvan begelei.

 

Attachments:
FileBeskrywingFile size
Download this file (Veerkragtigheid in die bediening.doc)Veerkragtigheid in die bediening.docGerhard Botha28 Kb
Download this file (n Leerbare gees is soos bekering.doc)n Leerbare gees is soos bekering.docFrederick Marais24 Kb
Download this file (Kategese se sewe fasette.doc)Kategese se sewe fasette.docNico Simpson en Wynand van Niekerk32 Kb
Download this file (Kerke kanale van hoop.doc)Kerke kanale van hoop.docAneleh Fourie-Le Roux 31 Kb
Download this file (HBI maak tuisstudie.doc)HBI maak tuisstudie.docPieter Fourie32 Kb
Download this file (Sentrum begelei leraars tot groter selfinsig.doc)Sentrum begelei leraars tot groter selfinsig.docPierre Goosen24 Kb
Download this file (VBO Kursusse Communitas.doc)VBO Kursusse Communitas.doc 75 Kb
Download this file (VBO Program Shepherd.doc)VBO Program Shepherd.doc 98 Kb
Download this file (kg nov 2015.pdf)Kruisgewys November 2014Laai volledige Kruisgewys hier af7705 Kb